Iemand plaas onlangs op Facebook ‘Mooi vergaan maar deeg bly staan’. Baie waar op alle vlakke. Toe ek jonger was, was ek bang vir deeg. Marinda Engelbrecht se webwerf https://marindakook.co.za het my in my laatmiddeljare aan die knie gekry.
“Moenie bang wees nie,” is hoe sy jou laat voel. Kosmaak gaan oor vreugde en samesyn. Dit maak op die ou einde nie saak hoe eksoties, hoe moeilik, hoe sondig of hoe duur ‘n dis is nie. En maak jou eie! Dis soms makliker, vinniger, lekkerder en goedkoper om souse en geursels tuis te maak – veral mayonnaise.
Marinda het met Grond tot Mond gesels oor haar boek, Marinda se Koskas asook haar nuwe kinderkookboek.
“Vir my is daar tussen ’n groef en ’n graf min verskil. Albei is ‘n plek van rus en gemak. Jy moet elke dag iets doen wat jou bietjie bang maak.”
Marinda Kook
“Die boek is ’n kookboek sonder fieterjasies. Die bestanddele is alles in jou koskas. Dis kos wat ons by ons ma’s en oumas kon geniet.”
Die boek se foto’s, dekor en uitleg gee mens reeds daardie prettige retro-gevoel. Dit neem jou terug na die 1960’s se crimplenestyl; nostalgie vir die pastel en die formica-tafels van ons jeug. Dis ‘n alles-in-een vir die kombuis – van ontbyt, sop en voorgeregte, brood en beskuit, slaai, seekos, vleis, groente, pasta en bygeregte, nageregte, terte, koeke en ander soetigheid. Geen ingewikkelde taal of jargon pootjie jou nie, en dis geskik vir elke dag se disse.

Die kinderkookboek Marinda se Kinderkombuis met sjef Sout en prof Pretzel is vanaf 20 November op die rakke.
“Dit is die heel mooiste boek ooit. Ek het die boek saamgestel uit die oogpunt van ’n ma, ouma en juffrou. Hulle leer speel-speel, ontwikkel vaardighede en het vet pret.”
Kookterapie hou bewese voordele in vir kinders. Bak-en-brou kan selfs help met wiskunde, wetenskap, lees- en skryfvaardighede. Hier leer jy saam met sjef Sout om ’n oondomelet te maak, brood te bak, taai hoendervlerkies te rooster, slaai in ’n bottel te pak, en die heel mooiste kolwyntjies te versier. Dit is sommer net ’n paar van die liplekker resepte met bestanddele wat in die kombuiskas is, en boonop baie veilig is om te maak. En dan is daar die eksperimente wat prof Pretzel demonstreer. Die kombuis word ’n laboratorium wanneer hy wys hoe om byvoorbeeld ’n kleureskouspel met melk op te tower, ’n eier in ’n glas water te laat val en kristalle te kweek.
NUWE PROJEKTE
Vroeg volgende jaar is Marinda op televisie met ’n splinternuwe reeks: Marinda se Stoofstories.
“Ek het ook pas vir Cipla ’n aktiwiteitsboek oor asma onder kinders saamgestel. Op die oomblik werk ek aan ’n kinderboek oor oogsorg onder kinders vir Zeiss.”

LEKKER SOUS
Vroeg volgende jaar behoort Marinda se souse by kettingwinkels beskikbaar te wees.
“Ek het besef mense weet nie wat om in ’n pot te gooi nie. Party gooi water, ander wyn en nog ander aftreksel. Ek het drie souse ontwikkel: een vir witvleis, een vir rooivleis en dan een kerriesous. Met een pakkie sous, 500 g vleis en 500 g groente maak jy ‘n heerlike maal, of gebruik dit in ‘n bredie van jou keuse.”
AGTERGROND
Marinda het grootgeword op ‘n plaas net buite Durbanville. Sy vertel altyd vir mense dat sy kon botter karring voordat sy kon lees. Sy het skielik bekend geword toe sy in 2013 ‘n finalis in die realiteitsreeks, Kokkedoor was. Sy en haar man woon tans in Yzerfontein.
Haar webwerf het resepte vir elke dag en sy praat graag onderaan die resepte met lesers wat vrae het.
Een van haar aanhalings is: “Vir my is daar tussen ‘n groef en ‘n graf min verskil. Albei is ‘n plek van rus en gemak. Jy moet elke dag iets doen wat jou bietjie bang maak.”
Soos Nataniël in sy voorwoord van Marinda se Koskas skryf: “Marinda werk – soos vandag – aan eenduisend projekte op ‘n slag en kook saans asof sy ‘n boodskap ontvang het.”
“Vir my is daar tussen ’n groef en ’n graf min verskil. Albei is ‘n plek van rus en gemak. Jy moet elke dag iets doen wat jou bietjie bang maak.”

WARMMELKSPONSKOEK
Lewer 1 groot koek
Bestanddele
Beslag
- 4 eiers
- 250 g suiker
- 280 g koekmeel
- 15 ml bakpoeier
- 2 ml sout
- 100 g botter
- 250 ml melk
- 5 ml vanieljegeursel
Versiersel
- 250 g botter
- 250 g versiersuiker
- 10 ml vanieljegeursel
- 30 ml melk
- Gerasperde lemoen- en suurlemoenskil, rumgeursel, sjokoladesplinters of karamel (opsionele geurmiddels)
Metode
- Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer twee ronde standaard-koekpanne.
- Klits die eiers en suiker saam tot liggeel en romerig.
- Sif al die droë bestanddele saam en vou dit by die eiermengsel in.
- Smelt die botter in die melk in die mikrogolfoond (moenie dat dit kook nie). Voeg die vanieljegeursel by.
- Meng nou die melkmengsel by die meelmengsel in.
- Verdeel die beslag tussen die koekpanne. Bak vir 25-30 minute tot gaar.
- Keer die koeklae uit op ’n oondrak en laat afkoel. Maak intussen die versiersel.
- Klits die botter en versiersuiker goed saam; voeg die vanielje by. Voeg dan net genoeg melk by om ’n werkbare tekstuur te verkry. Geur met enige van die opsionele geurmiddels.
- Smeer die helfte van die versiersel oor die eerste koek, plaas die ander koek bo-op en versier met die res van die versiersel.