Stellenbosch, Wes-Kaap Fotografie: Michel Dei-Cont
Roulou Feta verteenwoordig bykans tien present van die land se fetaproduksie en kompeteer met die groot suiwelhandelsname, maar dis ’n klein, hegte span wat daagliks hier die melk verwerk tot uithaler-kaas. In 2021 het hul swartpeper-feta ’n goue medalje by The Aurora International Taste Challenge 2021 gewen.
21 000 Liter melk word gelewer deur drie melkplase wat ongeveer 4,5 ton fetakaas lewer. Die 16 000 liter weiwater wat daagliks in die fabriek gegenereer word, is uitstekende veevoer, want dit is ryk aan proteïne en voedingswaarde en dis veral in die winter die ideale voer-aanvulling.
Die melk word in 4 500 liter staalbaddens geroer, gespoel en verwerk voor dit in voedselgraad plastiekpype gedruk word en dit dan in wieletjies gesny word. Alles word met die hand gedoen en 25 werkers is by die kaasmakery betrokke.
Roulou het aanvanklik ook Cheddar gemaak, maar die proses is langer en daar is toe besluit om op feta te fokus. Die melk is binne 24 uur feta en kan dan begin verouder terwyl die soutwater goed in die kaas intrek.
Roulou is in voorste kettingwinkels beskikbaar en hulle verpak ook vir Spar en Checkers se huishandelsmerke en hulle voer uit na Namibië. Hulle vervaardig gewone feta, asook feta gegeur met swartpeper, gemengde kruie, basilie en songedroogte tamatie, sprietuie, lae-vet, grootmaat en Deense styl-feta. Die Deense styl word ingevoer. Feta gegeur met olywe en knoffel was ook deel van die reeks, maar het nie waffers verkoop nie en is toe gestaak.
Fetakaas se gewildheid is seisoenaal. In die somer maak almal slaaie en pizzas en word baie feta verbruik, maar in die winter neem verkope af wanneer almal om die sop- en brediepotte kuier. Dis wanneer Roulou hul voorraad opbou en instandhouding doen.
NAAM: Roulou Feta AREA: Stellenbosch PRODUK: Fetakaas