News
Leave a comment

Ontwrigtende beurtkrag hou langtermynrisiko’s vir die landbousektor en ekonomie in

Die impak van die voortdurende kragonderbrekings op die landbousektor en breë ekonomie hou ernstige implikasies vir voedselsekerheid en maatskaplike stabiliteit in.

Beurtkrag dra by tot inflasie en kan tot gevolg hê dat boere minder aanplant weens stygende koste en onderbreking in aanplantskedules. Beurtkrag verhoog die koste van produksie vir boere in ‘n tyd waar Suid-Afrikaners verdere voedselprys stygings in in die gesig staar en onder ongekende ekonomiese druk verkeer. Dit veroorsaak meer risiko’s en onsekerheid.

Elektrisiteit is sentraal tot moderne boerdertypraktyke en die onlangse toename in beurtkrag het boerderybedrywighede ernstig ontwrig. Pompstasies, besproeiing-, verkoeling- en ander stelsels is almal afhanklik van kragvoorsiening. Terwyl sommige boere die middele het om van die kragnetwerk af te beweeg, is meeste nie daartoe in staat nie. Dit geld veral vir die mees kwesbare kleinskaalse boere. Boere verbeur hul waterkwota’s vir besproeiingsdoeleindes wanneer die krag af is – ‘n onverhaalbare verlies wat boerderye lamlê.

Boere rapporteer alreeds geweldige verliese namate verwerkingsmasjinerie, besproeiingstoerusting en ander masjinerie skade ly en tot stilstand kom as gevolg van onderbreking van die kragtoevoer. Met noodsaaklike stelsels wat gedurende die dag nie beskikbaar is nie, word daar van plaaswerkers vereis om na ure te werk. Sodanige oortydlone verhoog produksiekoste wat reeds aan die toeneem is.

Die kragonderbrekings veroorsaak ook vermorsing en finansiële verliese as gevolg van die impak op voedselberging. Kleinhandelaars begin om vars produkte af te keur, hoofsaaklik groente vanweë vertragings in aflewering en ontwrigting van die koueketting. Hierdie uitdaging sal verder vererger gedurende die somer. Dit sal die hoeveelheid voedsel wat beskikbaar is verminder en die koste daarvan vir die verbruiker verhoog.

Terwyl die Suid-Afrikaanse ekonomie gebuk gaan onder hierdie en ander uitdagings, is Agri SA en sy lede verbind tot samewerking met alle rolspelers om voedselsekerheid in die land te verseker. Dit vereis egter dringende optrede. Ons vertrou dat die Presidensie stabiliteit en veiligheid by alle kragaanlegte sal prioritiseer. Aangesien hierdie aanlegte geag word as nasionale sleutelpunte, rig Agri SA ‘n dringende versoek dat terreine van strategiese belang beskerm word teen sabotasie. Geweldadige optrede en kriminaliteit is besig om toe te neem en is ‘n tendens wat in landsbelang omgedraai moet word.

Agri SA ondersteun Eskom se besluit om sy hernubare energiekapasiteit spoedig te verhoog. Soos versoek deur Eskom, kan ‘n bykomende 4 000MW of 4GW wind- en sonkragopwekkingskapasiteit help om voorvalle van beurtkrag te verminder. Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie het ‘n kritieke rol te speel om die nodige beleidsinfrastruktuur vinnig in plek te kry sodat Eskom sy kapasiteit kan verhoog. Versuim om dit te doen hou ernstige ekonomiese risiko’s vir Suid-Afrika in, ook wat maatskaplike stabiliteit betref.


Leave a Reply

Your email address will not be published.