Danksy die kundigheid en professionele ondersteuning deur Kynoch se raadgewers, het kersieboere in die noordelike streek van Suid-Afrika vanjaar ’n besonder goeie kersie-oes gehad. Die maatskappy bied kersieprodusente ’n omvattende en volledige bemestingsprogram, terwyl persoonlike kontak met die produsente verseker dat die regte toedienings geskied.
Kersies is nie inheems aan suidelike Afrika nie en kom oorspronklik uit Asië. Verbouingsgebiede in Suid-Afrika is hoofsaak-lik in die Wes-Kaap, die oostelike deel van die Vrystaat en Mpumalanga. Produksie deur kommersiële produsente en kleinboere is nog taamlik beperk en slegs ongeveer 3 000 ton word jaarliks landwyd geproduseer.
Godfrey Hartman, landboukundige by Kynoch in die noordelike streek, sê hulle volg ’n holistiese benadering wanneer dit by hul produk- en adviesdienste vir kersieboere kom.
“Ons kyk na die totale prentjie van ’n produsent en verseker so dat hulle die regte reeks Kynoch-produkte kry om hul kersie-bedryf te ondersteun. Ons lewer nie net bemestingstowwe by hulle af nie, maar maak seker dat die water se pH-balans reg is, kyk na die grondgesondheid, die boom- of struikgesondheid en ook selfs na die topografie van die gebied waar die kersies geplant is.
“Kersies het heelwat koue-eenhede nodig om goeie set te verseker en om nuwe lote te laat groei sodra hulle uit dormansie kom. Nodige regstellings vir die grond is belangrik om in ag te neem en te implementeer indien nodig, soos byvoorbeeld gipsregstellings, asook die toevoeging van ander kalsiumbymiddels voordat dormansie gebreek word. Spesialisprodukte word vroeg in die seisoen toegedien om vroeë wortelontwikkeling en groei te ondersteun. Hierdie word gewoonlik saam met ons Kynoch-produkte deur die besproeiingswater versprei om egalige toediening na al die plante te verseker. Ons kan ook later in die seisoen ’n verskeidenheid produkte op die blare spuit om die plante verder te ondersteun. Ons het ook ondersteuningsmiddels wat veral help dat ons voedingsmiddels beter deur die kersieplante opgeneem word. Hierdie produkte dra by tot verbeterde vrugvorming en drag,” sê Godfrey.
“Een van die produsente wat ons met hierdie produkte ondersteun, het vanjaar ’n 98%-uitpak gehad – en dit op plante wat maar slegs drie jaar oud is,” vertel Godfrey.
Hy beklemtoon dat Kynoch nie bloot bemestingstowwe by produsente aflewer nie, maar dat hulle die produsente deurgaans bystaan en probleme gesamentlik aanspreek. Indien daar tekorte in die grond of by die plante geïdentifiseer word, is daar verskeie ander produkte in die Kynoch-reeks wat vir spesifieke grond- en plantgesteldheid aangewend kan word.
“Ons lewer nie net bemestingstowwe by hulle af nie, maar maak seker dat die water se pH balans reg is, kyk na die grondgesondheid, die boom- of struikgesondheid en ook selfs na die topografie van die gebied waar die kersies geplant is.”