Agri-entrepeneur
Leave a comment

Sweetwater-kleppe les almal se dors

Deur René Lötter

Die gesogte Sweetwater-klep is deur ’n boer ontwerp, spesiaal vir boere.

Meer as 20 jaar gelede moes die Ingram-familie van Sweetwater-plaas noodgedwonge hulle eie balkleppe vir hul waterkrippe ontwerp. Woord van die klep se effektiwiteit het egter vinnig versprei en ander boere het daarin begin belangstel. Vandag inspireer hulle suksesverhaal ander in die landbou. Vele gelukkige klante besing Sweetwater-kleppe se lof op sosiale media. Een van die kommentare lui: “best ever… high flow and no more blocked pipes!” Nog terugvoering van ’n tevrede kliënt uit Namibië lui, “die patent is baie eenvoudig – hy gooi wanneer hy moet gooi en stop wanneer hy moet stop. So eenvoudig soos dit.”

Die familie se melkbeeste het in groepe van omtrent 40 gewei. Die beeste wou gewoonlik gelyk by die krip kom suip, nes ons mense ook mos maar. Die 20 mm toevoerpypie was egter nie groot genoeg vir water wat sterk moes vloei nie en die te klein flotterklep moes dus uitgedraai word. Daar was duidelik ‘n behoefte aan ‘n groter klep wat water ongehinderd en teen volle sterkte in die krip kon laat invloei. Hulle het kleppe vir hul eie gebruik begin maak.

Ben, wat die jongste van drie kinders was, het in 1980 by sy pa op die plaas aangesluit en die melkery uitgebrei. Maar die bedryf het veral in die Vrystaat begin swaarkry en in 2002 het Ben die melkery opgegee en oorgeskakel na Bovelderbeeste, skape en gewasse.

Maar in 2004 het iets gebeur wat dinge in ‘n nuwe rigting gestuur het: die eerste Sweetwater-vlotterklep word aan ’n boer van Zastron verkoop. Die Ingram-familie laat die klep in 2006 vir ’n periode van 10 jaar registreer, en intussen word OVK die eerste landboumaatskappy wat die klep in sy winkels verkoop.

Ben se seun MG, het ingenieurswese studeer en in 2013 sluit hy en sy vrou Elizma ook by die besigheid aan. MG is by die vervaardiging van die vlotterkleppe betrokke. Die ontwerp en vervaardiging is sedertdien verfyn en met hul vernuf word die klep deesdae met ’n lasersnyer uit vlekvrye staal gemaak.

Die kleppe is landwyd by koöperasies en landbouwinkels te koop, en nou ook by Agrimark sowel as Agriland-winkels, en selfs in Namibië beskikbaar!

KREATIEWE HOTSPOT

Sweetwater-plaas se naam is afgelei van twee sterk fonteine. Hier tref mens nie net ’n familie aan wie se planne en ywer nooit ophou nie, maar ’n familie wat hierdie waardes, vaardighede en werksetiek van ’n jong ouderdom af ook in elk van die nege klein kinders vaslê soos wat hulle byna daagliks leef in die lig van hierdie suksesvolle, innoverende en tog nederige groep mense.

Wat Sweetwater egter besonder spesiaal maak, is die feit dat dit regtig nie sommer net nog ’n plaas is nie, maar eerder ’n kreatiewe hotspot van innovasie, passie, liefde en drome. Nie net bied die vlotterklep-produksie talle werksgeleenthede wat ook vaardighede verskerp nie, maar tussen pa en seun maak spanwerk soveel verskillende drome waar.

Díe groot aanvraag na die kleppe het nie net in Ben se skoot geval nie; hy en sy vrou, Malie, wat die bestellings en verpakking hanteer, het self die land plat gery om hul produk aan boere, koöperasies en landbouwinkels bekend te stel en vandag pluk hulle die vrugte van hulle arbeid.

WERKVERSKAFFING IN MOEILIKE TYE

Die sluiting van die melkery destyds het amper veroorsaak dat baie mense hul werk verloor. Danksy die vlotterklep-vervaardiging is niemand egter werkloos gelaat nie. Aan die begin is die kleppe sommer onder ’n afdak gemaak en elke gaatjie nog met die hand geboor, maar vandag is die werkers almal opgelei in een van die produksielyne en word groot masjienerie gebruik om genoeg kleppe te kan produseer om aan die groot aanvraag plaaslik én internasionaal te kan voorsien.

Die Sweetwater-produk het al die basiese elemente wat gehalte waarborg: dis ‘n familie-besigheid met ‘n produk wat deur boere vir boere ontwerp is, en plaaslik vervaardig word.

Unieke eienskappe:

• Lewer hoë volumes water, ook in druk tye
• Boute van vlekvrye staal
• Elektrolities beslaan en powder coated
• Geskik vir beeste, skape, bokke, perde, honde en wild
• Verstop nie
• Duursame rubberklep aan die binnekant
• Kalk nooit vas nie
• Word stewig vasgeheg
• Kan volgens watervlak verstel word
• Standaard 8 mm groefdraad
• Vlekvrye staal balle op aanvraag beskikbaar

Nou ook in vlekvrye staal beskikbaar:

20/25 mm inlaat 1 Bar (10 m dam bo krip) lewer tot 42 liter per minuut
32/40 mm inlaat 1 Bar (10 m dam bo krip) lewer tot 120 liter per minuut


Kontak Sweetwater by sweetwatervalve@gmail.com of skakel: 084 500 1702

Leave a Reply

Your email address will not be published.