Woorde: Hein Eksteen Foto’s: Michel Dei-Cont & verskaf
As jy hou van skouspelagtige natuurskoon, soos James Bond langs kronkelpaaie wat deur groen weivelde gly wil rondrits, vertroetel wil word by verskeie spa’s, wyn (of boetiekbier en -jenewer) en kos uit die boonste rakke wil geniet en selfs jou eie forel wil vang, dan is Nottingham Road in KwaZulu-Natal se Middellande net die plek vir jou. Maar veral as jy aan trou dink, hoef jy nie verder te soek nie – dink net hoe treffend sal dit nie wees om die majestueuse Drakensberg as agtergrond vir jou troufoto’s te hê nie.

ʼn Klipgooi (6 km om presies te wees) van die dorp draai mens af na die statige, vyfster Fordoun Hotel en Spa wat beslis ʼn besoek werd is. Die eiendom is in die vroeë 1850’s toegestaan aan die Skotsman William Taylor. Aangesien die tonele in die Middellande hom herinner het aan die gebied waarvandaan hy kom, het Taylor sy verlange verdoof deur die plaas Fordoun te noem.
Ridders, adellikes en ander mense van aansien was daarna eienaars van die plaas totdat Jon Bates dit sowat twintig jaar gelede geërf het. Op daardie tydstip was dit ʼn melkboerdery.
“’n Watertekort het egter die einde van ons melkery en jersey-stoetery beteken, en ons het dele van die grond verkoop, die gasvryheidsbedryf betree en slegs basiese boerdery bedryf.” Jon Bates


Five winner get each a case of Darling Cellar wines, which include:
1 bottle MCC Blanc de Blanc Brut, 1 bottle MCC Brut Rose, 2 bottles Chocoholic Pinotage, 1 bottle De-Alcoholised Sparkly Rose and 1 bottle Old Bush Vines Chenin Blanc.
Click here to enter: https://grondtotmond.com/subscribe/
MINDER MELKBOERE, MINDER WERK
Omdat Fordoun naby die bopunt van die opvanggebied is, het dit tot die waterprobleme gelei. “In die vroeë 1990’s was daar ongeveer 15 000 geregistreerde melkboerderye in die omgewing. Sommige was klein met sowat 100 koeie. Van die groter plase het ongeveer 500 koeie gehad. Vandag is daar minder as 1 500 melkplase. Die ouens wat waterbronne het, kan nou hul weiding besproei en tot 1 000 koeie aanhou. Hierdie produsente kan steeds ʼn droë plaas, soos Fordoun, gebruik om verskalwers aan te hou. En, aangesien boerdery deesdae groot besigheid geword het en plase baie groter is, het die werklike aantal boere verminder na omtrent 10 persent van hoeveel daar 20 tot 30 jaar gelede was.
“Artemisia is ʼn tradisionele medisinale plant wat hier groei en wat Ouma voorgeskryf het as muti teen verkoue en griep.”
“Dit is alles wonderlik as mens voedselsekuriteit in ag neem. Die kleiner produsente soos ons kon nie meer wins maak nie en het besigheid verloor. Dus het ons ons hulpbronne ingespan om die Fordoun Hotel en Spa op die been te bring,” verduidelik Jon.

“Die nadeel is egter dat die kleiner produsente, wat nou nie meer sake doen nie, eens die werk verskaf het en nou sit ons met die gepaardgaande probleem van ʼn tekort aan werksgeleenthede.”
‘N HERBERG WORD GEBORE
Die herehuis, die melkery, die skure en ander ou geboue is omskep en vandag bied hulle een van die Middellande se voorste geriewe waar daar omgesien word na mense se welstand, konferensies en troues gehou word en waar daar ook ʼn kapel beskikbaar is. Boonop kan besoekers oorslaap in enige van die 22 luuksekamers – elkeen met ‘n individuele styl. Alternatiewelik kan hulle tuisgaan in een van die nege ten volle toegeruste selfsorgkothuise.
“My seuns, Andrew en Richard, is nou meerderheidsaandeelhouers. Hulle doen die werk en ek doen al die lekker dinge.”
“My seuns, Andrew en Richard, is nou meerderheidsaandeelhouers. Hulle doen die werk en ek doen al die lekker dinge. Vandeesweek neem ek byvoorbeeld teebome vir oliedistillering. Ons ontwikkel tans ʼn nuwe tee met Artemisia (wildeals) as basis. Dit is ʼn tradisionele medisinale plant wat hier groei en wat Ouma voorgeskryf het as muti teen verkoue en griep.”

Terloops, wildeals word nie net beskou as ʼn nuttige geneesmiddel vir lewer- en galprobleme nie, maar word ook gebruik as bestanddeel in die maak van absint, daardie sterk drank waarvan baie van die post-impressionistiese skilders in die laat-negentiende eeu soveel gehou het. Henri de Toulouse-Lautrec, die reus onder hulle (alhoewel hy klein van statuur was), het tot ʼn skermerkelkie Tremblement de Terre (Die Aardbeweging) aan homself opgedra. Dit was ʼn stywe dop wat bestaan het uit die helfte absint en helfte cognac. Henri het selfs ʼn tree verder gegaan deur sy kierie te laat uithol en dit vol absint gehou om seker te maak sy drankvoorraad raak nooit uitgeput nie. Dit is ironies dat die wildealsmedisyne vir die lewer nie tred gehou het met sy drankverbruik nie en hy dood is aan komplikasies wat verband hou met alkoholisme.
“Ons het ongeveer sewe verskillende teesoorte wat nou te koop is – ʼn nuwe onderneming wat ons gedurende die pandemie begin het. Op hierdie stadium is dit ʼn klein onderneming, maar groot ondernemings ontwikkel uit kleines.”
‘N KOPPIE TEE OF SEWE
Aangesien die boerderykomponent van Fordoun nie onder druk verkeer nie (dit is nie die hoofinkomstebron nie), word daar op natuurlike wyse geboer met die 150 beeste en vrylopende hoenders.
“Ons maak ons eie kompos en het nie kunsmis nodig nie.”
“Ons maak ons eie kompos en het nie kunsmis nodig nie. Ons het ook uitgevind dat natuurlike boerdery baie min water nodig het. En ons hotelgaste geniet dit om in ʼn mooi en natuurlike area soos hierdie te kan wees.”


Alhoewel dit mag klink of Jon se familie reeds geslagte lank boere is, is dit verbasend genoeg nie die geval nie.

“My agtergrond is in reklame en bemarking, maar ek was net gelukkig om Fordoun te erf. Ons het in 1990 hierheen getrek en ek moes op die harde manier leer hoe om ʼn boer te wees. Ons is gelukkig deel van ʼn baie ondersteunende gemeenskap en mens kan baie by jou bure leer. Ons het omtrent 12 jaar lank ʼn baie suksesvolle melkboerdery uitgebou en bedryf. Maar toe tref die waterkwessie ons,” vertel Jon.
Andrew sluit by die gesprek met sy pa aan en verduidelik hoe die werk tussen hom en sy broer verdeel word.
“Richard is verantwoordelik vir die hotelbestuur. Ek behartig die dag-tot-dag onderhoud van die hotel en sorg vir die dinge op ʼn plaas wat verkeerd kan loop verband hou. Soos jy weet, is daar altyd dinge wat kan verkeerd loop op ʼn plaas en dis my werk om dit uit te sorteer. Ek en my broer is ook al om die ander naweek aan diens om te sorg dat een van ons altyd beskikbaar is om na ons hotelgaste om te sien.”

Jon het eers met koeie met ʼn sterk nguni-bloedlyn begin, toe stadig oorgeskakel na ʼn meer Taurus-tipe bees en dit het gelei tot ʼn ras wat vinniger groei en beter wasdom bereik.
“Tans mik ons vir meer Angus- en Herefordvariëteite gemeng met die nguni-bloedlyn omdat hulle minder vatbaar is vir bosluise en rooiwater.”
Omtrent 350 hektaar is beskikbaar vir Fordoun se plaasbedrywighede. Dit klink dalk min, maar grootte maak nie altyd saak nie.


“Ons het 50 hektaar onder kikoejoe en 30 hektaar wat voorheen ou mielielande was. Ons omskep nou laasgenoemde in ʼn immergroen grasstelsel waar die beeste kan wei. Op kikoejoe wat onder besproeiing is, kan mens maklik wegkom met een koei per hektaar. Ons gras groei dus in die somer en ons koeie wei daarop tot omtrent in Januarie. Dan onttrek ons hulle en bemes die gras soveel ons kan om die kikoejoe weer kniehoogte te laat groei. In hierdie tyd hou ons die koeie in die veld totdat hulle kalf, dan stroop ons die weiding en dit onderhou ons tot die einde van Oktober. Teen daardie tyd sal jou veld goed vorder, veral die kampe wat gedurende die winter bewaar is. Dit werk goed.”
Net soos ander plase in die omgewing, gebruik Fordoun drie mobiele karavane waar die lêhoenders hul eiers lê wat aan die hotelgaste voorgesit word.
“Ons voorsien ook direk aan sommige plaaslike klante wat die koste van die eierproduksie regverdig. Dit is iets wat onmoontlik sou wees as ons deur ʼn middelman moes werk.”

Soos mens in die plek rondstap, is dit gou duidelik dat Fordoun se sukses toegeskryf kan word aan die bestuur se aandag aan detail. Dit is duidelik as mens kyk na die tuine, die geboue, die spa, hoe daar na gaste omgesien word, tot by die Skye Bistro Restaurant waar hoenderfilet met geskroeide saliebotter en aartappelfondant en ʼn ligte heuningsous aan jou voorgesit word.

Jon sluit weer by ons aan met ʼn T-hemp wat spog met ʼn gemeenskapsprojek waarby hy betrokke is. Die slagspreuk “Hlonipha” pronk op die hemp.
“Dit beteken ‘respekteer jouself en ander’,” verduidelik hy.
Namate jy tyd op Fordoun deurbring, kom jy gou agter dat die Bates-familie en hul personeel die motto uitleef.
EIENAAR: Jon, Andrew en Richard Bates | NAAM: Fordoun Hotel en Spa |
AREA: Nottingham Road, KwaZulu-Natal | PRODUK: Akkommodasie, tee, beeste, hoendereiers | KONTAK: https://fordoun.com/