Monensien is ʼn antimikrobiaal wat dikwels by die dieet van kalwers op suiwelplase gevoeg word om ingewandsinfeksies te voorkom wat deur parasiete veroorsaak word en hulle te help groei. Maar om subterapeutiese dosisse van hierdie antimikrobiese middel by kalwers se kos te voeg kan weerstandigheid meebring teen E.coli, wat hulle siek maak en ook gesondheidsimplikasies vir mense inhou.
Melkboere moet dit derhalwe oorweeg om eerder ʼn mengsel van essensiële oliesamestellings by kalwers se dieet te voeg, sê Michelle Gouws, wat onlangs haar meestersgraad in veekunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Haar studie het een van die toptien-plakkaat-voorstellings uitgemaak by die International Association for Food Protection se Europese simposium wat van 3-5 Mei in Aberdeen in Skotland gehou is.

Gouws, wat tans aan haar PhD in agriwetenskappe by die US werk, wou vasstel of ʼn mengsel van essensiële oliesamestellings voldoende sou wees om as plaasvervanger vir die meer konvensionele monensien in die dieet van ongespeende kalwers te dien. Volgens haar het vorige studies getoon dat essensiële olies antimikrobiese en immuunversterkende eienskappe bevat en algemene gesondheidsvoordele vir ongesoogde kalwers, pluimvee, varke en beeste inhou.
As deel van haar studie het Gouws proewe op twee verskillende please in die Wes-Kaapse gedoen waar sy die groei, algemene gesondheid en vordering van die kalwers bekyk het om die voordele te bepaal van ʼn dieet wat monensien of ʼn mengsel van essensiële oliesamestellings (karvakrol, kapsaïsien en sinnamaldehied) bevat. Sy het ook antibiotiese vatbaarheid vir E. coli en Salmonella getoets, wat van die ontlasting van die kalwers geïsoleer is.


Die kalwers is ewekansig aan een van drie behandelingsgroepe toegewys – ʼn kontrolegroep; een wat ʼn vloeistofdieet met ʼn knoffelekstrak en ʼn vastekosdieet met ʼn mengsel van essensiële oliesamestellings gevoer is; en een wat monensien gekry het.
Gouws sê sy het nie enige verskil in die algehele groei, gesondheid en rumenontwikkeling (een van die maagkompartemente) tussen die drie groepe gesien nie, maar sy het wel gevind dat monensien en essensiële oliesamestellings ʼn impak op die vlak van antibiotikaweerstandige E. coli gehad het.
“Die groei- en gesondheidsvoordele van ʼn dieet met óf monensien óf essensiële olies was soortgelyk, maar ʼn dieet met monensien het die weerstandigheid van E. coli vir sommige antibiotikas verhoog.
“Om ʼn toename in multimiddelweerstandige E. coli op plase te voorkom stel hierdie studie voor dat melkboere die voer van monensien aan kalwers moet vermy en eerder essensiële oliesamestellings by hul dieet moet voeg.”
Maar Gouws benadruk die noodsaak van verdere navorsing met ʼn ander stel parameters en plaasbestuurstelsels om die voordele van ʼn dieet van essensiële oliesamestellings vas te stel.
Sy sê die misbruik en oormatige gebruik van antibiotika by vee is ʼn groot bron van kommer omdat dit tot patogene kan lei wat weerstandig is teen antibiotika wat om mediese redes belangrik is. Hierdie patogene kan deur besmette grond, water of kos na mense oorgedra word en kan maklik meebring dat die doeltreffendheid van antibiotika teen siektes afneem.
“Deur die risiko van verhoogde antibiotikaweerstandigheid van patogene by vee te verminder, kan ons moontlik seker maak dat antibiotika wat vir die behandeling van infeksies by mense gebruik word, doeltreffend bly.”
Monensien word in die Europese Unie verbied weens kommer oor toenemende weerstand teen antibiotika by vee.
Gouws wys daarop dat monensien een van die voerbymiddels is wat in die Europese Unie verbied is weens kommer oor toenemende weerstand teen antibiotika by vee.
“Die soeke na alternatiewe voerbymiddels vir kalwers se dieet wat groei bevorder en siektes verhinder, het derhalwe meer intensief geword.
“Weens die verband tussen die gebruik van lae konsentrasies antibiotika en meer multimiddelweerstandige bakterieë, moet programme vir toesig oor die oormatige gebruik en misbruik van antibiotika in groot kommersiële suiweloperasies in werking gestel word.”
Volgens Gouws is sulke toesigprogramme nodig omdat baie van die antibiotika wat vir vee gebruik word, nie streng gereglueer word nie en maklik oor die toonbank gekoop kan word.
Sy sê samewerking en die deel van kennis tussen veeartse, boere en die dierevoedingsbedryf kan ʼn afname in die gebruik van antibiotika aanhelp en die ontwikkeling van antimikrobiese weerstandigheid by plaasdiere voorkom.
Middag,
In die artikel word daar heeltyd verwys na die olies van die plante. Het julle dalk die proewe ook gedoen met die plant self. Want dit is makliker vir die boer om die plant te oos en daan te maal en met die diere se lek te meng. As om die loes tekoop
Indien die voorstel soos hierbo mintlik is , wat sou die mengsel verhouding wees.
Dankie.