Luukse vrugte, wat voorheen slegs in Asiese markte te vinde was, het nou ook in die VSA ‘n voet in die deur gekry danksy sosiale media-influencers wat betaal word om hierdie eksklusiewe happies op TikTok te bemark, terwyl eksklusiewe deli’s en winkels soos Whole Foods Market nou duur vrugte op hul rakke vertoon.
Amerikaanse groeiers soos Oishii, Melissa’s Produce, en Harry & David, staan aan die voorpunt van hierdie nuwe neiging. Hulle groei tegnieke, produkvarietiteite en produkpryse onderskei hulle van die tradisionele landboubedryf.
‘n Boks van ses tot agt Oishii Omakase Aarbeie kan soveel soos R320 kos. Oishii se uitvoerende hoof, Hiroki Koga, glo die smaak van sy Japanse variëteite is die prys werd—dubbel so soet as dié in tradisionele winkels. Hy het in 2015 na die VSA verhuis en was geskok oor die Amerikaanse produkte, wat hom aangespoor het om hoë kwaliteit vrugte en groente self te groei.
So word ‘n Oishii-aarbei vir bemarkingsdoeleindes beskryf: Dit is ‘n spesiale aarbei, een om van elke happie te geniet. Met ‘n romerige tekstuur, aromatiese geure wat die kamer vul, en ‘n delikate soetheid, is die Omakase Berry ideaal as ‘n geskenk aan ‘n geliefde of die perfekte afsluiting van ‘n ete. Dit is ‘n kosliefhebber se droom, ‘n wonderlik gebalanseerde, heerlike lekkerny enige tyd van die jaar.
Melissa’s Produce, wat in 1984 in die VSA gestig is, het ‘n reputasie in die verskaffing van seldsame en luukse produkte. Hul bekendste item, die Rubyglow pynappel, kos R6800, terwyl ‘n gewone pynappel ongeveer R86 kos. Die luukse mark is klein, en dit is moeilik om groot hoeveelhede te teel, wat beteken dat pryse hoog bly.
Oishii en ander maatskappye hoop om die prys van hul produkte te verlaag en sodoende meer mense toegang tot hoë kwaliteit produkte te gee. Tans is dit hoofsaaklik kosliefhebbers en sjefs wat luukse vrugte koop. Sommige sosiale media-inhoudskeppers koop dit ook aan om video’s te skep wat aandag trek.
As gevolg van die beperkte aanbod en hoë produksiekoste, sal die Amerikaanse luukse vrugtemark waarskynlik groei, maar steeds eksklusief bly. Soos Robert Schueller van Melissa’s Produce sê: “As hulle meer groei, beteken dit nie dat hulle meer sal verkoop nie.”