Farm to Fork, News
Leave a comment

Van watter grond kom die kos in my mond?

Moderne verbruikers het toegang tot ‘n magdom inligting oor watter impak die produkte wat hulle eet op die planeet het. Benewens die koolstof-voetspoor en volhoubaarheid, wil hulle ook weet hoe eties die produsent se verhouding met werkers is of hoe gesond die produk is.

‘n Nasie in Gesprek paneelbespreking by Nampo 2023 het gefokus op veranderende tendense in verbruikersvoorkeure. Hierdie voorkeure is veral belangrik in die uitvoersektor.

Uitvoere speel ‘n kritiese rol in Suid Afrika se agri-sektor en dis belangrik dat produsente, asook die hele waardeketting daarvan kennis neem. Bykans alle produkte wat na die Europese Unie uitgevoer word, word verbruik deur ‘n goed ingeligte mark.

Die plaaslike mark moet ook nie onderskat word nie en produsente en winkeleienaars moet hul vinger op die pols hou van die lae-inkomste verbruiker se begroting en voorkeure.

Daar moet ‘n kollektiewe poging aanwend om op hoogte te bly van wat ons kopers wil weet, en dit verskil van bord tot bord, van Beijing tot London tot plaaslik.

GG Alcock, die skrywer van Kasinomics het aan die paneel vertel dat daar in Suid-Afrika bykans ‘n half-miljoen informele verkopers van groente en vrugte is. In die Durban-area alleen is daar 120 verkopers wat gekookte mielies verkoop. Dit is 28 ton mielies ‘n dag, ter waarde van ‘n miljoen rand per week.

Die Spaza mark is ook omtrent R150 biljoen ‘n jaar werd, en dit sluit mieliemeel in. Die kitskos mark verbruik ook miljoene rande se mieliemeel en pap.

Johan van Deventer, afgetrede hoof van Freshmark, meen dat beurtkrag het veroorsaak dat kitskos of etes wat gereed is om in die oond vinnig gaargemaak te word, van die rakke afvlieg.

Die middelinkomstegroep is onder druk. Hulle het bietjie wegbeweeg van kos wat reeds voorberei is. Hulle is gewillig om self die skil, kap en voorbereiding te doen. Die laer inkomste groepe soek nou, meer as ooit voorheen, waarde vir geld.

In die laaste 30 jaar is aartappels steeds nommer een, gevolg deur uie en tamaties. Wat vrugte betref is appels in eerste plek gevolg deur piesangs en dan sitrus.

Daar is ‘n groeiende begeerte onder verbruikers vir pitlose produkte. Jou top inkomste groep wil ‘n meer gesofistikeerde produk koop. Hulle sal bv. ‘n Woolworths produk koop want dit bied groter verskeidenheid en gerief.

Marina Fourie van Red Meat Industry Services het spelers in die waardeketting herinner dat Suid-Afrika ‘n geweldige diverse verbruiker-sektor het en dat ons moet onthou dat eie voorkeure glad nie die meerderheid se voorkeure is nie. Keuse van vleis word ook nie net bepaal deur prys nie. Sy voel dat daar in Suid-Afrika baie opvoeding oor vleis gedoen moet word. Nie net oor die voedingswaarde nie maar ook oor etiese praktyke.

Wolfe Braude van Agbiz meen dat omdat Suid-Afrika soveel kosprodukte vir internasionale markte groei, dit krities is dat ons ons waardes na gelang van hul waardes aanpas. Ons moet nie net op datum bly met die eise van ons tradisionele uitvoermarkte nie, maar ‘n oog op Asië en die Midde-Ooste ook hou.

Internasionale verbruikers stel ook belang in waar hulle kos vandaan kom en ‘n sosiale media teenwoordigheid van ‘n produsent met ‘n handelsmerk, gee verbruikers die nodige inligting op ‘n informele manier.

Kompetisie van ander lande is sterk en sertifisering-strukture verander gedurig. Suid-Afrika kan steeds goed meeding wat prys en gehalte betref. Maar dit word nie makliker nie. Selfs die manier hoe ‘n plaas bestuur word is nou op rekord. Hierdie sisteme is gedurig aan die verander. Die industrie moet dit voortdurend monitor.

Professor Naushad Emmambux van die Universiteit Pretoria het uitgebrei oor die InnofoodAfrica projek wat Afrika-gewasse in Ethiopië, Kenia, Suid-Afrika en Uganda ondersoek. Dit gaan optimale oplossings vir gewaspraktyke en verwerking van gewasse tot voedsel en bio-verpakkings via nuwe waardekettings na markte ontwikkel en demonstreer. Die projek wil voedingsgebalanseerde voedselverbruik in stedelike Afrika verbeter en geleenthede skep om die nuwe voedselprodukte op internasionale markte bekend te stel.

Leave a Reply

Your email address will not be published.