Woorde: Danie Keet Fotografie: Mia Truter en verskaf
Dis 23:30 nm.’n Warm someraand in die Breëderiviervallei, sowat 10 km voor Robertson. Die hitte van die dag het ietwat bedaar – van ’n snikhete 42 °C tot ’n matige 27 °C. Dis parstyd in die Boland, maar dis dan in die middel van die nag?
En hierin opgesluit lê die geheim van die sukses van Graham Beck se Cap Classique-wyne: hulle pars die druiwe in die nag wanneer die temperatuur meer genadig is op sowel die produk as die mense wat dit moet oes.

BOLANDSE BORRELS
Graham het die landgoed reeds in 1983 bekom en het besluit om uitsluitlik Cap Classique-wyne te produseer. Graham en sy span, Pieter Ferreira, ook bekend as “Bubbles”, wat eers die keldermeester was, en Pierre de Klerk, die wynmaker, het saam met die landgoedbestuurder en wingerdboukundige, Pieter Fouché, begin om druiwe in die nag te pars om die beste Cap Classique te skep. Pieter Ferreira is onlangs aangewys as die bedrysfhoof van Graham Beck-wyne en Pierre as die keldermeester.

Pieter Fouché meen die gehalte van druiwe met ʼn nagoes is soveel beter as deur die dag, veral in die warm Robertson-klimaat. “As jy gisteraand by ons was, was dit teen 22:00 ongeveer 29 °C, wat relatief warm is. Tussen 17 °C en 18 °C is ʼn goeie gemiddelde temperatuur vir die druiwe, maar die temperatuur in die druiwekorrels is twee ure agter die aanvoelbare temperatuur en was dus nóg 2 °C warmer tydens die plukproses. Die koelste periode is hier rondom 04:00 in die oggend. Ons het die optimale venstertyd gesoek en besluit op die tye soos ons dit nou benut,” verduidelik hy.
MENS BÓ MASJIEN
“Vir ons is dit ook nie ʼn opsie om oes-masjiene te gebruik nie, omdat ons die hele tros pars. Graham het besluit dat indien jy die beste druiwe vir MCC wil hê, is nagpars die antwoord. Aanvanklik het ons met buisligte en klein lampies wat in die myne gebruik word, gewerk.

Ons het op ʼn stadium ʼn proefneming gedoen en een jaar ʼn beperkte hoeveelheid wyn van oesmasjiendruiwe en handgeplukte druiwe gemaak. Sowat vier jaar later het ons die twee wyne blind geproe en daar was ʼn baie duidelike onderskeid. Die ‘oesmasjienwyn’ het glad nie soos ʼn Graham Beck-wyn geproe nie. Daar is ook ʼn verskil tussen oggendson- en middagson-oeste en dit word dus apart gepars. Om ʼn topgehalteproduk te kry, moet jou plantmateriaal reg wees, jy moet dit reg bestuur en jou knipspanne moet ook met die proses saamstem en dit ondersteun,” vertel Pieter, wat al vir 25 jaar by Graham Beck-wyne betrokke is.

Pieter sê daar is ʼn gemoedelike atmosfeer in die wingerde en die snyspanne verkies om snags te werk. “Sommige mense sal argumenteer dat hulle weens die donkerte stadiger werk, maar die hitte bedags is nie juis ʼn motivering vir spoed nie en dit veroorsaak ook vertragings. Dis eintlik maklik om te sien dat almal rustiger en kalm is, en die ambiance wat die ligte en die gedruis van stemme in die nag skep, sorg vir ʼn besonderse atmosfeer,” beskryf hy hoe hierdie metode ’n positiewe ervaring vir die oesspanne is, terwyl trekkers rondom ons dreun en sy tweerigtingradio ononderbroke boodskappe tussen die groepe herlei. Met byna 40 sulke radio’s op elke skof, moet ‘n mens kophou oor wie met wie praat en waarheen die spanne en ligtoring verskuif word. Toesighouers by elke span weet presies wat om te doen, waar spesifiek blokke druiwe is en hoe om hul mense te beheer.

“Ek het nou 316 mense wat sny in spanne van 30 met een toesighouer by elke span. Dan sny ons 10 in ʼn ry – vyf links en vyf regs van elke ry. Ons hou maar die spanne klein, want mense kan in die nag wegraak, maar tog mik ons nogtans om so 160 t per nag te oes,” spog hy, wat terloops allergies vir alkohol is. Die ligtorings het 2 000 watt per toring en daar is vyf torings wat deur trekkers in die rye gesleep word. ʼn Ander trekker kom dan agterna om die mandjies vol druiwe op te laai.”


DIS BETER IN DIE DONKER
Die ligtesteller beweeg saam met die snyers en Pieter vertel hoeveel hulle met die ligte geëksperimenteer het. Té swak lig maak die snyers se oë seer en moeg, veral wanneer witdruiwe gesny word en ʼn groen druif teen ʼn agtergrond van groen blare gepluk moet word. Pinot noir pars vinniger tonne per hektaar want dan is daar ʼn swart druif teen ʼn groen agtergrond. Hulle gebruik ligte met 300 lumen wat ʼn sagte lig gee en langer hou. Sterker ligte met tot 450 lumen veroorsaak swart kolle voor die oë en veroorsaak dat die plukkers die druiwe mis vat.
“Sommige mense sal argumenteer dat hulle weens die donkerte stadiger werk, maar die hitte bedags is nie juis ʼn motivering vir spoed nie en dit veroorsaak ook vertragings.”
“Die daling in temperatuur van die dag na die nag waar ons nou is, is noemenswaardig – dit kan tot soveel as 21 °C haal en dit gee ons beter beheer oor die gehalte. As die heel trosse dan na die pers gaan, kan die gehaltefraksie beter beheer word. As die temperatuur bedags in die wingerd bokant 35 °C styg, begin die druiwe stres en word die trosse se toevoer na die plant afgesny. Sodra ʼn oesmasjien die druiwe raak, begin oksidasie plaasvind en verloor jy gehalte. Ons druiwe is dus nie onder daardie stres nie, wat gevolglik beter aromas en geure verseker,” sê Pieter Ferreira.

Die oesbedrywighede begin elke nag omstreeks 23:30 en duur dan tot die volgende oggend omstreeks 09:30, met twee rusperiodes tussenin.
’N KELDER VOL BOTTELS
Pieter vertel dat hulle net twee MCC-kultivars plant en oes – chardonnay, waarvan daar 70 ha is, en pinot noir, wat 50 ha beslaan. Kelderspasie bly maar ʼn uitdaging, maar danksy die nagsituasie kon hulle die infrastruktuur in die kelder aanpas. Omdat hulle ook druiwe van ander streke inkoop, moes hulle daarvoor voorsiening maak.

“Ons verkry gemiddeld 480 liter per ton en daarvan word die eerste 120 liter vir die maak van ons cuvée uitgehou, terwyl die res vir die MCC gebruik word. Maar ons cuvée word nie elke jaar gemaak nie – ons sal dit net doen as daardie byna 160 tot 180 karaktereienskappe in die druiwe voorkom,” sê hy.




ʼn Groot uitdaging vir die kelder is die berging van wyn aangesien hulle die eerste wyne eers ná 24 maande vrystel, en dan wel op tussenposes van 36, 48, en 52 maande. “Ons trots is gebottel in ons wyn en dit is waarvoor ons werk, dag en veral snags,” sluit Pieter Fouché met ’n breë bors af.

Die cuvée laat jou nekhare rys
Cuvée Clive is die landgoed se vlagskip Cap Classique en die beste wyn wat hulle in enige gegewe jaar kan maak. Pierre de Klerk, wynmaker, sê die wyn is gemaak as ‘n ode aan die flambojante en ekstroverte Clive Beck, Graham se seun, wat op ‘n vroeë ouderdom in ‘n motorongeluk oorlede is.


“Dit word ook nie elke jaar gemaak nie – net as al die omstandighede saamspeel en ons voel ons nekhare rys as ons die wyn die eerste keer proe,” vertel De Klerk.
“Met hierdie wyn is daar geen voorskrifte en geen boksies om af te merk nie. Oor die laaste 18 jaar het ons nog net 8 vrystellings van Cuvée Clive gehad – gemaak van watter wyn ook al in daardie jaar vir ons die beste is. Die laaste drie vrystellings was ‘n gehoute versnit van wyn uit Robertson en Darling. En dit het ons 5 maande geneem om op die regte versnit te besluit, waarna dit vir ‘n minimum van 5 jaar verouder word voor dit vrygestel word.”
NAAM: Graham Beck AREA: Robertson PRODUK: Cap Classique-wyn
KONTAK: market@grahambeck.com | www.grahambeck.com