‘n Mosambiekse byeboerdery wat deur ‘n Suid-Afrikaanse byeboer begin is, is nie net besig om wêreldwyd aandag te trek nie. Die AbelhaMoz Projek is ook gereed om ‘n beduidende internasionale markaandeel met hul topgehalte produk te verower.
Die projek, wat geleë is in die suide van Mosambiek se Inhambane-provinsie, noord-oos van die hoofstad Maputo, verwerf toenemend bekendheid vir hul gesertifiseerde organiese, mediese-graad heuning wat met die beste heuning in die wêreld kan meeding.
Bestuurshoof Steve Joubert wys daarop dat AbelhaMoz-heuning deur drie toonaangewende instellings ontleed is: die Duitse gehalteversekeringsreus Intertek, die voedselpatogeenlaboratoroium SciCorp Laboratories in Pietermaritzburg en die Universiteit van Johannesburg.
Die drie instellings se uitspraak was eenparig: AbelhaMoz is een van die suiwerste organiese tipes heuning in die wêreld. “Ons produk is gemeet teen die drie hoogste globale organiese standaarde in die wêreld en dit het òf aan elke kriterium voldoen òf dit oorskry,” verduidelik Joubert.
“Daarbenewens is daar baie min gebiede in die wêreld oor met die potensiaal om hoë volumes onbesmette organiese heuning van sulke voortreflike gehalte te produseer.”
Joubert sê een van die geheime van die projek se sukses is die ligging van hul produkkorwe; in ‘n ongerepte omgewing meer as 200 km weg van enige besoedelende industrieë of landbouchemiese bedrywighede. “Die resultaat is voor die hand liggend: heuning wat gesertifiseer is as vry van enige swaar metale, genetiese modifikasie, plaagdoders, toksiese chemikalieë, salmonella of bysiektes soos Verroa Mites of Amerikaanse vuilbroed (jongbysiekte),” sê hy.
Op gelyke voet met Nieu-Seeland se beste
Joubert sê as ‘n mens AbelhaMoz-heuning met Nieu-Seeland se wêreldberoemde Manuka Honey vergelyk, is die enigste bestanddeel wat laasgenoemde produk beter maak ‘n organiese samestelling bekend as metielglyoksaal (MGO). “Ander tipes heuning bevat wel MGO, maar daar is besonder hoë vlakke daarvan in Manuka,” verduidelik hy. “MGO is een van meer as 200 komponente in heuning, waarvan meer as die helfte suikers is.”
Hy wys verder daarop dat globaal geakkrediteerde wetenskaplikes 14 elemente in AbelhaMoz-heuning as sterk natuurlike anti-karsinogeniese chemikalieë geïdentifiseer het. “Sodra hierdie bevinding deur kliniese proewe geverifieer is, sal ons in ‘n posisie wees om AbelhaMoz-heuning as ‘anti-karsinogenies’ te beskryf, eerder as om bloot te sê dat dit sterk anti-karsinogeniese elemente bevat,” verduidelik hy.
Nog ‘n faktor wat AbelhaMoz-heuning uniek maak, is dat die bye nie net op nektar en stuifmeel voed nie. Die meerderheid van die heuning word geproduseer deur bye wat op die afskeidings van ander insekte en plante, insluitend die seldsame heuningsampioen, voed.
“Heuningsampioene groei in oorvloed in ons woude en die bye voed op die afskeidings daarvan,” verduidelik Joubert. “Die heuning wat uit die heuningsampioen- en insekafskeidings geproduseer word, staan as ‘honeydew’-heuning bekend. Dit is ‘n baie besonderse tipe heuning wat baie gesogte medisinale bestanddele bevat.”
Verbeterde plaaslike tradisies
AbelhaMoz het sterk vennootskappe met tradisionele heuningversamelaars en gemeenskappe in die area gesmee. Hul doelwit hiermee, sê Joubert, is om die vernietigende impak van tradisionele metodes teen te werk deur die implementering van meer produktiewe, omgewingsvriendelike en finansieel lonende moderne praktyke. “In die verlede het tradisionele versamelaars oeroue metodes gebruik, insluitend die verbrand van die swerm met oestyd. Die resultaat van hul arbeid was ‘n gemiddeld van slegs twee kilogram heuning vir elke bykolonie wat tot in hul boomstamkorwe gelok is en hiervoor is hulle minder as $2,50 per kilogram betaal.”
Uitbreiding en Wêrelderfenis-status in pyplyn
AbelhaMoz beslaan ‘n area van 200 000 hektaar van ongerepte Mosambiekse woudgebied met 1 000 korwe wat elk tans ongeveer 30 kilogram heuning per jaar produseer.
Joubert voorspel egter dat die projek binne vyf jaar tot 20 000 korwe kan besit. “Hierdie groei sal van ons ‘n belangrike speler maak en ons hopelik help om een van ons hoofmylpale te bereik, naamlik om AbelhaMoz se heuningproduserende gebied as ‘n VN Wêrelderfenisgebied te laat verklaar,” verduidelik hy. “Dit is trouens ‘n sleuteldoelwit vir die langtermyn volhoubaarheid van die projek én om ‘n stokkie te steek voor die planne van enige industrieë of landbouchemiese bedrywighede met potensieel skadelike voornemens.”
Globale fokus
AbelhaMoz se teikenmark is hoë-inkomste organiese kleinhandelaars en internasionale farmaseutiese maatskappye wat die medisinale kenmerke van heuning hoog op prys stel. Daarom fokus die projek op potensiële kopers in die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Frankryk, die VSA, die Midde-Ooste en Indië, waar dit in Ayurvediese medisyne* gebruik sal word. Die groep verwag dat hul voorkeurproduk ‘n prys van meer as $50 per kilogram sal behaal.
Laeveld Agrochem: beskerm die wêreld se byebevolking
Corné Liebenberg, direkteur van Laeveld Agrochem (LAC), sê die hoofrede vir hul betrokkenheid is om die bye te help beskerm. “Teen die agtergrond van die vinnige afname in die wêreld se byebevolking, wil ons doen wat ons kan om dié kosbare spesie te help red,” sê hy.
“Bye is ‘n noodsaaklike deel van die voedselketting en daarom is hulle net so noodsaaklik vir die planeet,” verduidelik hy. “Sonder bye sou daar nie bestuiwing wees nie en sonder bestuiwing sou ons uiteindelik geen voedsel hê nie. Ons moet alles in ons vermoë doen om die spesie te red, anders is daar geen hoop vir die mensdom nie.”
Liebenberg wil in die proses ook die wanpersepsie aanspreek dat landbouchemiese maatskappye soos Laeveld Agrochem byebevolkings vernietig. “Waar dit ook al moontlik is, gebruik ons omgewingsvriendelike gewasbeskermingsoplossings as deel van geïntegreerde plaagbeheerprogramme, insluitend die gebruik van biologiese produkte,” verduidelik hy. “En ons is altyd op die uitkyk vir projekte wat daarop gemik is om die toekoms van die wêreld se byebevolking te beveilig.”
Nog ‘n faktor wat LAC se betrokkenheid by AbelhaMoz dryf, is die gemeenskapsontwikkelings- en werkskeppingspotensiaal van die projek. “Dit is vir ons ‘n uitstekende motivering om betrokke te raak. AbelhaMoz verskaf tans ‘n inkomste aan sowat 95 gesinne. Ons mik om hierdie syfer op te stoot waar, hoe en wanneer ons ook al kan,” sê Liebenberg ter afsluiting.
- Ayurveda is ‘n alternatiewe medisyne-stelsel met historiese wortels in die Indiese subkontinent. Die teorie en praktyk van Ayurveda is pseudowetenskaplik. Ayurveda word baie in Indië en Nepal beoefen, waar ongeveer 80% van die bevolking dit gebruik. (Bron: Wikipedia)