Farm to Fork, farmers, Innovation
comments 2

Troeteldierkos gee boere geleenthede

Woorde: Renè Lötter Fotografie: Mia Truter

By Ostriland Meat in Citrusdal in die Wes-Kaap word volstruis en wildvleis van hoë gehalte vir supermarkte en uitvoer verwerk. Hulle vervaardig ook troeteldierhappies vir die Ostriland Groep se troeteldierkosmaatskappy, Nandoe, in Oudtshoorn. Nandoe vervaardig al sedert 2010 bederfhappies vir troeteldiere en het eers met volstruis-produkte begin en toe na hoender-, vark-, wildsvleis- en bees-produkte uitgebrei. Vandag kan hulle produkte in 800 veearts- en troeteldier-winkels in Suid-Afrika, Namibië en Botswana evind word, en van die produkte word na verskeie ander lande uitgevoer.

By Ostriland word elke deel van die volstruis gebruik vel, bene, vlerkbene, organe, selfs die slukderm.
Nandoe het in Oudtshoorn met volstruis-produkte begin en uitgebrei na hoender, vark, wildsvleis en bees-produkte.

Die Ostriland Groep produseer een derde van Suid-Afrika se volstruise. Die volstruise word tans onder kontrak deur ‘n derdeparty in Mosselbaai geslag. Ostriland is besig om hul eie state of the art abattoir buite Oudtshoorn te bou en beoog om aan die einde van die jaar daar te slag.

By Ostriland Meat word byprodukte van volstruise in troeteldier-treats vir Nandoe verwerk. Hierdie een word Stone stomach genoem.

“Ons gebruik letterlik elke deel van die volstruis, net nie die kop nie,” sê Ostriland se Carin-Marie Pienaar, die voedselwetenskaplike op die perseel wat Grond Tot Mond op ‘n toer van die fasiliteit neem.

Carin-Marie Pienaar, Ostriland Meat se voedselwetenskaplike.

BEDERFHAPPIES VIR HONDE

Drie van Nandoe se reeks van gesonde troeteldierhappies word op die Ostriland Meatperseel gemaak. Van die happies word met kruie en groente uit die omgewing gemeng, soos Nandoe se Chipolatas, Niblets en D’Lites Snack Chips wat ’n infusie van boegoe, sitrus, appel, rooibos, bottterskorsie en beet bevat. Ongeveer 60% van hulle Niblets- en Chips-reekse word na ander lande uitgevoer.

By Nandoe in Oudtshoorn word beeshoewe gestop met volstruislewer. Byprodukte soos pens, slukderms en bene (die kniebene wat as “knopkieries” bekend staan) word ook by Nandoe se fasiliteit in Oudshoorn gedroog. Ander produkte wat daar vervaardig word, sluit speelgoed van volstruisvere en byprodukte in.

Nandoe troeteldier happies word gemaak van volstruis gemeng/infused met kruie, tee of vrugte/ groente wat uit die omgewing verkry word.

Die gesondheidsvoordele van volstruis- en wildsvleis is welbekend. Dit is laer in vet en hoër in yster en proteïen as die meeste ander vleissoorte. Die kruie en tee word uit die omgewing verkry. “Rooibos en boegoe is volop in hierdie area,” sê Carin-Marie.

Rooibos word onder andere teen vel-allergieë en maagkwale aangewend. Boegoe word tradisioneel gebruik as ‘n kruiemiddel vir die spysverteringskanaal en urineweë. “Die sitrus-en-volstruis happies kan mikrobiese infeksies teenwerk, terwyl die volstruis-en-appel happies hondeasems kan verbeter.”

KETO VIR KEFFERTJIES

Ostriland Meat ontwikkel ook tans ‘n innoverende nuwe produk met hoë proteïeninhoud: ‘n kombinasie van die volstruiseier en die dop. Die produk bestaan uit ‘n gedroogte mengsel wat die volstruiseier en die dop insluit. Dit sal binnekort op die rak verskyn.

Nandoe bemark ook CBD-happies. Navorsing word tans gedoen om die moontlike gesondheidsvoordele van kannabidiol, wat in die cannabis-plant gevind word, te ondersoek. Nee, dit sal nie jou dier “hoog” maak nie, want dit word nie van die THC-element in die plant gemaak nie. Navorsing word tans wêreldwyd gedoen omdat daar aanduidings is dat dit angstigheid, inflammasie en pyn in diere kan verlig.

Toeteldier “chips” of chipolatas word gemaak van ’n eier-en-dop kombinasie, asook van volstruisvleis gemeng met plaaslike plante (kruie.groente,vrugte).
By Ostriland Meat word daar ook tans aan ‘n innoverende nuwe hoë-proteïen-produk gewerk: ‘n Volstruis-eier en dop kombinasie.

Kannabidiol (CBD) is ‘n fitokannabinoïed wat in 1940 ontdek is. Dit is een van 113 geïdentifiseerde kannabinoïde in cannabisplante, saam met tetrahydrocannabinol (THC). Van 2019 het kliniese navorsing studies ingesluit wat verband hou met angs, kognisie, bewegingsversteurings en pyn, maar daar is steeds onvoldoende bewyse dat kannabidiol effektief vir hierdie toestande is.

Die vermoë om die endokannabinoïde stelsel te help reguleer en die vrystelling van opwindende neurotransmitters te verminder, kan ‘n retrograde inhiberende sein tot gevolg hê wat chroniese pynreaksies verminder. Studies in honde wat ly aan chroniese pyn wat verband hou met osteoartritis het ‘n toename in aktiwiteisvlakke getoon by diere wat CBD-ryke voedselaanvullings ontvang. – Bron: Wikipedia

EIENAAR: Ostriland Meat NAAM: Nandoe AREA: Oudtshoorn, Citrusdal, Wes-Kaap PRODUK: Volstruisvleis, weens bewese gesondheidsvoordele, is nie net ‘n gesogte deli-produk nie, maar sy markgaping vir troeteldierkos het drasties tydens Covid-19 gegroei. Net die kop word nie gebruik nie.


Die “Pandemic puppy boom” skep nuwe geleenthede

Een van die veranderinge in verbruikersgedrag wat marknavorsers tydens die COVID-19- pandemie bespeur het, was die volgende: Mense het slordig in hul slaapklere begin rondslof en minder geld op seep en sjampoe spandeer, maar verkope van toiletware en bederfies vir troeteldiere het egter die hoogte ingeskiet. Die rede daarvoor is taamlik voor die hand liggend: Ons was ingeperk met troeteldiere as geselskap – en vir baie was hul troeteldier die enigste ander asem in die huis.

VERSOT OP JOU VIERPOOT

Mense het ook meer troeteldiere begin aanskaf, ten spyte van die ekonomiese resessie wat deur grendeltyd veroorsaak is. Die mark vir troeteldierkos, bederfhappies, speelgoed en “dieretoiletware” het drasties gestyg as gevolg van ‘n sindroom wat markontleders die Pandemic puppy boom noem. Noudat werkers moet terug kantoor toe, voel mense skuldig omdat hul viervoetige vriende alleen tuis sit en bewe van skeidingsangs. Verkope van “skuldgevoel treats” skiet dus die hoogte in.

Beeshoewe word ook vir party van Nandoe se troeteldier-speelgoed gebruik.

Daar is tans hondesjampoe, tandepasta, mooimaakgoed en happies op die rak wat vêr bo die meeste persoonlike begrotings is. Die troeteldier-mark in Suid-Afrika is R7,1 miljard (billion) werd. Volgens die datamaatskappy Euromonitor International word daar verwag dat die mark oor die volgende vyf jaar omtrent 2,5% gaan groei. Hiervan is hondekos die grootste segment. Met die stygende brandstofprys weens die Russiese inval van Oekraïne word daar verwag dat die finansiële krisis verder gaan verdiep maar beramings van hoe lank die krisis en sy impak gaan duur, is nog nie beskikbaar nie.

“Baie troeteldiereienaars sit hul troeteldiere op ’n rou dieet met aanvullende droë kos. Daar is definitief ook ’n trend waar mense meer plantgebaseerde of vegan/vegetarian

produkte soek.”

Die COVID-19-pandemie was ook ‘n finansiële slag vir baie mense. Ten spyte van swak ekonomiese groei en ‘n kleiner inkomste, het verkope in die sektor egter steeds toegeneem. Verbruikers het bloot na ‘n goedkoper handelsnaam afgeskaal en meer in die samestelling en gehalte van die kos begin belangstel. Medium- of laeprysklas honde- en katkos se verkope het gestyg en daar is groot mededinging met baie nuwe toetreders tot die mark.

Eienaarskap van kleiner honde of katte het skerp gestyg omdat hierdie huismaats minder spasie (en minder kos) nodig het, en die e-mark (internethandel in troeteldierkos) het verkope ook laat styg. Volgens Ayesha Makuyi van Euromonitor International, is hierdie “humanisation trend” van diere besig om toe te neem.

“Troeteldier-eienaars wil graag hul diere bederf. Medium-prysklas produkte word bo die lae prysklas verkies omdat verbruikers waarde vir geld wil hê. Mediumprys produkte word ook bo produkte in die premium-prysklas verkies omdat baie verbruikers afskaal. Die verwagting is dat produkte in die lae-prysklas egter ook groei kan verwag omdat baie handelsmerke na die troeteldier-sorg sektor uitbrei.”

WIE’S JOU BESTE VRIEND?

In Suid-Afrika is honde tradisioneel die gewildste troeteldiere, maar daar is ook ‘n noemenswaardige toename in kat-eienaarskap sedert die begin van die pandemie en dit lyk of hierdie neiging sal voortduur. Ander troeteldiere bly egter ‘n nismark.

Omdat verbruikers na meer bekostigbare produkte afskaal, bevoordeel dit reekse met lae en medium pryse. Ingemaakte nat kos het gewild geword, want dit bied verskeie porsies in een enkele blik en kan aangevul word met goedkoper droë kos om “lekker” kos vir katte en honde te meng. Daarenteen staan die sogenaamde premium handelsmerke voor die grootste uitdagings.

COVID-19 het ook e-handel in troeteldier-versorgingsprodukte versnel. Groot aanlyn kleinhandelaars het hul produkreekse gediversifiseer om handelsmerke wat deur verbruikers verkies word, in te sluit. Verder bied aanlyn kleinhandelaars gereeld promosies aan om verbruikers te lok. Dit is ‘n baie belangrike aspek wat e-handel in troeteldierversorging sal bevorder, aangesien verbruikers onder uiterste finansiële druk verkeer en afslag help om prysstygings te verlig. Die verwagting is dat daar ‘n toename in e-handel oor die volgende tydperk sal wees.

DIE BESTE RAAD IS: LEES DIE LYS VAN BESTANDDELE:

Jy sal heel moontlik ‘n bril nodig kry omdat die lysie meestal baie klein gedruk sal wees. Indien ‘n produk se bestanddele egter so klein gedruk is dat jy dit nie kan lees nie, los dit en koop iets “eerliker”. Duur is nie noodwendig die beste nie. Sommige ingevoerde hondekos is bloot duur omdat dit van Amerika, Kanada of Frankryk ingevoer is en daar is plaaslike produkte wat net so goed is.

WIE REGULEER DIE TROETELDIERKOSBEDRYF?

Die Landboudepartement sien toe dat wetgewing wat die veiligheid, gehalte en gepaste etikettering van dierekos reguleer, streng toegepas word. Invoere word deur SuidAfrika se plaasvoedingswet en die Pet Food Industry Association of Southern Africa (PFI) gereguleer. Die vereniging koop gereeld kos in die mark en laat dit dan in ‘n laboratorium toets.

HOE REGISTREER EK ‘N PRODUK IN SUID-AFRIKA?

Volgens wetgewing moet verskaffers geregistreer wees en eers ‘n monster van hul produk na ‘n laboratorium stuur sodat die inhoud ontleed kan word. Die nodige inligting is op die webwerf www.gov.za beskikbaar en die proses duur gemiddeld vier maande.

DIE ROU DIEET

Carin-Marie Pienaar van Ostriland is van mening dat die mark vir troeteldierkos, veral rou troeteldierkos, in Suid-Afrika nog gaan groei. “Baie troeteldiereienaars sit hul troeteldiere op ‘n rou dieet met aanvullende droë kos. Daar is definitief ook ‘n trend waar mense meer plantgebaseerde of vegan/ vegetarian produkte soek.”

Dit lyk dus asof daar nie net ‘n groeiende behoefte vir vleis, karkasse en organe in die troeteldier-mark gaan wees nie, maar produsente van groente en ander gewasse kan ook ‘n groter rol speel. Hoe honde oor meer groente of graan in hul dieet gaan voel, is egter oop vir bespiegeling.

DIE BESTE DIEET VIR HONDE VOLGENS PLAASLIKE KENNERS

“‘n Hond se naaste voorsaat is die wolf en dus vaar honde die beste op ’n karnivoriese dieet,” sê Rooies Dorland, veearts van Twin Oaks-praktyk en hospitaal in Rondebosch, Kaapstad. “Omdat hulle deur mense makgemaak is, kan hulle ook op ‘n omnivoor-dieet oorleef. Die noodsaaklike elemente in hul dieet is vleis (80%), bene (10%) en organe (10%). Plantmateriaal is opsioneel. Sekere tipes graan, soos koring, kan gesondheidsprobleme veroorsaak. Daarom is ‘n gebalanseerde rou dieet altyd die heel beste, want dit bevat min geprosesseerde kos en is die naaste aan ’n natuurlike dieet.”

WAT SÊ DIE VEEARTS?

Rooies waarsku egter dat alle rou kos nie noodwendig goed is nie: “Daar is goeie en swak rou hondekos op die mark – raadpleeg ‘n veearts om uit te vind watter produk goed gebalanseer is. Sommige veeartse is gekant teen rou kos omdat dit soms moeilik is om uit te vind of ‘n gegewe dieet goeie kwaliteit is.”

WAT IS IN MY HOND SE KOS?

Carin-Marie Pienaar van Ostriland (Nandoe Pet Treats) verduidelik dat die meeste troeteldierkos uit dierlike byprodukte of derivate (bees, skaap, hoender, volstruis, wild, ensovoorts) bestaan. “Dit is afvalprodukte soos longe, lewer, harte en pense wat gewoonlik die hoofbestanddeel is. Ander plantgebaseerde bestanddele soos vesel, graan en soja sal saam met dit gebruik word. Soms word vitamiene en minerale wat belangrik vir troeteldiere is, bygevoeg. Ek sou mense aanraai om navorsing te doen sodat hulle hul honderas se behoeftes kan verstaan.”

By Ostriland Meat se aanleg in Citrusdal word volstruiskarkasse verwerk.

Sy stel voor: “Lees die etikette van troeteldierkos om seker te maak wat daarin is asook die aanbevole hoeveelheid kos wat jy vir jou troeteldier moet gee. Dit word vir ‘n rede gegee. Besluit op ‘n dieet vir jou troeteldier en hou daarby. Troeteldiere kan ook allergieë hê. Raadpleeg eerder ‘n veearts indien jy onseker is of advies oor jou troeteldier wil hê.”

As ’n produk byvoorbeeld sê “BEEF dog food” moet dit volgens regulasies amper 100 persent beesvleis bevat. As die bewoording sê “Beef flavour” beteken dit dat daar eintlik net ’n baie klein hoeveelheid beesvleis in hoef te wees.

HOE OM DIE ETIKET OP JOU HOND SE KOS TE VERSTAAN

Wat beteken “30 persent proteïene” byvoorbeeld? Is die proteïene dalk eier, soja of perd? Selfs bekende hondekosverskaffers se mediakantore en webwerwe is vaag oor hierdie fynere besonderhede. Verstandige verbruikers moet krities kyk na die bewoording kyk. As ‘n produk byvoorbeeld sê “BEEF dog food” moet dit volgens regulasies amper 100 persent beesvleis bevat. As die bewoording sê “Beef flavour” beteken dit dat daar eintlik net ‘n baie klein hoeveelheid beesvleis in hoef te wees. Etikette kan baie misleidend wees. “Natural dog food” kan byvoorbeeld ‘n baie wye betekenis hê en dit geskep baie skuiwergate vir misleidende inligting.

Hier is eenvoudige raad van die American Kennel Club wat ook in die plaaslike mark geld: Die reël van 95 persent: Ten minste 95 persent van die produk moet die genoemde bestanddeel wees, byvoorbeeld, “Hoender vir Honde,” of “Salm-hondekos,” moet ten minste 95 persent onderskeidelik hoender of salm bevat. Daarbenewens moet hierdie hoofproduk ten minste 70 persent van die totale produk wees wanneer die bygevoegde water gemeet word. Volgens regulasies sal die oorblywende vyf persent van die bestanddele dié wees wat vir voedingsredes nodig is, soos vitamiene en minerale, en klein hoeveelhede van ander bestanddele. Die 25 persent-reël: As jy byvoorbeeld produkte met die naam “Beesvleisaandete vir honde”, “Hoender-en-soetpatat-entree” of “Lamsvleisete” sien, is dit ‘n voorbeeld van die 25 persentreël. As die genoemde bestanddele ten minste 25 persent van die produk uitmaak (sonder die water vir verwerking ingereken), maar minder as 95 persent, moet die produknaam ‘n kwalifiserende term insluit, soos ‘aandete’, ‘voorgereg’ of ‘skottel’.

Hoeveel moet ’n hond per dag eet? Die standaard is twee tot drie persent van die hond se gewig.

As die bygevoegde water bygetel word, moet die genoemde bestanddele steeds 10 persent van die produk uitmaak. As meer as een bestanddeel by ‘n “aandete” ingesluit is, moet die kombinasie van die genoemde bestanddele 25 persent van die produk beloop en in dieselfde volgorde gelys word as wat op die lys van bestanddele gevind word. Die “With”-reël: Wanneer jy ‘n hondekosetiket sien met iets soos “Doggie Dinner With Beef” daarop, beteken dit dat die “With Beef”- bestanddeel net minstens 3 persent van die produk hoef te wees. Die byvoeging van daardie een woord, “with” of “met”, verander die persentasievereiste van die bestanddeel in die kos dramaties. Dis ‘n goeie rede om aandag aan die produknaam te skenk. Die geurreël: As die etiket sê “Beesgeurhondekos,” dan is ‘n spesifieke persentasie (van die beesvleis) nie nodig nie, maar ‘n produk moet ‘n hoeveelheid bevat wat voldoende is om opgespoor te kan word. In hierdie voorbeeld moet die woord “geur” of “flavour” op die etiket verskyn in dieselfde grootte, styl en kleur as die woord “beesvleis.”

Yarrah is ’n graanvrye droë kos met hoender, vis, ertjies en lupiene wat geskik is vir volwasse honde. Beskikbaar by www.takealot.com. Montego Karoo se ‘nat’ kosreeks vir volwasse honde bied ‘n gebalanseerde maaltyd. Beskikbaar by Agrimark-winkels. Cool Dogs Ice Cream sluit laktose-vry joghurt met eendebors, of vars aarbeie of biltong(sonder speserye) in. Koop aanlyn by www.cooldog.co.za.

2 Comments

  1. Gerrit says:

    Kan ek die eienaar se nr kry asb.Sal graag inligting wil kry rondom die vleis.

Leave a Reply

Your email address will not be published.