Deur Isabeau Joubert Botha
Aan die voet van Kasteelberg neffens Riebeek-Kasteel is daar ‘n klein olyfboerdery wat ‘n gróót verskil maak. Die Goedgedacht Trust boer al drie dekades met hoop én impak om die Swartland ‘n beter plek te maak vir landelike gemeenskappe. Vanjaar is dié olyfboerdery geseën met ‘n rekord-oes.
Volgens Pieter Brand, Goedgedacht se plaasbestuurder, is die oes van 150 ton olywe nie net hul tweede grootste ooit nie, maar ook hul hoogste gemiddelde oes-opbrengs teen 17% per blok. Die oes het ‘n rekordvolume van 27 000 liter ekstra suiwer koudgeparste olyfolie gelewer het. Goedgedacht se grond beslaan 164,5 hektaar, waarvan 36 ha olyfbome, hoofsaaklik Frantoio- en Mission-kultivars vir optimale olieproduksie. ‘n Span van sowat negentig seisoenwerkers het in April binne een maand die olywe met handharkies en nette geoes.
VIER JAAR VAN HERLEWINGSBOERDERY LEWER RESULTATE
Goedgedacht is in hul vierde jaar van herlewingsboerdery wat hul olyfboorde aansienlik verbeter het. “Ons bome vertoon beter, stres nie so maklik in die hitte nie, terwyl ons ook minder pesprobleme het,” sê Brand. “Ons olyfgehalte het verbeter en ons kry deurlopend ‘n hoër opbrengs as toe ons konvensioneel geboer het.”
Voorheen was Goedgedacht se gemiddelde oes 72 ton, terwyl vanjaar se 150 ton nader aan hul vorige hoogtepunt van 185 ton in 2022 is. Hulle olyfolievolume het gegroei van die vorige hoogtepunt van 25 000 liter in 2022 tot 27 000 liter vanjaar. Volgens Brand wissel oesopbrengste tussen streke, maar is sowat 10 ton olywe per hektaar ‘n goeie standaardgemiddelde.
“Waar ons twee tot drie ton olywe per hektaar afgehaal het, het ons vanjaar vyf tot sewe ton geoes,” sê Brand. “Sommige produsente oes 12 tot 15 ton, dus is daar vir ons nog baie groeipotensiaal. Ons 17% gemiddelde oes-opbrengs per blok is ‘n goeie verbetering op ons vorige gemiddelde van 14% tot 15%. Sommige blokke het tot 22% gelewer, dus mik ons vir 18% tot 25% in die toekoms.”
Goedgedacht plant nou nuwe olyfkultivars soos Koroneiki en Arbequina, waarvan die bome kleiner is en die olywe ‘n hoë olie-inhoud het. ‘n Deklaag van kartonbokse, strooi en ou olyfpulp help om grondgesondheid te aktiveer, humus-inhoud te verhoog en grondvog te beskerm. Dexter-koeie, Loman-hoenders en swerms tarentale boer saam. Goedgedacht benut ook hule olyfboorde om mense in die gemeenskap op te lei in boerderypraktyke soos die snoei van olyfbome, wat verskil van die snoei van ander vrugtebome.
WILLOW CREEK SPOG MET GOEDGEDACHT SE TOPGEHALTE-OLYFOLIE
Olywe is in 1998 vir die eerste keer op Goedgedacht gepars, maar word sedert 2022 aan Willow Creek Olive Estate toevertrou, wat alle sertifisering hanteer en Suid-Afrikaanse sowel as internasionale markte bedien.
Eleanor Stoker, Hoof Uitvoerende Beampte van Willow Creek, sê sy is opgewonde oor die herlewingslandboupraktyk wat Goedgedacht oor die laaste jare toepas. “Die opbrengs hiervan is indrukwekkend, insluitend die hoeveelheid vrugte aan die olyfbome en die volume wat Goedgedacht kan lewer,” sê Stoker. “Daarom het ons besluit om Goedgedacht se olywe apart van ander klein produsente te pars en as topgehalte koudgeparste ekstra suiwer olyfolie onder Willow Creek se handelsmerk te bemark.”
BORG ‘N OLYFBOOM EN BOER SAAM OP GOEDGEDACHT
Die olyfbome op Goedgedacht wat duisende jare oud kan raak, is ‘n simbool vir volhoubare impak in die Swartlandse gemeenskappe. Enigeen kan ‘n verskil maak, soos die Nobel-pryswenner Desmond Tutu wat ‘n olyfboom op Goedgedacht geborg het. Teen R700 per boom, ontvang borge ‘n persoonlike plaatjie op die gedenkmuur en ‘n uitnodiging om die plaas te besoek. Lees meer by https://www.goedgedacht.org/donate-dedicate-an-olive-tree/.
HELP OM KREATIEWE OPLOSSINGS VOLHOUBAAR TE MAAK
Boerdery en gasvryheidsaktiwiteite is noodsaaklik om die Goedgedacht Trust se ontwikkelingswerk moontlik te maak. Die vlagskipprogram Path Onto Prosperity (POP) sorg vir die behoeftes van kinders in verskillende stadiums van hul lewens, van die eerste 1 000 dae tot vroeë volwassenheid (22 jaar). Goedgedacht bedryf ses POP-sentrums, in Riebeek Kasteel/Esterhof (sedert 2010), Riebeek-Wes (sedert 2012), Koringberg, Chatsworth en Riverlands (sedert 2015), asook in Porterville (sedert 2018).
Volgens Deon Snyman, die besturende direkteur van die Trust, is dit hulle missie om aan kinders en jong volwassenes geleenthede te bied om gesonde, selfversekerde, goed opgeleide en vaardige lede van hul gemeenskappe te word. “Donateurs help ons om daadwerklik ’n verskil in die lewe van minderbevoorregte gemeenskappe te maak deur middel van vroeë kinderontwikkeling, graad R-klasse, vakansieprogramme, oueropleiding, gesinsondersteuningsgroepe, ons Care for the Planet-inisiatiewe asook ons olyfboord.”
‘n Beperkte hoeveelheid olyfolie kan direk van die plaas aangekoop word. Vir meer inligting oor fondsinsameling, konferensies, troues en akkommodasie op Goedgedacht, kontak Nadia Samuels-Zwaan, die fondsinsamelingbestuurder, by +27 (0)74 925 177 of fundraising@goedgedacht.org.
Besoek die webwerf www.goedgedacht.org en volg @GoedgedachtTrust op Facebook, Instagram en LinkedIn om op hoogte te bly.