farmers, Mega Farmers
Leave a comment

Winterwood Farms: ’n Volhoubare waardeketting

Woorde: Danie Keet, Fotografie: Mia Truter en verskaf

Daar is net een manier om landbouprodukte volledig volhoubaar te bestuur, en dit is om die hele waardeketting te belê. En dit is presies wat Winterwood Farms deur sy vertakkinge in Suid-Afrika doen – en watter beter plek om ’n groot deel hiervan te bedryf as in die vrugbare Porterville-omgewing.

Ongeveer 12 km buite Porterville, aan die voet van die Winterhoek-berge, lê een van die Wes-Kaap se grootste bloubessieplase en ’n reuse-bloubessiepakstoor. Lushof Fruit is in 2006 deur Stephen Taylor bekom en was aanvanklik ’n wyndruiwe-produserende plaas. Die meeste druiwe is egter gou uitgekap om plek te maak vir organiese bloubessies, wat vandag die kern van hierdie onderneming se Wes-Kaapse tak is.

Uitbreiding van produksie in ander streke

Twee plase, Lushof Fruit en Dreammaker Fruit, vorm die basis vir een van die grootste bloubessie-ondernemings in die land. Op Portervilleberg, waar Dreammaker met sy twee produksie-eenhede, Teeland en Zuurvlakte, geleë is, is Jan Kemp-Vorster die produksiebestuurder van die plaas van ongeveer 71 ha. Op Lushof is Rupert Erasmus die man wat moet toesien dat dinge glad verloop op hierdie stuk grond, waar daar tans 43 ha bloubessies organies verbou word. Daar is ook 25 ha tafeldruiwe gevestig.

Maar, soos die oumense gesê het, nog is dit het einde niet. Daar is ook nog ’n bloubessieplaas van 11 ha by Villiersdorp wat tans na 30 ha uitgebrei word. En twee plase in Limpopo – Kruger Berries, tans 42 ha, met uitbreidings tot 61 ha wat wag, en Bush Valley Berries, wat van sy huidige 11 ha tot byna 40 ha in die volgende drie jaar vergroot gaan word as alles volgens plan verloop.

Wêreldwye bloubessiemarkte:
Bloubessiemarkte het ’n aansienlike toename in vraag ervaar, veral in streke soos die VSA, EU, China en die VK, wat wêreldwye verbruik oorheers. Ten spyte van konstante vraag, het produksie in 2023 uitdagings in die gesig gestaar weens die impak van El Niño. Vir die eerste keer in meer as 20 jaar het wêreldwye produksie ’n effense afname van 1,5% gesien, wat grootliks toegeskryf word aan ’n 21% afname in Peru se produksie. Ander streke soos die VSA, Kanada en Chili het kleiner dalings ervaar, terwyl China se bloubessieproduksie steeds aanhou groei. (Bron: BFAP)

Internasionale verbintenis en pakhuise

Ons gesels in die raadsaal van Dreampack en praat met die gedugte span wat aan die stuur van sake staan. Martin Smit is die finansiële bestuurder, Dylan Coleman die hoofbestuurder, Rupert Erasmus die Lushof-plaasbestuurder, Dawid de Vries die pakhuisbestuurder, en Jan Kemp-Vorster die bestuurder van Dreammaker. Die hoofaandeelhouer in die Winterwood-onderneming is Stephen Taylor, met sy basis in die Verenigde Koninkryk.

Stephen bedryf plase in Pole en die VK, en het ’n groot vrugte-pakhuis in Kent, Engeland. Hy het begin met die verpakking van bessies en het gou gesukkel met voorraad. Om dit te oorkom, het hy die voorraadketting stroomop geskep deur die vestiging van sy produksieplase in Pole en Suid-Afrika. Deur die bedryf van plase in sowel die noordelike as suidelike halfrond, met hul teenoorgestelde seisoene, kon hy verseker dat sy pakstore die hele jaar produkte het om te verwerk.

Dreampack se reuse-pakstoor is ’n toonbeeld van moderne tegnologie en ’n masjien wat op goed geoliede wiele hierdie segment van die sagtevrugtebedryf bedien. Die koelkamer en verpakkingsaanleg lewer verkoelingsdienste aan talle tafeldruifboere in die omgewing en is tegelykertyd ’n druiwe- en bloubessiepakhuis op dieselfde terrein, min of meer onder een dak.

PRODUSENTE DEEL HULLE WENKE

Bestuur van water:
Hoewel bloubessies geweldig duur is om te vestig, is die opbrengste baie beter as met sagte- of steenvrugte,” vertel Nigel Diceys van Rora Orchards in Wolseley.

Hulle rye is heelwat nader aan mekaar geplant as wat die normale gebruik is, om hul opbrengste te verhoog. Hulle plante staan in potte en nie direk in die grond nie sodat hul water- en voedingstowwe te beheer. Elke pot is met drupbesproeiing toegerus.

Nigel sê oor die jare het die natuur hom geleer dat jy die regte dinge op die regte tyd moet aanpak. As jy teen die natuurlike vloei van die natuur werk, gaan jy terugslae ondervind. Droogtes was hul grootste uitdaging oor jare, tesame met stygende uitgawes.

“Ons het geleer om meer ekonomies met ons waterbronne te boer; die blokke wat nie goed dra nie, uit te haal en beter aanplantings te doen. Die dae toe jy met 40 hektaar ’n goeie lewe kon lei, is verby. Vandag moet jy groter en slimmer boer.

Strategie vir diversifikasie en geografiese uitbreiding

“Ons bedryfsbeginsels is dat ons glo om by alle fasette van die waardeketting betrokke te wees. In Suid-Afrika is daar verskeie bloubessieproduksiestreke waar ons die beste variëteite vir die tydsgleuf probeer kweek,” verduidelik Dylan.

“Ons wil nie ons seisoene probeer uitrek nie, dus kweek ons die bessies waar hulle natuurlik die beste aangepas is sodat ons die beste gehalte en opbrengs sal kry. Ons verleng ons seisoene deur geografies verskillende areas te gebruik, elkeen met geskikte omstandighede vir die beste kwaliteit produkte. Dit is hoekom ons plase in die noorde van die land het, waar ons in Julie begin oes tot bo-op Portervilleberg, waar ons tot einde Februarie op Dreammaker sal oes.”

Hy sê hulle verkies om verskillende Suid-Afrikaanse streke wat vroeë-, middel- en laatproduksie lewer, te identifiseer en dan die variëteit wat die beste aard in daardie streke te verbou.

Rupert Erasmus, Lushof se plaasbestuurder, Martin Smit, die finansiële bestuurder, en Dylan Coleman, hoofbestuurder.

Bemarking en internasionale handelsgeleenthede

“Ons is nie net betrokke by primêre produksie op ons plase in Suid-Afrika nie, maar ook met die intellektuele eiendom van die kultivars wat ons kweek en verbou. Dit is ons besigheidstrategie – nie die uitbreiding van seisoene nie, maar die benutting van geografiese gebiede waar die bessies goed aard, en dan die res van die waardeketting. So kan ons verseker dat ons vir agt maande van die jaar bessies kan kweek en bemark,” verduidelik Dylan.

Martin verduidelik dat hulle hoofsaaklik bessies uitvoer in bakkies van 600 g. Al die grootmaatbessies wat uitgevoer word, word dan weer herverpak volgens die spesifieke kliënt se behoeftes en voorkeure. Die grootste gedeelte gaan na die VK en EU, maar met markte soos die Midde- en Verre-Ooste wat ook ontwikkel word.

“Op die plaaslike mark is daar baie geleentheid in die vroeë- en laatseisoen. Die meerderheid van die bessies wat in Januarie en Februarie op Zuurvlakte geoes word, word aan die plaaslike mark via Berryworld Local gelewer, wat vir ons goeie opbrengste verseker.

Daar kom egter soms ’n punt in veral die plaaslike mark wanneer alle produsente voorraad het en dinge dan bietjie moeilik raak. Maar ons speel sterk in die vroeë- en laatseisoen op die plaaslike mark danksy die feit dat ons gediversifiseerde produksiegebiede bestuur en met gestruktureerde kleinhandelprogramme werk,” verduidelik hy.

Volgens Martin probeer hulle deurgaans om premium produkte aan die plaaslike mark te verskaf, wat soms strenger vereistes het as die uitvoermark.

PRODUSENTE DEEL HULLE WENKE

Toediening van chemie:
Vir Albert Smith, algemene bestuurder van Kruger Berries in Limpopo, is grondgesondheid ‘n kritiese aspek wat noukeurig bestuur moet word. Hy sê bessies hou van suurgrond en hulle fokus dus op die pH-waarde van die grond as deel van hulle regstelling.

“Elke keer wanneer ons bessies water kry, word daar ook vloeibare kunsmis toegedien. Ons doen ook blaarontledings sodat ons gereeld die nodige regstelling kan doen.”

Omdat hulle meeste van die bessies uitvoer, is die onthoudingperiode van chemiese plaagbeheertoedienings baie belangrik. Maar dié vereistes ten opsigte van meervoudige liniêre regressie (MLR) maak dit moeilik om insekte te beheer.

“Ons het al hoe minder middels wat ons kan gebruik om sekere insekte te beheer. Biologiese beheer werk goed in die Kaap, maar hier by ons het ons baie meer insekte as gevolg van die warmer winters. Die natuurlike vrugte wat in die omgewing voorkom, soos maroelas, kompliseer ook ons insekbeheer,” sê hy.

Pakstoor- en verkoelingsinfrastruktuur

Die Dreampack-pakstoor wat die tafeldruiwe en bloubessies verpak, is ’n enorme aanleg met die mees moderne verkoelings- en pakinfrastruktuur wat spesiaal ontwerp is vir die doeltreffende en vinnige hantering van die bloubessies.

“Ons hanteer jaarliks tussen 15 000 en 17 000 palette tafeldruiwe, oftewel 750 skeepsvraghouers. Dit kom neer op ongeveer 2,7 miljoen kartonne druiwe wat ons verkoel en verskeep. Hiervan word ongeveer 100 000 kartonne deur ons eie plaas geproduseer, maar ons lewer ook dienste aan verskeie ander tafeldruifprodusente, van groot tot klein kwekers.

Dawid de Vries is die pakhuisbestuurder by Dreampack.

“Vanjaar verwag ons om ongeveer 800 t van ons eie bessies te hanteer, maar vir die volle seisoen kan tot 1 000 t deur die pakhuis gestuur word, waarvan 30% vir derde partye is.

Plaaslike bloubessiebedryf oorsig:

Die Suid-Afrikaanse bloubessiebedryf het in 2023 goed presteer met ‘n styging in uitvoere, al was daar uitdagings. Boere se wins bly onder druk weens stygende lone, gehaltestandaarde en bestuur van opbrengs en koste.

Produksie sal waarskynlik steeds groei, maar teen ‘n stadiger pas. Teen 2033 word verwag dat produksie 46 700 ton sal bereik, met beter opbrengste, maar min uitbreiding in nuwe aanplantings. Pryse sal waarskynlik stabiel bly, maar kan afplat as inflasie in ag geneem word. Daar is goeie groeigeleenthede vir die bedryf, veral met verbeterde uitvoerkapasiteit, maar wêreldwye mededinging en markonbestendigheid sal uitdagings bly. Dit sal belangrik wees om slim kostebestuur en aanpassings in beleide te implementeer om die bedryf se groei voort te sit. (Bron: BFAP)

Volhoubare organiese boerdery

Op Lushof is werkers besig in die bessieboorde waar organiese landboupraktyke toegepas word.

“Ons boer nie organies bloot omdat dit gesonder is as ander praktyke nie, maar omdat dit beter pryse lewer. Daar is ’n goeie mark vir organiese produkte en as dit reg gedoen word, is daar goeie opbrengs op belegging, maar dit word gedoen teen verhoogde insetkoste per hektaar en verlaagde opbrengs per hektaar teenoor konvensionele produksie. Ons is organies gesertifiseer en gebruik net organies-gesertifiseerde produkte,” vertel Rupert.

Hulle spuit net vir vrugtevlieg, maar die valskodlingmot steek ook nou en dan kop uit, en dan moet ons dit biologies beheer. In organiese boerdery is dit belangrik om die plante en vrugte gesond te hou as die weersomstandighede moeilik raak. Onverwagte of ontydige reën kan donsskimmel en ander swamsiektes veroorsaak, en dan moet ons vinnig optree.”

Hy verduidelik dat hulle voortdurend toetsblokke op die plaas plant om te kyk wat die beste op verskillende plase vaar. Daar word ook soms in potte en soms in die grond geplant, afhangende van die grondgesteldheid.

Potte is uiteraard duurder as direkte plant in die grond, maar aan die ander kant kan ’n mens elke plant byna individueel bestuur en is daar besparings van waterverbruik en voedingstowwe as potte gebruik word. Op Lushof, waar ’n nuwe stuk grond nou vir nog bloubessies gebruik gaan word, is dit baie klipperig, en potte gaan gebruik word, terwyl die grootste gedeelte van die res van die plaas se bome direk in die grond geplant is.

“Sommige van die bessiekultivars op Lushof is al meer as 15 jaar in die grond. Sommige variëteite kom reeds vroeg in die mark en verdien dan goeie opbrengste, en ons organiese bessies gaan direk na die VK of EU.

“Ons wil egter begin om ouer variëteite uit te haal as dit nie meer geld maak nie, ter wille van hoër opbrengs en kwaliteit van die nuwe variëteite,” sê Rupert.

Ons gebruik beskermende nette bo-oor die meeste boorde om ons teen veral wind en voëls te beskerm.

Vooruitsigte vir die bloubessiebedryf

Die Dreammaker-plase Teeland en Zuurvlakte lê tussen 700 m en 1 000 m bo seespieël en het ’n gesamentlike oppervlak van ongeveer 853 ha, waarvan 71 ha bloubessies is. Op die hoërliggende Zuurvlakte is daar genoeg koue-eenhede vir die NHB-bloubessievariëteite wat nie so goed op laerliggende gebiede aard nie. Op Teeland, net sowat 2 km van Zuurvlakte, maar 700 m bo seespieël, gedy SHB-variëteite beter en het minder koue-eenhede nodig,” verduidelik hy.

Martin glo dat die bessieseisoen vanjaar weer kan kop optel en dat die probleme in die Peruviaanse mark dalk tot hul voordeel kan wees.

“Pryse lyk sover vanjaar goed, en die noorde van die land het goeie koue-eenhede gekry, en die Wes-Kaap se natste Julie en Augustus in baie dekades behoort ’n effek te hê op produksie. Ons wag nou om te sien wat dit aan die oes gaan doen, maar die bessies wil koue en reën hê, maar nie te veel nie. Nou soek die plante son sodat ons groei kan kry. Julie en Augustus is belangrike bestuiwingsmaande vir ons, en ons weet nog nie wat die weer daaraan gaan doen nie.

Vanjaar lyk egter meer positief as die voorafgaande vier of vyf jaar, en daar word planne gemaak om weer te belê in die bedryf,” sê Martin.

PRODUSENTE DEEL HULLE WENKE

Bloubessies as ‘n vertakking vir risikobestuur:
In 2013 het Van Zyl De Wet van Retreat Boerdery in Roberton ’n besluit geneem oor die uitbreiding van die plaas. Ek het vir my pa gesê ons kan nog wyndruiwe plant, maar in daardie stadium het dit maar sleg met die wynbedryf gegaan.

“Ek het ook vir myself gesê dat ek die maksimum opbrengs uit elke kubieke meter beskikbare water moet kry en het daarom besluit om meer intensiewe vertakkings te ondersoek.

”Jy moet besluit wat jou behoeftes is en wat jy nodig het. Jy kan jouself baie maklik bankrot spaar. Ek het al in my kort tydjie hier foute gemaak en geleer – my buurman het gesê party ouens leer swaar, en ander leer nooit nie.”

Van Zyl meen hy kan nie elke keer agter iets anders aan hardloop nie, maar moet terselfdertyd sy risiko’s versprei. Hy wil fokus op die vertakkings wat hy tans het en almal uitbrei tot noemenswaardige eenhede. Solank hy elke hektaar tot sy absolute optimum kan benut, behoort hy die voor- en teenspoed van al die verskillende vertakkings te kan deursien.

Van Zyl fokus op perskes vir inmaak, appelkose, sitrus en bloubessies. Dan is daar natuurlik nog sy wyndruiwe.

“Ek wou in ’n stadium ook pere aanplant en het my huiswerk net begin doen. Ek het na ’n peerboerdery in Wolseley gaan kyk, maar toe die tegniese beampte my vra hoeveel koue-eenhede ons het, was sy antwoord eenvoudig: “Jy kan nie pere plant nie. Môre, wil jy koffie hê?”

Van Zyl het ook die aanplant van kersies oorweeg, maar besef dat hy dan ’n bottelnek in die oesseisoen gaan veroorsaak wat te veel arbeid gaan vereis. In samewerking met United Export is die bloubesssies, buiten die wyndruiwe, sy groot fokuspunt in die boerdery en maak dit ’n kerndeel van sy besigheid uit.
Hy is baie in sy skik met die ondersteuning wat United Export aan hom as produsent bied en kan hy met vertroue dié deel van sy onderneming bedryf. “Die intellektuele eiendom, kennis en advies wat hulle bereid is om met produsente te deel, is eenvoudig ongelooflik. Dit maak dit soveel makliker as jy weet jy het die regte plantmateriaal en die gepaardgaande tegniese advies, om vrugte van goeie gehalte aan die kliënte te verskaf.

“Die verskil tussen ’n suksesvolle bloubessieboerdery en ’n mislukte een is baie klein. Klein foutjies kan tot groot finansiële verliese lei. Daarom is tegniese ondersteuning van groot belang.

Van Zyl beskryf sy jaarprogam as vol en besig, met min tyd vir ander dinge tussenin.

“Gelukkig is dit so dat ek oor Kerstyd darem ’n week kan afvat tussen die oesprogramme van die verskillende vertakkings. Die siklus begin min of meer in Julie met die bloubessies – wat tot middel-Desember aangaan. Dan is daar ’n kort oorvleueling met die appelkose; die perskes begin daarna; gevolg deur die wyndruiwe in Januarie; dan die suurlemoene en nartjies en so gaan ons aan,” vertel die jong produsent.
Filed under: farmers, Mega Farmers

by

Danie is an award-winning journalist with three decades of news writing under his belt. He has a special love for local news, having served as the editor of a community newspaper for seven years. He is has also written for most of the daily newspapers and a variety of online news platforms. People and what make them tick intrigues him, but he is also fond of wine, travel, environmental, investigative and a host of other stories. “Being in the outdoors, with people who has a love for nature in their souls, and to put those feelings and experiences into words, is the ultimate challenge to me as journalist.”

Leave a Reply

Your email address will not be published.