Farm Tourism, farmers
comment 1

Wie is hierdie veelsydige Gordon Brace van Zulani Safari’s?

Woorde: Hein Eksteen, Fotografie: Michel dei-Cont

Jagter, natuurbewaarder, ekspedisieleier, duiker, oorlewingsdeskundige.

Op pad na Zulani Safari’s, ʼn wild- en jagplaas, tref Fase 4-beurtkrag ons, wat beteken ons kragtoevoer verdwyn vier keer per dag. Gemiddeld twee-en-ʼn-half uur op ʼn slag. Indien jy die som maak en jou matesis is beter as dié van ons weergalose voormalige staatspresident en jy kom nié by eleventy-seventy-trillion uit nie (kwansuis die bedrag wat deur hom en sy marionetmeesters as prestasieverbonde loon opgeëis is). Eerder veel meer per dag. En gewoonlik gedurende die dag.

Gordon se besondere genetika kom van sy ma af. Sy was die land se eerste kommersiële visservrou en nadat sy in haar winkel aangeval is, het die bure kom hoor of die aanvallers die aanval oorleef het.

Zulani laat weet ons vervroeg die onderhoud met ʼn uur. Hulle krag skop af om 09:00 en dan kan hulle nie die hek vanaf die lodge (agt kilometer weg) oopmaak nie. Ons maak dit op die nippertjie.

By die lodge se voordeur is ʼn koivisdam. Kleurvolle en rustige vissies. Dan kruip-gly iets wat soos ʼn likkewaan lyk die dam binne. Ek kyk verbaas na Gordon Brace, die eienaar. Gaan hierdie oerdier die visse voor ons oë opvreet? Gordon is min gepla en noem dat die likkewaan eintlik ʼn babakrokodil is wat hulle hier grootmaak totdat hy sy Elsa-oomblik in Born Free gaan beleef en terugkeer na die rivier toe.

Hierdie weeskrokodilletjie word deur Gordon grootgemaak totdat hy weer na die natuur kan terugkeer. Hy het egter nie ʼn naam nie, want sy weesheer wil nie te geheg aan hom word nie.

Ons stap deur die lodge se sitkamer. Jagtrofeë waar jy kyk. Alles só Afrika. In teenstelling met hierdie egtheid, ʼn tromstel. Nie Afrikatromme nie. Dié soort waarop Led Zeppelin se oorle John Bonham Whole Lotta Love sou kon uitgalm. Op die elegante en vredevolle stoep langsaan, waar ons om ʼn tafel stelling inneem, hang ʼn slaansak.

Ek kyk weer na Gordon. Gehard aan die eenkant, ʼn verfynde musikant aan die ander. ʼn Liefhebber van vrede en eindelose vlaktes en terselfdertyd een wat slaansakke op hul moer gee. Korter van statuur, maar met ʼn teenwoordigheid wat bykans oor die einders strek. Duidelik ʼn man vir alle seisoene.

PASMAATS: JAG EN OMGEWINGSBEWARING

Zulani Safaris bied ekosafari’s en jagtogte aan, dwarsoor Suider-Afrika, gekombineer met natuurbewaring. Já, jag en natuurbewaring loop hand aan hand – die een kan nie sonder die ander nie. Sekere mense wat inderwaarheid niks van omgewingsbewaring weet nie vermenslik diere en vra geskok, ‘Hoe kan enigiemand Bambi se mamma doodskiet?’ Natuurlik help die Disney-fiksering van diere boonop om die oningeligtes in hul argumente te versterk. Onthou egter in The Lion King word Simba as kroonprins van die oerwoud uitgebeeld. Dit, terwyl die arme hiënas die Nazi-duck-walk marsjeer en as Poetin se sibbe uitgekryt word – die hiëna se sosiale infrastruktuur is ligjare komplekser as dié van die leeu en ironies genoeg baie nader aan die mens s’n. Maar hiëna se kind maak eenmaal nie ʼn verleidelike poster-poppie nie.

“Kapenaars kom hier aan en bevraagteken die skiet van wild.”

Sedert die jagverbod in Kenia gedurende die 1970’s het wildgetalle met ongeveer 70 persent gedaal – merendeels toegeskryf aan stropery en ongebreidelde korrupsie. Net om die teenjagargument verder te voer, verduidelik Gordon dat sy skerpste kritici Kapenaars is. Ek en Mike (fotograaf), beide Kapenaars, vang mekaar se oog en voel skielik soos ongelowiges in ʼn tempel, veral omdat ons die vorige aand aan ladies-sized biefstukke weggelê het.

Gordon: “Kapenaars kom hier aan en bevraagteken die skiet van wild. Ek vra dan uit oor waar hulle dink hulle vleis vandaan kom en boonop dat wildsvleis diegesondste denkbaar is. Geen hormone, antibiotika en dies meer nie. Dan laat hulle ontnugterd weet hulle is vegetariërs. Dan verduidelik ek die volgende werklikheid: Om groente, vrugte en ander plantkosse aan te plant beteken jy moet die natuurlike omgewing ontbos en ploeg. Jy plant gewasse wat nie natuurlik in daardie gebied voorkom nie. Vervolgens werk jy tonne kunsmis in. Spuit verskeie chemiese middels. En daarmee saam is die ekosisteem tot niet. Bowenal moet ondergrondse water gepomp word. Water wat ons eintlik nie oor beskik nie. Wie, vra ek hulle, laat die grootste en mees vernietigende voetspoor agter? Bygesê, die mensdom moet eet en daarin lê ons omgewingskrisis.”

Hoe dit ook al sy, Gordon verduidelik die meeste van sy kliënte is van die VSA en Skandinawië afkomstig. “Europeërs en Russe kom ook gereeld, maar ons verkies die Amerikaners aangesien hulle keer op keer terugkom. Ons eko-safari’s bestaan beslis nie uit hierdie cattle-trips – waar groot groepe in busse geboender word – nie. Ons s’n is baie persoonlik en daarom lok ons kleiner groepe, soos families, en neem hulle na die bestemmings in Suid-Afrika en omliggende lande waar daar baie aktiwiteite is. Die Victoria-waterval met die brugsprong en witwatervlotvaart.
Die Okavangodelta met die olifant-interaksie en tiervisvangs. En Mosambiek om te snorkel en diepseeduik.” Terloops, Gordon is boonop ʼn diepseeduiker en instrukteur van formaat. En was gedurende 1981 vir 82 dae lank van die beskaafde wêreld afgesny op ʼn klein Indiese Oseaan-eiland – marooned on a desert island, soos Robinson Crusoe. Jagter, natuurbewaarder, ekspedisieleier, duiker, oorlewingsdeskundige. Wie is hierdie veelsydige mens?

KOOP VAN ‘N WILDSPLAAS MET ‘N DRAAI

Gordon is in Zambië gebore en het reeds op ouderdom nege saam met ʼn legendariese jagter begin jag om vleis aan die myne te voorsien. Daar verloor die familie weens onteiening alles wat hulle besit het en trek na die ou Rhodesië waar die Zambië-ervaring hom weer afspeel. “Daarna gaan ek op ʼn wêreldreis en het meer as 60 lande besoek. Terug in Suid-Afrika bekom ons ʼn vrugteplaas in Lydenburg se omgewing. Alhoewel die plaas baie suksesvol was, wou ek nog altyd ʼn wildsplaas besit het.”

Om Gordon se andersheid verder te beklemtoon, bekruip hy die koop van die wildsplaas met ʼn draai. Hy bekom toe eers ʼn katamaran (genaamd Zulani) om betalende gaste op duikekspedisies te neem. “Man, ek kan nie sê hoe dit my hart gebreek het om daardie boot te verkoop nie. Nietemin, toe koop ek hierdie 1500 hektaar plaas (ook genaamd Zulani) agtien jaar gelede. En dit is wat ek tot en met vandag doen.”

Gordon glo jag is noodsaaklik vir natuurbewaring en wildvleis die gesondste.

“Ons het merendeels vlaktewild soos koedoe, blesbok, blouwildebees, impala en vele ander. En ek verkies dit so. Ons gaste wil gaan fietsry en stap, maar sodra jy enige gevaarlike diere inbring verander alles. Hulle kan nie meer op hul eie uitgaan nie. Spesiale heinings moet opgerig word. Al daai dinge. Natuurlik besoek luiperds ons nou en dan vanuit die berge, maar hulle is nie ʼn probleem nie.”

Gordon neem ons op ʼn veldrit en verduidelik die koedoe staan nie verniet bekend as die grys spook nie. Bygesê, indien die bok in ʼn boomryke omgewing gejag word. Die dier hoor jou en verdwyn bloot. “Die blouwildebees se gehoor is weer uitstekend. Hy hoor jou stap tweehonderd meter ver weg en beweeg aan en behou daardie afstand. Indien jy hierdie diere op die vlakte skiet, is die storie natuurlik geheel en al anders.” Daar staan die bok in die oopte en kan oor ʼn lang afstand geskiet word. Hy skets die herkoms van die blouwildebees, “Die Boesmans vertel toe die gode die diere gemaak het, was daar aan die einde van die dag ʼn klomp onderdele oor. Die gode flans toe die stukke aanmekaar en daar is die blouwildebees.”

Zulani Safaris bied veilige akkommodasie omdat daar geen grootkatte op die plaas is nie. Nou en dan maak luiperds hulle verskyning, maar hulle weet om nie met Gordon se gaste skoor te soek nie.

Vlakvarke is weer die maklikste om te jag, want hulle reageer wanneer ander diere skrik. “Hardloop die bokke, hardloop hulle ook en hulle weet nie lekker in watter rigting hulle moet mik nie. Gereeld hol hulle reguit na die jagter toe.”

Van jag gepraat. Al die bokke wat op Zulani deur buitelanders geskiet word (en dit is omtrent almal) se vleis word aan plaaslike kleuterskole en ander skole geskenk om seker te maak die kinders eet behoorlik. Wild wat uitgedun word, volg dieselfde pad. Menige van Gordon se kliënte skenk ook jaarliks geld om die kinders se armoede verder te verlig. Een Amerikaner wat die skole besoek het, het gesien nie een van die kinders dra skoene nie. Hy het elkeen se voetgrootte gemeet en vir hulle skoene gekoop.

Ons doen aan by een van die veldlodges. Toegerus met ʼn lapa, kroeg en allerhande ander aspekte wat van ʼn kuier in Afrika ʼn Afrika-kuier maak. Eenkant staan ʼn knoppiesdoringboom.

“Hoe goed is jou laterale denke,” vra Gordon my. Soms beter as wat dit vir my gesondheid en verhoudingsharmonie goed is. Hoekom? “Hoe dink jy word die knoppiesdoring bestuif.” Deur bye, wil my instinktiewe antwoord oor die tong rol. Ek onthou egter hierdie is ʼn vraag wat die laterale denkvermoë beproef. Ek gee oor. “Deur kameelperde. Hulle vreet hoog in die takke en die stuifmeel sit aan hulle gesigte vas. Dan beweeg hulle na die volgende boom en laat weer daar stuifmeel agter. Die ander goeie ding is dat die bome looisuur afskei indien hulle met oorbeweiding bedreig word. Die blare word bitter en die kameelperde, omdat hulle nie gebiedsgebonde is nie, beweeg na ander gebiede toe.”

ROBINSON CRUSOE-ERVARING

Ek en Mike het ʼn afspraak met ʼn volgende pot beurtkrag op ʼn ander plaas en op pad terug na die lodge vertel Gordon van sy eiesoortige Robinson Crusoe-ervaring. “Ek was daardie tyd in die Karibiese eilande as duiker werksaam. Tydens ʼn besoek aan Londen verwoes nog een van die vele orkane die plek en ek kon nie terugkeer nie. Toe gaan ek Sri Lanka toe, aangesien daar goeie geleenthede vir watersport was. Daar aangekom, dreig die burgeroorlog om uit te breek en ek hoor toevallig van ʼn berugte karakter, Ken Oulton, voorheen woonagtig in Kenia waar sy familie ook alles verloor het, wat in die omte as sportvisserman werk. Hy was toe besig om sy boot gereed te kry om die eerste persoon te word wat die Indiese Oseaan in ʼn motorboot oorsteek.

“Die Atlantiese Oseaan is reeds op hierdie manier oorgesteek, maak nie die Indiese Oseaan nie. Daardie is Derdewêreld en niemand gaan jou help nie, aangesien die gebied vervuil is van seerowers wat hulle as hulpbehoewend voordoen.

“Alles het goed verloop totdat ons vanaf Maledive vertrek het. Daar tref die moeder van alle storms ons. Die dryfas buig en die roer breek af. Ons moes ʼn noodstuur prakseer en kon nie langer reguit stuur nie en ons brandstof word toe baie min. En daar sien ons iets op die horison. Is dit ʼn skip? Of land? Dit was toe land en toe weet ons waar ons is. Van daar kon ons seil na ʼn ringeiland. Dit was op Kersdag 1980 en ons het vir die volgende 82 dae daar oorleef totdat die Amerikaanse vloot ons gered het.”

MENEER BLOU

Ons stop vir oulaas by ʼn blouwildebees. Gordon verduidelik dat Zulani ‘wyse swerwer’ beteken en kyk lank en nadenkend na die dier. “Ons noem hom meneer Blou. Omdat hy so merkwaardig is.”

Ná ʼn dag saam met hierdie wyse swerwer – en dit waardeur hy in sy lewe gegaan het – is om oor beurtkrag te kla soos afvalliges wat met ʼn kilogram topgehalte wagyu in elke hand kerm. Ek en Mike bly die aand oor by die Die Drukgang en eet elkeen man-sized biefstukke om te vergoed vir ons afdwalings. Die volgende oggend vat ons die pad na Louis Trichardt. Ons is gewaarsku om aan die noordekant van die Soutpansberg te hou. Die suidekant is ewe aan die weg teen Golgota (wat hoeka in Aramees ‘skedel’ beteken) uit. Die noordelike pad is puik met kremetartbome, berge, vlaktes en vrede oral om ons.

Hierdie blouwildebees heet Mister Blue omdat hy so ʼn merkwaardige dier is.

MEAT FOR THE POOR

Gordon het ‘n paar jaar gelede Meat for the poor begin toe dit onder sy aandag gekom het dat die kinders in die skole en weeshuise in die nabygeleë dorpie min kos gehad het en dat die kos wat wel daar was boonop van swak gehalte was. Verskeie jagters wat met die boog jag het gevra of hulle koeie en ooie op hulle jagtogte kon skiet terwyl hulle wag vir die groot trofeejag (horings en velle kon steeds gehou word, indien hulle sou wou). Hierdie uitdunjagtogte is heelwat goedkoper en Gordon het besluit om dit aan hulle te bied. Dit het toe die vleis vir die kinders voorsien.

Die jagters het self die vleis na die skole geneem. Die reaksie van sowel die jagters as die kinders was oorweldigend en die gelukkige kinders het met ‘n gesing en gedans die jagters verwelkom. Meat for the poor het meer as 400 kinders op die dorpie van goeie gesonde vleis voorsien. Dit was nie lank nie of die geweerjagters wou ook aan die inisiatief deelneem en dit het toe ‘n groot deel daarvan geword. Baie vroue het al hul eerste Afrikadier gejag om ook die kinders op die dorpie te help.


Gordon Brace | www.zulanisafaris.com

Filed under: Farm Tourism, farmers

by

Hein is a wandering collector of stories who lives by the words of Lee Marvin in Paint Your Wagon, "I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back." He was born and bred in the Western Cape, but criss-crosses Southern Africa in this quest.

1 Comment

  1. Sybrandus Adema says:

    Sjoe, genoeg testosteroon in dié skrywe om n rugbyspan aan die gang te hou. Ek neem aan daar is nie genoeg organiese wildsvleis om 8 miljard mense te voed nie. En ons moet immers ook groente, vrugte en ander gewasse verbou. Dit kan organies en via permakultuur gedoen word, maar nie vir soveel mense nie. Die probleem bly dat mense die aarde vervuil met oorbevolking en energieverbruik. Ek steun sover moontlik wildsvleis, maar dis helaas net vir n elite klomp karnivore beskore….

Leave a Reply

Your email address will not be published.