’n Langtermyn aartappelmot-moniteringsprojek in die Sandveld het oor agt jaar só suksesvol geblyk, dat dit nou na die noorde van Suid-Afrika uitgebrei word.

Aartappelmot (Phthorimaea operculella) is ’n moeilike plaag om te beheer en kan groot ekonomiese verliese vir boere veroorsaak. Tog het Sandveld-boere volhoubare sukses behaal in die bestuur van dié plaag, danksy hierdie innoverende projek en samewerking tussen InteliGro en Syngenta.
Die projek het in 2016 ontstaan toe InteliGro ’n netwerk van lokvalle ontplooi het. Dié lokvalle bevat ’n spesie-spesifieke feromoon wat manlike motte lok en vang, en gee produsente ’n vroeë waarskuwing van toenemende bevolkingsdruk.
“Vernuf, data en deurdagte bestuur het op lang termyn merkwaardige resultate vir Sandveld-boere gebring,” sê Stefan Steenekamp, tegniese bemarkingspesialis aan die hoof van InteliGro se nasionale aartappelstrategie.
52 000 hektaar
Die hoeveelheid aartappels wat jaarliks in Suid-Afrika aangeplant word, ten spyte daarvan dat ons net 1% van die wêreld se aartappels produseer.
“Tydens weeklikse besoeke teken ons lokvalvangste aan van aartappelmot en tamatieblaarmyner (Phthorimaea absoluta, vroeër Tuta absoluta) op elektroniese platforms soos Cropwise en CropWatch. Hierdie data, tesame met fisiese monitering en weerinligting, maak akkurate mot-uitbraakvoorspellings en beter oesbeskermingstrategieë moontlik.”
BOER MET MINDER PLAAGDODER EN MEER KUDIGHEID
Stephan & Seun Boerdery, ‘n bekende familieboerdery in die Sandveld, het van die begin af aan InteliGro se aartappelmot-moniteringsprojek deelgeneem en merkbare verbeteringe opgemerk.
“Ons is baie tevrede met InteliGro se plaagmonitering van aartappelmot en P. absoluta op ons lande,” sê Johan Stephan. “Hul gereelde en noukeurige velddata help ons om die optimale skedulering van plaagdoders te bepaal. Dit spaar kostes, verminder die aantal spuite wat ons toedien en voorkom skade. Hierdie diens gee ons gemoedsrus en help ons om opbrengs te verbeter.”
Steenekamp beklemtoon dat InteliGro ‘n geïntegreerde plaagbestuurstrategie volg, wat chemiese en biologiese oplossings met verbouingspraktyke soos bewerking en besproeiing kombineer. “Ons wil volhoubare boerdery ondersteun en klimaatsuitdagings pro-aktief aanspreek. Hierdie program bevorder beide ekonomiese voordele en ‘n kleiner omgewingsvoetspoor, wat aartappelboerdery vir toekomstige geslagte verseker.”

VOLHOUBAARHEID VERG SAMEWERKING EN INNOVASIE
Alhoewel Suid-Afrika net 1% van die wêreld se aartappels produseer, glo Steenekamp dat die gewas beduidende potensiaal het om uit te brei. “Aartappels is ‘n voedsame basiese voedingsbron wat ‘n belangrike rol in voedselsekuriteit en die stryd teen armoede kan speel.”
Suid-Afrika is in ‘n ideale posisie om verbruikers heeljaar van vars aartappels te voorsien, met ongeveer 52 000 hektaar aartappels wat jaarliks aangeplant word. Dit sluit die Sandveld in, waar aartappels heeljaar verbou word, terwyl ander provinsies seisoenaal produseer.
“Om volhoubaar te boer in droëland- en besproeiingsgebiede, moet ons omgewingsuitdagings soos klimaatsverandering, siektes en insekplae oorkom.
Klimaatsfaktore soos temperatuur en humiditeit beïnvloed die lewensiklus van insekte direk,” sê Steenekamp. “Die bedryf het voorheen tot ‘n groot mate op produkte staatgemaak wat nou as CMR (karsinogenies, mutagenies en reproduktiewe ontwrigters) beskou word: hierdie tipe produkte word egter nou uitgefaseer, wat die hoeveelheid beskikbare hulpmiddels beperk. Dit is waar innovasie noodsaaklik is, en waar InteliGro met ander bedryfsorganisasies saamwerk om alternatiewe te vind.”
RESULTATE LEI TOT UITBREIDING NA DIE NOORDE
Die sukses van die Sandveld-projek het gelei tot ’n loodsprojek in die Verre Noorde van Limpopo. InteliGro werk saam met Aartappels Suid-Afrika (ASA) en Metos SA om motlokval- en weerdata te kombineer in ’n projek wat produsente help om spuitprogramme volgens plaaslike motbevolkings aan te pas.
“Ons ervaring oor agt jaar stel ons nou in staat om geïntegreerde plaagbestuur met ander aartappelprodusente te deel,” sê Steenekamp. “Deur historiese data met weervoorspelling te kombineer, kan ons in die toekoms selfs meer akkurate aanbevelings maak.”
InteliGro se Gewasadviseurs bied pasgemaakte oplossings vir elke plaas.
Belangstellende boere kan Steenekamp kontak by +27 66 472 3994 of stefans@inteligro.co.za.
1 Comment