Hy het altyd geweet hy wil graag ’n appel-plaas besit, maar hy het nooit gedink dit sal dié plaas wees nie. Die lewe het egter ’n manier om wye en vreemde draaie te loop, en soms gebeur die ondenkbare.
Woorde: Clivé Burger | Fotografie: Mia Truter

Dr. Max Hahn is reeds sedert 2000 die eienaar van die pragtige appel- en peerplaas, Elgin Orchards. Die plaas lê aan die regterkant soos mens van die Kaap se kant af kom. Bykans reg oorkant die ingang na Grabouw is die plaas se ingang.
Elgin Orchards se appels gaan na pakstore en vandaar word dit na die hawens vir die uitvoermark vervoer. Die pere wat op die plaas verbou word, asook pere van omliggende produsente, word in die reuse pakaanleg gesorteer, gewas en verpak vir verskillende markte.

Elgin Orchards word bestuur deur ’n span mense wie se tyd en liefde elke dag op die plaas ingeploeg word. Almal werk as ’n span saam.
Op die plaas word 178 ha appels, 2.8 ha kiwivrugte, 32 ha pere en 29.2 ha wyndruiwe verbou. Nog 6.7 ha word tans voorberei om appels te herplant.
STRATEGIE EN ONDERSTAMME VIR SUKSES
Neil Reid, algemene bestuurder van Elgin Orchards, sê die grootste uitdaging van enige besigheid is om dit wat nie winsgewend is nie, uit die bedryf te haal of te vervang met iets wat beter werk.
Op die plaas word 178 ha appels, 2.8 ha kiwivrugte, 32 ha pere en 29.2 ha wyndruiwe verbou. Nog 6.7 ha word tans voorberei om appels te herplant.
“Daarom word boorde op die plaas wat nie meer winsgewend is nie, uitgehaal sodat nuwe boorde gevestig kan word. Hoewel dit ’n baie duur proses is, is dit beter as om geld te spandeer op boorde wat nie meer genoeg geld inbring nie.”

“Ons begroot vir ’n 25-jaar leeftyd, maar dit kan baie ouer word, afhangende van die gesondheid van die boord. Ons vervang boorde wat nie meer winsgewend is nie, of as die kultivar nie meer deur die mark gesoek word nie. Dan vervang ons met nuwe bome. Dit kom alles neer op winsgewendheid.”
Volgens Neil is hul grootste uitdaging die beskikbaarheid en verkryging van virusvrye plantmateriaal op die regte onderstamme. Dit het ’n geweldige groot invloed op die groei en ontwikkeling van ’n boom, want inherente virusse en swamme vertraag die groeiproses. Die meeste onderstamme wat in stoelbeddings in die grond gekweek word, het grondgedraagde siektes en houtverrottingswamme gehad.

Om herplantsiekte te bestry, word grondberoking gedoen, maar dit is nie baie effektief op sekere gronde nie. Daarom het Elgin Orchards verskeie jare gelede al besluit om die Cornell Geneva-onderstamme te gebruik, wat beter bestand is teen die herplantsiektes as die ouer onderstamme.
Elgin Orchards het ’n kwekery in vennootskap met Monteith Trust en dr. Nigel Cooke, ’n bekende in plantontwikkeling, gestig wat nou die Cornell Geneva-onderstamme vir hulle kweek.

“Ons probleem was om die Cornell Geneva-onderstam van ons keuse te kry. Die beskikbaarheid daarvan was vir ons ’n uitdaging en ons moes nuwe planne maak.”
“Ons wil dus 100% seker maak dat ons die regte onderstamme gebruik en wil meer in beheer van dié proses wees.”

Neil vertel hulle het geweldig gesukkel om van dié spesifieke, siektevrye onderstamme in die hande te kry.
“Ons het ons bestellings geplaas, en wanneer dit afgelewer moes word, is vir ons gesê dat daar nie genoeg beskikbaar was nie.”

Koppe is bymekaar gesit en planne is gemaak. In samewerking met Nigel en ander vennote word dié onderstamme nou uit weefselkultuur gekweek. Die onderstamme word in potte in tonnels geplant waar die klimaat en temperatuur beheer word. Binne nege maande vandat ons die weefselkultuurplantjie ontvang het, het ons ’n boom wat geplant kan word.
Standaardpraktyk is om onderstamme in beddings te kweek. Dit neem egter ’n jaar vandat die gewortelde onderstam in die kwekery geplant is om met die ogie van ’n verlangde kultivar geokkuleer te word. Die boom is dan ’n jaar later gereed om in ’n boord geplant te word.

’N NUWE ERA VIR BOORDE BEGIN
In 2020 kon Elgin Orchards vir die heel eerste keer ’n volledige boord op Cornell Geneva-onderstamme plant.
Dirk Meyer, plaasbestuurder op Elgin Orchards, sê die bome kan nou baie vroeër geplant word.
Normaalweg word in September tot Oktober geplant, maar nou kan hulle dit reeds in April doen.
Volgens Neil beteken dit dat, omdat hulle ’n aandeel in die kwekery het, hulle groter toegang het tot presies wat hulle soek.

Dit kan ’n maak-of-breekproses wees. In 2016 is bome geplant wat ná vier jaar uitgehaal moes word omdat dit so swak gegroei het. In 2020 is bome egter geplant wat in 2022 al met tweede blad 54 ton/ha gelewer het. Kumulatief het dit met vierde blad al 300 ton/ha geoes.
“Ons kon dit regkry omdat dit groot bome is wat met skoon plantmateriaal geënt is en die regte onderstamme gehad het. Ons fokus om groter bome te kry om te plant. Tans is die grootte tussen 1.2 m en 1.5 m. Dit is egter nog alles in ’n ontwikkelingsfase. Ons gaan strategies te werk en wil ook nouer plant.”
PLUK EN SNOEI VINNIGER EN SLIMMER
In 2016 het hulle reeds begin om die ry- en plantwydtes aan te pas tot onderskeidelik 3.5 m × 1.2 m. Die rede hiervoor is dat dit hulle in staat stel om te meganiseer. Op hierdie wydtes kan plukplatforms beter werk, want die plukker kan dieper by die boom ingaan en nader aan die kern van die boom kom. Die plukker kan ook dubbeld soveel pluk, want hy/sy hoef nie op en af met ’n trap te klim nie. Nou kan hulle die sakke vol pluk en net omdraai om dit in die krat leeg te maak,” sê hy.

Die kantsnyers kan die kante van bome mooi sny sodat die blaar-blaasmasjien makliker kan inkom. Dit werk effektief, want vir sommige kultivars is dit nodig om die blare te verwyder om die rooi kleur op die appels te kry. Op hierdie wyses kan arbeidskoste besnoei word.
“In 2015, met die onluste op plase in die Wes-Kaap, het ons elektriese snoeiskêre gekoop en is die aantal snoeiers toe met sowat 60% verminder. Die besparing op arbeidskoste het gehelp dat ons die elektriese skêre binne ’n seisoen en ’n half kon afbetaal.
“Die voordeel van elektriese skêre is dat die snoeier aansienlik minder moeg raak, want hy druk net ’n knoppie. Die arbeiders kan dus meer as dubbeld soveel snoei. Arbeidskoste is vir ons ’n geweldige uitdaging omdat dit so dramaties gestyg het.”

Verder meen Dirk dat kultivarsamestelling van net só groot belang is. Iets soos ’n Golden Delicious moet hoë opbrengste gee ten einde ’n wins te kan maak, want die prys is eenvoudig te laag. Dit moet minstens 120 t/ha lewer ten einde geld te maak en volhoubaar te wees. ’n Gemiddelde opbrengs op hoëdigtheid-appels sou wees 20 ton/ha op tweede blad, en om te mik vir 30 ton/ha op derde blad.
In 2022 en 2023 het pryse ’n moeilike vlak bereik. Dit was gelykstaande aan die prysvlakke van 2017.

“In 2022 het kunsmispryse tot 180% gestyg. Dit het die hoogte ingeskiet nadat die oorlog in Oekraïne uitgebreek het. Dit het ’n reuse invloed op die winsgewendheid van ’n besigheid,” sê Neil.
Neil sê daar sal altyd uitdagings in enige bedryf wees. Dit hang net af van hoe dit bestuur word.
FRUITWAYS, VENNOOTSKAPPE EN PAKPLANNE
Elgin Orchards se mikpunt is dat alle appels wat op die plaas geproduseer word, eindelik vir die uitvoermarkte bestem is. ’n Gedeelte word egter aan die sapfabrieke in Grabouw gelewer.
Dié appels word reeds in die boord uitgekies. Die res van die appels gaan na die pakstoor waar Fruitways dit verder hanteer, bemark en verskeep.
Elgin Orchards pak weer al Fruitways se meer as 40 produsente se pere. Die rede waarom Elgin Orchards die pere sorteer en verpak, is omdat Fruitways in 2016 nuwe sorteermasjiene aangeskaf het wat net appels kan hanteer. Die ou sorteermasjiene van Elgin Orchards kan weer die pere hanteer, en daarom word dit op die plaas in koelkamers gestoor, gesorteer en verpak. Fruitways hanteer die logistiek daarvan, van waar dit op die plaas opgetel en na markte versend word.
“Hul bemarking van ons appels hou vir ons voordele in, want ons het ’n langtermynkontrak vir die verpakking van hul pere.”

DIE MENSE AGTER DIE BOORDE
Elgin Orchards het 160 permanente werkers. Daar is ook 70 huise op die plaas waarin hierdie werkers woon. Hulle het egter die gemoedsrus om elke dag te gaan werk terwyl daar na hul kinders omgesien word.
Hierdie werkers het die voordeel dat hulle hul kinders kan skoolgaan by die St Michaels Primary School of by die kindersorg-skooltjie op die plaas.
Daar is altesaam 30 kinders by die sorgsentrum wat bedags opgepas word. Hier kry hulle twee etes. Daar word heeldag gespeel, en smiddae moet die klompie ’n uiltjie gaan knip.
’n Pragtige muurskildery met drakies en boekies beeld die skooltjie se tema vir die jaar uit: Loekie se Boekie.
Avril Isaacs, wat op die plaas gebore is, is al vir 19 jaar betrokke by die skool as toesighouer oor al die klassies se kinders. Die kleuters se ouderdomme wissel vanaf babas tot vóór skool.

VAN OORLOGSWONDE TOT WORTELS IN DIE ELGINVALLEI
Dit is ’n interessante storie van hoe dié plaas eintlik in die besit van dr. Max Hahn gekom het. Sy pa was ’n vlugnavigator in die Tweede Wêreldoorlog. Nadat hy in ’n skermutseling beseer is, is hy versorg deur die Brown-familie op Oude Brug. Die gesin het behandeling en sorg gebied aan beseerde soldate wat van die oorlog af teruggekeer het.
Jack Green was die eienaar van Oude Brug, wat vandag bekendstaan as Elgin Orchards. Dit was ook hy wat die handelsmerk Jacko, wat op Elgin Orchards se produkte te sien is, begin het.
Dit is ’n baie ou plaas. In 2015 is ’n peerboord wat reeds 100 jaar oud was, uitgehaal. Dit het nog so bietjie gedra.

Die plaas is jare later deur die Syfret-familie gekoop. Hulle was bekendes in finansiële kringe. Hulle het die buurplaas, Ridgelands, besit en het toe ook Oude Brug gekoop. Later geslagte wat die plaas besit het, was eers die Dennistons en toe die Browns.
Dr. Hahn se pa het bevriend geraak met die Browns in die tyd wat hy op die plaas versorg is. Later jare het hy en sy gesin gereeld op die plaas kom kuier, en daarom het dr. Hahn so ’n sagte plekkie vir die plaas in sy hart gehad.

Hoewel hy ná skool ’n mediese dokter geword het, moes hy onmiddellik ná sy studies by sy pa se besigheid in die mynboubedryf inval.
Die plaas is deur Westminster Produce gekoop en was in hul besit vir drie of vier jaar.
Dr. Hahn het egter, met die draai van die eeu, gehoor die plaas was weer in die mark en het dit toe gekoop. En soos hulle sê, die res is geskiedenis. Hoewel beide dr. Hahn en sy seun, Richard, ’n meganiese ingenieur, in Johannesburg woon, het albei huise op Elgin Orchards. Wanneer dr. Hahn besoek op die plaas aflê, woon hulle in die ou herehuis. Diegene wat weet, reken dit is die oudste huis in die vallei.
NAAM: Elgin Orchards (Pty) Ltd. | AREA: Oudebrugstraat, Grabouw, Wes-Kaap | OPSOMMING: Elgin Orchards verbou appels, pere, wyndruiwe en kiwivrugte, kweek hul eie bome in ’n kwekery en vervaardig hul eie kratte
2 Comments