farmers
comment 1

Hoe vererf die plaas? Beste tyd vir ‘n boer om ‘n plan te maak is nou

Boedelbeplanning van boere is tipies meer kompleks veral as gevolg van die feit dat die plaas bedoel is om oor generasies “in die familie te bly”. Die boer kan nie die plaas self aanwend of te gelde maak om kapitaal te voorsien vir aftrede of versorging van sy vrou na dood nie, en ’n gelyke verdeling van die boedel tussen kinders is meestal onmoontlik.

Stap 1 – ‘n volledige finansiële assessering van bates, inkomste, skuld, bereddersuitgawes, belasting en toekomstige uitgawes – is moeilik. Stap 2 is die moeilikste – om die familie om ‘n tafel te kry en te begin bespreek wie kry wat.

Grond Tot Mond het ‘n regskenner gevra om ‘n tipiese scenario te skets, waarin die eiendom reeds in ‘n trust registreer is.

Liezl Kritzinger, direkteur by Bill Tolken Hendrikse Ing, wat die boedel, trust en testamente afdeling van die praktyk bestuur, skep ter verduideliking ’n scenario waarin tipiese probleme uitgelig word en gee raad. Name is fiktief.

In hierdie scenario is die plaaseiendom ter sprake reeds in ‘n inter-vivos of testamentêre trust geregistreer en nie in die boer se eie naam nie.

Pieter De Klerk is 63. Hy is getroud en het drie kinders, twee seuns Karel en Jan met ouderdomme 33 en 30 en ’n dogter, Amelia van 25. Die hele gesin is gelys as begunstigdes van die trust. Dis ’n wynplaas wat al vyf generasies in die De Klerk familie is. Die oudste seun, Karel is getroud en het drie kinders. Hy het landbou studeer en boer reeds saam met Pieter. Jan het logistiek studeer. Hy werk tans in Johannesburg en is nog ongetroud. Amelia het wynkunde studeer en werk tans op ’n ander wynplaas om ondervinding op te doen. Sy is ook nog ongetroud.

Die plaas is in waarde by verre die grootste bate in Pieter se “boedel” (as ons boedel en trustbates saam in ag neem). Hy en sy vrou het oor die jare meeste van hul kapitaal in die plaas herbelê om dit op te bou, maar het ook ’n strandhuis in hul eie naam, en ’n beleggings- en annuïteit portefeulje. Hul voertuie is geregistreer in die naam van die boerdery-maatskappy. Hy het lewensdekking. Dit sal voldoende wees om die verband op die strandhuis en al die boerdery se oortrokke fasiliteite en uitstaande voertuig en toerusting finansiering te dek wat tans ’n beduidende gedeelte van die boerdery se maandelikse uitgawes verteenwoordig.

Sy finansiële adviseur sê die kapitaal is sy persoonlike boedel. Na aflos van die verband op die strandhuis, is dit nie voldoende om sy aftrede te befonds tensy hy met dieselfde inkomstestroom met ten minste inflasie gekoppelde verhogings aanhou werk tot hy 72 is nie en dan sal hul ook die strandhuis moet verkoop om hul kapitaal aan te vul.

Pieter se gesondheid verhoed dat hy verdere lewensdekking op die tydstip kan uitneem.

Pieter

1. Wanneer hy te sterwe kom:

• Wat gaan dit “kos“ om dood te gaan? Eksekuteursfooie, boedelbelastingopdekking betaalbaar aan die boerdery maatskappy, boedeladministrasiekoste, transportkoste van die strandhuis, ens.

• Hoe word sy vrou versorg? Hy voel die boerdery moet haar inkomste aanvul as haar eie kapitaal na sy dood nie voldoende is nie. Is dit ’n redelike verwagting van die boerdery (van Karel)? Watter effek sal die aflos van boerderyskuld hê op die kontantvloei in die boedery?

• Hoe moet hy regverdig in sy boedelbeplanning voorsiening maak vir al drie sy kinders? Karel boer reeds, sy gesin is gevestig en hul glo die plaas is hul toekoms. Amelia het wynkunde studeer, en kan beslis betrokke raak by die boedery, maar dis te vroeg vir spesifieke planne. Sy kan dalk nog trou en wegtrek?

Jan dink glad nie op die tydstip aan plaas toe kom nie, maar mag dalk later besluit hy wil op ’n manier ook betrokke raak? Hoe moet Pieter voorsiening maak vir die moontlikhede? Hoe gee hy ook vir Karel gemoedsrus dat sy toekoms beslis op die plaas gaan wees en dat hy nie bekommerd hoef te wees oor aansprake op die trust, boerdery kapitaal of inkomste deur sy broer en suster nie? Beteken dit Jan en Amelia erf dalk niks as dit so uitwerk dat Pieter en sy vrou se persoonlike boedels uitgeput raak voor sy dood? Wat gebeur as Karel na sy ouers se dood besluit om die plaas te verkoop? Moet Jan en Amelia dan kan deel in die trust kapitaal en indien wel, moet dit ‘n gelyke verdeling wees of moet Karel krediet kry vir sy jare diens op die plaas en tot watter mate hy dit in sy tyd daar verder opgebou het?

• Waar moet hy hierdie aspekte aanspreek? In sy testament, in die trustakte of in ’n wensebrief vir die trust?

2. As hy wil aftree:

• Pieter en Karel verdien ’n salaris uit die boerdery besigheid wat in ’n maatskappy bedryf word. Karel se salaris is tans nog baie minder as Pieter s’n.

• Pieter voel hy wil nou al minder begin werk, miskien drie dae per week.

• Die realiteit is dat Pieter waarskynlik nie dieselfde salaris kan verdien as hy soveel minder werk nie, want Karel mag dan ekstra hulp nodig hê op die plaas en dit gaan meer kos. Verder gaan hy ook meer wil verdien as die verantwoordelikheid van die boedery dan grootliks op sy skouers rus. Wie moet dus wat verdien? Wat kan die boerdery bekostig? Wat is die implikasies hiervan vir Pieter wat befondsing vir sy aftrede betref en vir Karel wat versorging van sy jong familie betref en vir die vooruitgang van die boerdery self?

• Bo en behalwe die salaris, bly Pieter en sy vrou in die groot plaashuis en Karel en sy gesin in ’n kleiner huis op die plaas, en alle dienste word gedek deur die boerdery, asook hul voertuie, petrol, onderhoud en versekering. Kan die boerdery bekostig om hierdie kostes te dra tot Pieter en sy vrou se afsterwe? Het iemand al die gesprek gehad rondom hoe lank Pieter en sy vrou nog in die groot plaasopstal gaan bly en wanneer hul na die kleiner huis trek sodat Karel en sy gesin in die groot huis kan intrek? Wat gaan gebeur as Pieter en/of sy vrou versorging nodig het en nie meer op die plaas kan bly nie.

Kyk die feite in die oë.

Daar is geen ooglopende en maklike antwoorde vir al die vrae nie en my raad is dat jul net eers die feite moet ontleed, begryp en aanvaar waar jul nou is en ’n plan saamstel van hoe om te kom waar jul wil wees.

So kan ‘n plan van aksie stap-vir-stap implementeer word:

Kry ’n kundige om ’n boedelontleding te doen en sit saam met die persoon, jul ouditeur en rekenmeester. Verstaan waar julle nou is en watter uitdagings die huidige situasie bied inaggenome almal se verwagtinge. Ongelukkigheid onder erfgename is gewoonlik omdat hy/sy ’n verwagting gehad het van hoe hy/sy by aftrede of na dood van ’n gade gaan kan leef, wat hy/sy gaan erf/op geregtig gaan wees, en dit dan nie op die ou end so gebeur nie.

Werk aan ’n realistiese plan vir aftrede wat werkbaar is vir die boerdery en vir die ouers, verstaan presies watter effek dood gaan hê op die langslewende ouer en ook op die boerdery. Betrek dan die kinders by die gesprek en verduidelik die planne en die redes hoekom dit so uiteengesit is. Hierdie kommunikasie het die groot voordeel dat dit verwagtinge na realistiese vlakke temper.

Maak die nodige veranderinge aan versekering (bv. as Pieter nie meer dekking kan uitneem in bg. scenario nie, kan hy oorweeg om die begunstiging van sy huidige dekking te verander sodat net ’n gedeelte van die boerdery skuld afgelos word en die boedery dan steeds beperkte maar hanteerbare skuld het na Pieter se dood, maar van die polis opbrengs begunstig kan word aan sy vrou vir haar versorging.)

Heroorweeg jul huidige bydraes vir aftrede.

Pas jul testamente aan in lyn met die ooreengekome plan.

Pas die trustakte aan indien nodig of stel ’n omvattende wensebrief op met uiteensetting van jou huidige plan/wense.

Maak seker jy weet wie die opvolgende trustees gaan wees na jou afsterwe, want jy moet vertrou hul gaan jou wensebrief met respek hanteer en uitvoer, maar vertrou ook dat hul kan afwyk indien omstandighede dit noodsaak, juis omdat jy hul oordeel vertrou.

Herooweeg jou plan ten minste elke paar jaar, want omstandighede verander en dis noodsaaklik dat jou plan dienooreenkomstig aanpas.

Dis op die ou einde net ’n bietjie moeite en beplanning om te verseker dat daar harmonie is in die familie en dat daar geen onverwagte krisisse opduik by aftrede of dood nie.


1 Comment

Leave a Reply

Your email address will not be published.