Louise Viljoen is stigter van Ouma Swesie se Spens, sedert 2014 in Darling in die Wes-Kaap baseer. Louise se passie vir kos kom van haar ma, wat in die spysenieringbedryf was. Sy het lekker kos herinneringe van haar kinderjare.
“Die idee van ingelegde knoffel produkte het gekom gedurende ‘n naweek met my dogter, ook betrokke in die voedselbedryf. Nadat ons marknavorsing gedoen het, het ons besluit om die mark te betree.
Baie mense word afgesit deur die reuk en smaak van knoffel. “Dit was my missie om met ons ingelegde knoffel die hardheid en reuk van die rou knoffel, (wat meer smaak soos ‘n ingelegde ui) te elimineer om dit meer gebruikersvriendelik te maak.”
Louise plant nie meer self haar knoffel nie. “Ons het voorheen vir jare die rou knoffel wat ons geplant het, na die groentemark gestuur. Met die droogte so ‘n paar jaar gelede, en ander fassette van die boerdery wat baie water benodig, en net boorgate wat water voorsien, moes ons kyk na ander opsies hoe ons die produk kon maak werk. Die uitdop is geweldig arbeidsintensief, selfs al het ons industriële ‘knoffel skoonmakers’ (garlic peelers) gebruik wat ons ingevoer het. Ons moes dus besluit wat dit meer koste-effektief sou maak. Die knoffel word tans uitgesoek en aangekoop van verskillende boere waarna dit aan ons gestuur word.”
SWART KNOFFEL
“So ‘n paar jaar gelede, in die buiteland, het ek op swart knoffel afgekom, en was absoluut gaande daaroor. Daar het ek ook ‘n wêreldkaart gesien wat aandui hoeveel rou knoffel globaal verbruik en verbou word. Dit was interessant dat ons Suid-Afrikaners bitter min knoffel verbruik. Ek kon ons nie eers sien op die kaart nie. Dit het my gemotiveer om voort te gaan met my produkte en mense meer bewus te maak sodat meer mense knoffel sal gebruik en geniet.”
Black Garlic (Swart Knoffel) is rou wit knoffel wat met humiditeit en temperatuur vir ‘n spesifieke periode gefermenteer word. Tydens die proses word die knoffel swart, en behou sy natuurlike suikervlakke, terwyl geen preserveer- of enige bymiddels bygevoeg is nie. ‘n Studie wys dat swart knoffel ryk aan aminosure is en dubbel die aantal antioksidante verskaf as dié van wit knoffel. Swart knoffel het ‘n balsamiese, melasse-smaak en ‘n taai “drop” (liquorice) tekstuur. Deur die proses word dit reukvry.
“Dis ongelooflik hoe dit mense se aandag trek. As ek ‘n fees of uitstalling doen, doen mense navraag daaroor. Baie is nie bewus dat daar so ‘n wonderlike produk op die mark is nie, veral nie in Suid-Afrika nie. “Ek glo baie koop dit uit nuuskierigheid, maar ook omdat dit so ‘n ongelooflike lekker smaak het en veelsydig is. Dit laat ook geen “reuk” as jy dit eet nie. Alhoewel baie sjefs reeds bekend is met die produk, is dit meestal die gewone verbruiker wat dit koop of bestel.
SOU BOERE ANDER PRODUKTE VAN DIE UIE FAMILIE OOK KAN FERMENTEER?
Baie groente word in pekel fermenteer/preserveer. Louise is nie seker dat die uie-familie op dieselfde manier as swart knoffel fermenteer kan word nie. (Sien die Maillard reaksie) “Dit sou vir hulle ‘n trial and error toets wees om die beste manier te vind.”
WAARDETOEVOEGING
Louise se produkte is ‘n les in hoe mens knoffel kan diversifieer in spesialiteitstipes. “Ons ingelegde knoffel is met die hand uitgesoek, ingelê, en hand verpak. Dit het geen preserveermiddels nie en is geskik vir deli-verspreiding. Wat ons laat uitstaan bo mededingers, is dat ons ‘n besondere verskeidenheid ingelegde knoffelprodukte het met interessante kombinasies van bestanddele en geure wat saamsmelt en unieke produkte word. Dit moet ook gerieflik vir die verbruiker wees om te gebruik.
Louise se begeerte is om om heerlike produkte te skep wat selfs die strengste kritikus verlief maak op knoffel. “Ek wil lewe in kos blaas met ons infusie-knoffelreeks wat in alle resepte gebruik kan word. En as dit ‘n happie is, om kliënte die beste uit elke hap te gee of selfs hierdie wonderlike produkte te deel saam met ander kos- en knoffel liefhebbers, nes ek!”
MARK VIR PLAASLIKE-VERBOUDE KNOFFEL EN MEDISINALE PRODUKTE GROEI
Produksiekoste is hoog want dis arbeidsintensief, het bemesting, besproeiing en plaagbeheer nodig. Maar knoffel is aanpasbaar en rypbestand. In Suid Afrika word baie van ons knoffel ingevoer omdat daar nie genoeg hier produseer word nie. Ingevoerde knoffel word egter bestraal sodat dit nie patogene inbring nie en dit kan gesondheidsvoordele belemmer. Tydens Covid19 was daar ‘n skerp aanvraag vir knoffel en gemmer. Medisinale produkte met knoffel toon massiewe groei. Die Suid-Afrikaanse Knoffelkwekersvereniging lig kliënte ook in oor die gesondheidsvoordele om verkope te help. Volgens die departement van landbou kan die mark vir medisinale knoffel produkte ‘n massiewe toename in aanvraag beteken. ‘n Gulde geleentheid vir plaaslike boere met die regte plan.