Sustainability
Leave a comment

Van die vullishoop tot in luukse winkels

Woorde: Danie Keet | Fotografie: Michel Dei-Cont

Die volle herwinningsiklus van plastiek-produkte – is iets waarmee Zibo Containers kan spog. En een van die min, en waarskynlik die enigste herwinnaar, wat plastiekprodukte in al sy vorms vir die plastiekverpakkingsbedryf herbenut.

Zibo se aanlegte vervaardig ongeveer 1 200 nuwe plastiekprodukte uit herwonne plastiek.

Enig in soort

Aan die gesels oor hul komplekse dog unieke onderneming, is die span by die Saxenburg-aanleg in Kuilsrivier. Hulle is Francois Keulder, die agri-bemarkingsbestuurder; Jaco Gelderblom, die herwinningsaanlegbestuurder, en Tanya Muller, wat deel is van die nasionale bemarkingspan. En dis gou duidelik dat hulle hul onderneming van bo tot onder ken as hulle die kringloop van afvalplastiek by hul aanleg verduidelik.

Ou plastiekbottels is ‘n groot deel van die afvalplastiek wat by Zibo verwerk word.

“Ons is een van die enigstes in die plastiekbedryf wat die hele siklus van plastiekverpakking-materiaal (bottels en thermoform-items) hanteer. Ons kry die meeste van ons grondstowwe – dis nou plastiek, natuurlik – uit stortingsterreine en ons verwerk dit dan weer tot bruikbare voedselverpakkingsmateriaal in ‘n verskeidenheid vorms en groottes,” beskryf Francois.

Die besigheid het in 1997 ontstaan toe die huidige besturende direkteur, André Smit, en sy vrou, Deléria, dit in ‘n ruimte so groot soos ‘n motorhuis begin het. Die onderneming het aanvanklik met 23 mense begin, maar weens uitbreiding moes hulle ‘n paar keer trek en het hulle in die middel 2000’s na die bestaande perseel verhuis. Zibo het nog twee herwinningsaanlegte, een in Blackheath en een in George.

Al die plastiekmateriaal word deeglik in ‘n laboratorium getoets voordat dit tot verbruikersprodukte verwerk word.

Meer mense, meer produkte

Zibo het nou meer as 1 200 mense in diens by hul vier aanlegte. Die Kaapse aanleg fokus hoofsaaklik op die vervaardiging van uitvoerpakmateriaal vir die landboubedryf en saam met die aanleg in Johannesburg vervaardig hulle ongeveer 1 200 produkte.

Die uitset van herwonne plastiekprodukte wat Zibo aan die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar stel, is massief. Baie van hul produkte word in die vrugtebedryf gebruik, veral die punnets waarin vrugte verpak verpak word.

Verskillende kleure plastiekkorrels word uit afvalmateriaal verkry. Dit word weer gemeng om plastiekhouers met verskillende kleure vir spesifieke klante vervaardig.

“Die onderneming is grotendeels ‘n familiebesigheid en dis hoe Zibo ook in die mark erken word. Ons volg die familiewaardes wat deur Andre en Deléria voorgehou word. Die meeste mense werk al baie lank hier, sommiges tussen 15 en 27 jaar. Johan, wat André en Deléria se seun is, bestuur die vervaardigingsaanleg in Johannesburg en Johan Lund, die tegniese bestuurder vir die groep, is hul skoonseun. Die res van ons is soos familie en ons noem onsself die ingekontrakteerde familie,” vertel Tanya met ‘n glimlag.

“Die onderneming is grotendeels ’n familiebesigheid en dis hoe Zibo ook in die mark erken word.”

“Die vrugtebedryf en vrugteprodusente is baie presies oor hoe en wat hulle in spesifieke punnets verpak wil hê. Die afgelope paar jaar het vars produkte wat in punnets verpak is, baie in gewild geraak. Ons vervaardig nie alleen hierdie punnets uit afvalplastiek nie, maar herwin ook die hitte-gevormde houers om dit weer in bruikbare pakmateriaal te omskep. Punnets vir landbouprodukte is van die belangrikste herwonne produkte wat ons vervaardig. Die punnets word gebruik vir steenvrugte, druiwe, bloubessies, aarbeie en talle ander produkte – dit is een van ons grootste reekse.”

Die plastiekbottels en ander -afval word eers in klein vlokkies afgebreek.

Maak die sirkel groter

“Omdat ons ‘n unieke resep ontwikkel het, kan ons die thermoform-produkte ook herbrnut om nuwe verpakkingsmateriaal vir produkte soos koeke, slaaie, vrugte, groente, vleis, toebroodjies ensovoorts te maak. Ons skep so ‘n sirkel-ekonomie binne die plastiekbedryf wat ongekend is in Suid-Afrika.”

Stap ‘n mens deur die aanleg, besef jy gou hoe kompleks en tegnies ingewikkeld die herwinnings- en vervaardigingsproses is. Masjinerie dreun die hele tyd terwyl daar mense op strategiese plekke in die produksiesiklus geplaas is om te sorg dat alles glad verloop.

Die bale saamgeperste afvalplastiek word met ‘n vurkhyser van die bergingsarea na die verwerkingsaanleg vervoer waar die verwerkingsproses begin.

“Die plastiek gaan deur ‘n hele aantal fases vandat die herwonne materiaal hier by ons aangekom het. Die afvalmateriaal word in bale of grootmaat sakke vanaf die versamelpunte by ons afgelewer. Daar is ‘n hele aantal van hierdie versamelpunte in die Wes- en Suid-Kaap, ook in Philippi en Ceres. Ons ontvang egter nie afvalplastiek van informele versamelaars of trolliemense nie. ‘n Groot gedeelte van die materiaal wat ons inkoop, is afvalplastiek wat op stortingsterreine versamel is. Ons ontvang dit dan van die versamelaars af wat dit in bale voorsien wat wissel in gewig van 150 kg tot 320 kg, afhangend van hulle vervoermoontlikhede,” vertel Jaco.

Die vlokkies afvalplastiek word in hierdie houers gesmelt in temperature van tot 200 °C.

Skoon plastiek

Jaco verduidelik dat die afvalplastiek deur drie fases van verwerking gaan. Dit sluit verskeie wasprosesse, dekontaminasie, chemiese reiniging en droogmaak in.

“Die bottels word eers deur masjiene uitmekaar geskeur, dan word die etikette verwyder, verskeie wasprosesse volg en die afvalplastiek word dan volgens kleur en digtheid gesorteer. In die laaste fase – en dit is waar ons van ander verskil – vervaardig ons weer bruikbare produkte wat aan internasionale standaarde voldoen uit die herwonne materiaal,” sê hy.

Anré Claassen en Ayanda Msingwa in Zibo se laboratorium waar streng vereistes gestel word voordat nuwe produkte van die herwonne plastiek gemaak word.

“Daar is drie kleurskakerings waarmee ons werk – natuurlik, aqua en blou. Verwerkte plastiek word in vlokkies verwerk waarvan die grootste 14 mm is. Ons meng die kleure om aan die klante se behoeftes te voldoen. Ons masjiene word volgens ‘n spesifiek resep ingestel om daarvolgens sekere plastiekkombinasies te vervaardig. Tussen 70% en 80% van die plastiekbottels word op hierdie manier vir hergebruik deur ons herwin en die feit dat ons thermoform-houers kan verwerk, gee ons ‘n groot voorsprong in die mark.”

Jaco Gelderblom, die herwinningsaanlegbestuurder (links), en Francois Keulder, die agri-bemarkingsbestuurder.

Voordat die vlokkies verder verwerk word in klein plastiekkorrels waaruit nuwe plastiek vervaardig word, word dit eers deeglik deur Anré en Ayanda in Zibo se laboratorium getoets.

“Indien ons enige fout vind met enige van vele aspekte, word die betrokke besending teruggestuur vir herverwerking. Ons kan elke vlokkie terugspoor na sy oorspronklike versender en ons dui dit ook so op ons finale produkte aan. Dit is uiters belangrik dat ons die oorsprong van elke produk kan volg, selfs nadat ons dit in nuwe formaat verwerk het,” verduidelik Anré.

Die vlokkies word weer gesorteer om verskillende kleurskakerings te skep vir die vervaardiging van verskillende produkte.

Sy beklemtoon dit dat verbruikers moet besef dat baie van die bottels wat hulle gebruik, oorspronklik uit ‘n stortingsterrein kom, maar met deeglike prosesse herwin is en tot ‘n nuwe produk verwerk is.

Koop aanlyn by www.zibo.co.za

“Ons is die enigste onderneming wat die volle siklus van herwinning bedryf,” beklemtoon Francois die belangrikheid van hul stelsels. “In die proses beskerm ons nie net die omgewing deur plastiek op groot skaal daaruit te verwyder nie, maar ons gee ook vir werklose mense die geleentheid om kos op die tafel te sit deur aan ‘n volhoubare projek deel te hê. Hulle kan tot R150 per dag maak deur plastiekbottels en thermoform-items bymekaar te maak en dit na ‘n versamelpunt te neem.”


Tel: +27 (0) 21 905 3050 | info@zibo.co.za | www.zibo.co.za

Filed under: Sustainability

by

Danie is an award-winning journalist with three decades of news writing under his belt. He has a special love for local news, having served as the editor of a community newspaper for seven years. He is has also written for most of the daily newspapers and a variety of online news platforms. People and what make them tick intrigues him, but he is also fond of wine, travel, environmental, investigative and a host of other stories. “Being in the outdoors, with people who has a love for nature in their souls, and to put those feelings and experiences into words, is the ultimate challenge to me as journalist.”

Leave a Reply

Your email address will not be published.