TLU SA is weer opsoek na Suid-Afrika se top jong boer! As jy passievol is oor boer, ’n plan het vir die toekoms, en nie skrik vir ’n bietjie kompetisie nie, is hierdie jou kans om deel te neem aan die 2025 Jongboer van die Jaar-kompetisie.
Dis nie sommer net vir die lekker nie – daar’s groot pryse op die spel, insluitend ’n dubbelkajuit 4×4-bakkie én ’n internasionale landbou-ervaring wat jou horisonne behoorlik gaan verbreed.

WAT MAAK HIERDIE KOMPETISIE BESONDERS?
Die TLU SA Jongboerkompetisie is nie net ‘n titel nie – dit is ‘n platform waar jong boere se kennis, bestuursvernuf en passie vir die landboubedryf getoets word. Deelnemers word beoordeel op finansiële- en risikobestuur, infrastruktuur, meganisasie en tegnologie, produksiepraktyke en hul betrokkenheid in die gemeenskap. Boonop moet die wenner ‘n dinamiese ambassadeur vir TLU SA kan wees en ‘n stem vir die jong boere van Suid-Afrika.
“Hierdie kompetisie gaan nie oor die grootte van jou plaas of jou familiegeskiedenis in boerdery nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Dit gaan oor jou bydrae, jou innovasie en hoe jy ‘n verskil maak in die landbousektor. Dit is ‘n kans om jou boerderyvaardighede te slyp, nuwe insigte te kry en uiteindelik jou loopbaan na ‘n nuwe vlak te neem.”
WIE KAN INSKRYF?
Alle jong boere wat lede van TLU SA is, kan inskryf. As jy nog nie ‘n lid is nie – geen probleem! Jou inskrywing vir die kompetisie bied jou outomaties die geleentheid om ‘n lid te word en deel te wees van ‘n netwerk van toegewyde boere wat Suid-Afrika se landbou toekoms bou.
DIE KOMPETISIEPROSES:
TLU SA se streke speel ‘n sleutelrol in die evaluering van inskrywings op provinsiale vlak. Elke streek moet die inskrywings in hul gebied evalueer en drie finaliste (soms meer of minder) nomineer om op nasionale vlak mee te ding. Indien daar egter byvoorbeeld vyf uitstaande jong boere is wat aan die vereistes voldoen, kan TLU SA hoofkantoor besluit om al vyf uit een provinsie te besoek. Dit is belangrik om te verstaan dat nie elke inskrywing noodwendig op nasionale vlak besoek word nie, maar dat elke inskrywing wél deur die streek geassesseer word. Dit kan beteken dat sommige streke meer finaliste as ander kan hê wat uiteindelik deur die nasionale beoordelaars besoek word.
Die beoordelaars besoek elke deelnemer se plaas en evalueer hul boerderypraktyke volgens ‘n objektiewe puntestelsel. Die finale besluit word geneem ná ‘n deeglike besprekingsproses om seker te maak dat die mees verdienstelike jong boer bekroon word.
Die kompetisie bied wel die kans om wonderlike pryse te wen, maar ook ‘n geleentheid vir jong boere om hul vaardighede te slyp en waardevolle netwerke te bou. Moenie hierdie kans misloop om jouself te meet teen die beste van die beste nie.
Moenie hierdie geleentheid misloop nie – skryf nou in!
Klik hier om in te skryf: https://www.tlu.co.za/jongboer-van-die-jaar/
Sluitingsdatum: 20 Junie 2025
Kontak info@tlu.co.za of skakel 012 804 8031
Dis jou tyd om te skitter. Wys wat jy werd is – en bou ’n landbounalatingskap waarop jy trots kan wees.

