Woorde: Hein Eksteen Fotografie: Michel Dei-Cont en verskaf
Ná ’n besoek aan Margaret Roberts Herbal Centre in die Magaliesberge daal ʼn ongekende geluksaligheid oor my neer en ek hoor as’t ware Jopie Adam se woorde: “En wie weet, iewers is daar dalk ʼn land van rus . . . en as daar is, neem my saam.”
Tydens die heenreis na die bekende plaas het ek egter soos ʼn senuweeorrel gevoel. Miskien het my gemoedstoestand te make gehad met vooroordeel. Ek voel ongemaklik wanneer begrippe soos ‘healing power of the universe’ in gesprekke kom nesskop. En hierdie is ʼn kruieplaas wat gesondheidsprodukte vervaardig en waar alles uiteraard oor healing (beide gees en vlees) gaan.
Kom egter op die plaas aan en jy is omring deur kruieplante en bome en rustige werkers en ʼn helende rustigheid daal drupsgewys selfs oor my neer. Ná die legendariese Margaret Roberts se ontydige heengaan in 2017 het haar dogter Sandy die leisels oorgeneem. Hierdie stelling is straks nie heeltemal korrek nie. Sandy het immers vir meer as 32 jaar skouer aan skouer saam met haar ma, kruie, bestudeer, gekweek, herfatsoeneer en produkte vir hul winkel vervaardig. Die twee het immers saam boeke oor plante se geneeskrag geskryf.
KALMTE DAAL NEER
“Ek het reeds tydens my studentevakansies in die 1980’s op die plaas begin werk. En hier was niks op dié stuk grond nie. Ons moes elke gebou en muur oprig.” Sandy studeer aanvanklik onderwys, maar skakel oor na ontwerp. “En sommer met die intrapslag begin ek toe die restaurant op die plaas – ek dink mense in hul twintigs is soms baie braaf.” Sy vlug egter vir ʼn wyle na die buiteland om haar ervaringshorison te verbreed en keer daarna voltyds terug.
BEWUSMAKING BY SKOLE
“Ek het agter my hart aangehardloop. Maar alles waarin ek belanggestel het, was eintlik hier. Kreatiwiteit. Opwinding. Produkte. Gesondheid en genesing. Absoluut alles wat in ’n mens se lewe saak maak.”
Sandy besoek gereeld skole om die kruie-evangelie te verkondig en verduidelik aan die leerders watter rol plante in hul daaglikse lewe speel. Hulle was soggens hul gesigte met seep wat met plante gegeur is. Ontbyt bestaan gedeeltelik (soms geheel en al) uit plante se offerandes. Selfs jou gesonde en gebalanseerde toebroodjies kom grootliks van flora af. Al bestaan aandete uit rys, vleis en aartappels, is die eers- en laasgenoemde plantaardig – boonop word die vleis (terwyl die tjops nog op die veld loop) plantmateriaal gevoer. Wanneer hulle kort voor slapenstyd hul tande borsel, gebruik hulle gewoonlik ook tandepasta wat met kruie gegeur is.
“Ek en Margaret was ongelooflik na aan mekaar. Ons het ʼn hegte werksverhouding gehad en het nooit maar nooit baklei nie. Sy was my beste vriendin, vennoot in die besigheid en mentor met ʼn magdom kennis.”
Dit wil gedoen wees. Maar die redes vir hierdie gesonde verhouding is eintlik voor die hand liggend.
’N BOER WORD ’N SANGOMA
Margaret Roberts was ʼn visioenêr, om die minste te sê. En haar liefde vir plante het begin ontkiem toe sy by die hand van ʼn Skotse ouma grootgeword. Later, ná haar troue, word Margaret ʼn boer en herken sy die waarde van inheemse plante. “Uiteindelik het sy die eienskappe van elke denkbare plant geken en word sy ʼn tradisionele geneser, oftewel ʼn sangoma.”
Só beskik sy toe oor die vermoë om vloei- en ander rome van die kruie en inheemse helende plante te maak om die plaaswerkers mee gesond te hou. Ongelukke gebeur – snywonde, dorings en selfs slangbyte – en Margaret het basies die hospitaal na die werkers, buurboere en almal se kinders gebring. Laaste, maar beslis nie die minste nie, red sy boonop haar asmatiese seun se lewe.
“Margaret het die aarde en die grond diepsinnig verstaan en sy’t haar kennis met ons as kinders gedeel. In soverre dat ons lewens deur weerpatrone regeer is. Dit het gelei tot wat op die etenstafel sou verskyn – plantkosse met die hoogste voedingswaarde. Uiteindelik word sy een van die eerste organiese boere in Suid-Afrika.” Alles het egter nie seepglad verloop nie. Ná Margaret se gekompliseerde egskeiding, het sy nie ’n bloue duit besit nie.
PERFEKTE MIKROKLIMAAT
“En gedurende daardie jare was dit bykans onmoontlik vir vrouens om van voor af te begin. ʼn Vriend van haar het egter ʼn gedeelte van hierdie eiendom verhuur en Margaret soek toe ʼn stuk grond uit wat goed sou wees vir die verbou van kruie.” Hierdie ideale lap aarde se hellings kyk noord en beskik oor ʼn mikroklimaat. ʼn Klein stukkie aarde op sy eie, met reën wat niemand anders ontvang nie – nie eens nabygeleë bure nie. “Wanneer die bure haelstorms moet trotseer, bak ons in die son. Daarenteen het dit by geleentheid al hier by ons gesneeu, en elders nié,” sê Sandy.
Margaret kom gou agter haar kosbare en seldsame kruie floreer hier, maar trek elders swaar. Met hierdie wete verdiep haar belangstelling en toewyding. Sy beding ’n 25-jaarlange kontrak met Woolworths om nuwe produkte aan dié gesogte leweransier te voorsien.
“Woolworths het die publiek ingelig oor waar kruie in hul lewens pas en hoe belangrik dit vir hulle gesondheid is. Hierdie aksie draai toe die krane van bewustheid oop en baie mense het besef dat daar geen ander uitweg is nie.” Opvoeding en inspirasie met betrekking tot die gebruik van kruie is hoeka een van Margaret Roberts Herbal Centre se hoekstene. En Sandy en haar kinders het dieselfde lewensbenadering.
’N MA-EN-DOGTER-SPAN
“Ek was bevoorreg om my kinders gedurende hierdie tyd te hê en hulle kon in hierdie wonderlike besielende tyd die wêreld en die lewe leer ken. Terwyl Margaret die gesig van die besigheid was, het ek dinge op die agtergrond laat gebeur.” sê Sandy
Toe Margaret wegval, verander Sandy se lewe ingrypend. Skielik is haar besigheidsvennoot en geesgenoot nie langer aan haar sy nie. “En daarom sien julle hierdie mal vrou wat rondhardloop en produkte aflewer en toesien dat alles voor die wind verloop.”
Die kardinale aspek vir Sandy is egter die instandhouding van Margaret se erflating. Om hierdie gewigtige saak te ondersteun volg Sandy se agtienjarige dogter, Skye (Margaret se ewebeeld), as student reeds in Sandy se spore, soos sý ook in Margaret s’n geloop het. Om die waarheid te sê, Skye is reeds besig met ʼn reeks kruieprodukte wat nieumodies op die jonger geslag gemik is.
APOTHECARY
KOSMETIESE KRUIE
Margaret Roberts se kruiereeks lyk en ruik heerlik en sluit strelende velrome, badseep, potpouri-soute in. Dis ’n belewenis om tyd in die fisiese winkel op die plaas te spandeer. Gelukkig kan ’n mens ook die aanlyn winkel besoek en jou gunstelinge bestel.
SAADBANK VIR DIE TOEKOMS
Om die nalatenskap verder te verstewig begin Margaret en Sandy in 1999 ’n saadbank. Hulle het die idee tydens ʼn besoek aan Réunion en die Seychelle-eilande gekry toe hulle gesien het hoe hooggeplaastes sade in versteekte holtes plaas. Die verduideliking: hulle bewaar die eilande se plantkundige erfnis vir die nageslag.
“Daar en dan het ek besluit dit is presies wat ons in Suid-Afrika moet doen. Afrika wat eens die broodmandjie was. Met alles wat om ons verander – die politiek, die klimaat – is daar net een ding wat sterk op die been bly en dit is ons waardevolle saaderfenis.”
“Ken jy die storie agter Ring a ring o’ Rosie?”
En so begin hulle die saadbank. Maar om ʼn saadbank te begin is nie net om sade bymekaar te maak en weg te steek nie. Hulle moet lewenslank bewaar word. En dit is ʼn wetenskap op sy eie. Sade word tussen lae klei bewaar om hulle koel genoeg te hou om sodoende te keer dat hulle ontkiem. Sekere plante (iets amper soos kakiebos) word weer ingespan om insekte te bekamp. Die saadbank lyk soos ʼn groot bal. Dit kan dryf en omtrent alle aanslae weerstaan.
“Indien ons ʼn aardwye ramp sou ervaar, sal die bank wegdryf, uiteindelik oopbreek en die plante sal dan onder gunstige omstandighede ontkiem en mens en dier se voorbestaan verseker.”
GEE HAAR ’N ROOS
Ek stap deur die tuine. Verby Margaret se laventel, High Hopes-basilikum en gemmerroosmaryn wat sy ontwikkel het. Die Ou Roos wat sy eweneens aan die mensdom se voete kom neerlê het – een wat selfs geëet en waarvan konfyt gemaak kan word. In die winkel oorweldig die hoeveelheid en verskeidenheid gesondheidsprodukte.
“Terloops,” vra Sandy vir oulaas, “ken jy die storie agter Ring a ring o’ Rosie?”
Nee, nie eintlik nie.“Dit vertel van die Groot Plaag in 1665 in Engeland waar ʼn roosagtige uitslag die simptoom van die plaag was. Mense het bossies kruie in hulle hande en onder hul neuse gedra. Vat hulle aan iets wat besmet was en raak hulle dan weer aan die kruie, word hulle daardeur beskerm. En siende dat hoes en nies die finale simptome van die plaag was, they all fall down. Dit was egter deur die kruie verhoed.”
Heilsaamheid daal oor my neer. My vooroordele verdamp. Dalk is niemand so siek soos dié wat nie in genesing glo nie. Soos ons wegry – en alvorens Jopie Adam my meesleur na ʼn land van rus – besef ek waar die wortels my angs met die aankoms gegroei het. Dit is was nie omdat ek oor die legendariese Margaret Roberts moes skryf nie. Dit het onbewustelik te make gehad met haar nalatenskap. Te make gehad met die nalatenskap van die vele groot siele, soos Madiba en Beyers Naudé, wat deur ʼn ieder en ʼn elk beskerm moet word. Nie net beskerm word nie, ons moet daarop voortbou. Daarom het die wyse Sandy Roberts vir hierdie filistyn ʼn blom gepluk en die lig gewys.
Sandy Robers | Margaret Roberts Herbal Centre | Magaliesberg, Noordwes | margaretroberts@lantic.net | www.margaretroberts.co.za
I still live by Margaret Roberts’ dictums. Apart from the other books she authored, I have her little book of Herbs for Animals, not displayed with her other publications on this page. It has been a boon and especially in times of stressed animals.
I met Margaret at de Wildt, and we spoke ‘plants’. While I was shopping for plants to give to a friend – I live the Cape – she brought me a fairy baby as a gift. All she created pleased the eye.
Although she did not remember me as a fellow contributor to S A gardening and SA Garden/ Tuin Paleis, she was open, welcoming, and shared her knowledge freely.
I miss her being on the planet, she should have lived much longer and been revered so much more. To coin her favourite adjective, she was a precious human being. May her deal soul rest in the Gardens of Paradise (in between giving a little friendly advice to the heavenly gardeners). Thank you for writing this article, she deserves to be praised to the skies.
Dankie Hein vir die pragtige artikel wat mens woord vir woord mee sleur na die onthou van die besonderse plaas met sy masiewe bome, plante, die labyrinth, kapel en rustigheid. Daar waar ons telke male tree vir tree met ons geliefde Margie en Milo die hond kon wandel, altyd verstom oor haar ongelooflik kennis en aansteeklike entosiasme. Die lesings, Sandy se ongelooflike geurige skeppings in die winkel en restaurant. Dis beslis tyd vir nog n besoek. Baie dankie Sandy en Skye vir julle toewyding en harde werk.