farmers
Leave a comment

Witelsboom: Shiraz in die wingerd, propolis in die pot

Dis ’n warm somersmiddag in die Breedevallei – selfs die sonbesies kry swaar. Ons kuier by Danie en Helene Zeeman op die plaas Witelsboom. Die familie se twee honde maak hul langs ons tuis, en Helene bring koue koel-drank. “Toemaar, dis net die boerboel wat vleis eet,” stel Danie ons laggend gerus toe hy sien ons kyk maar ver-sigtig in sy rigting.

Woorde: Danie Keet | Fotografie: Mia Truter

Die Fonteintjiesberge vorm die agtergrond vir Witelsboom se vrugbare landskap.

’N BOERDERY GEBORE UIT HARTSEER

Danie, Helene en hul seun, Johan, boer hier met perskes en wyndruiwe, terwyl hul dogter, Lorraine, ‘n ywerige byeboer is. Sy vervaardig ‘n hele reeks produkte uit byewas en bemark dit onder die handelsnaam Mountain Bee, maar meer daaroor later.

Die boerdery op die plaas het ‘n hartseer begin gehad toe sy pa in 1977 tragies verongeluk het met die eerste vrag druiwe wat hy geoes het. Danie was toe maar nog ‘n tjokkertjie.

“My ma is later met my pa se broer getroud, en hulle het ‘n seun gehad wat ook verongeluk het toe hy 21 was. Ek is nou die derde geslag wat hier op sowat 150 ha boer. Hiervan is 30 ha perskes en die res is wyndruiwe,” vertel Danie.

Lorraine Zeeman is die dryfkrag agter Mountain Bee.

DIE WINGERDE: ’N BRON VAN TROTS

Sy siening van die wynbedryf verskil van baie ander druiweboere, en sy positiwiteit is aansteeklik.
“Anders as ander wyndruiweboere in die streek, glo ek nie ek is ‘n chenin-koning nie, maar wel ‘n shiraz- en hanepoot-koning,” sê hy spottend, met verwysing na ‘n groot advertensiebord langs die pad na sy plaas wat die streek as “Chenin-konings” aandui.

Mountain Bee se handgemaakte seep met byewas en propolis voed, beskerm en ruik heerlik.

Sy druiwe-aanbod sluit in: colombar, sauvignon blanc, cabernet sauvignon, chenin blanc en dan sy gunstelinge, hanepoot en shiraz, om maar net ‘n paar te noem. Danie lewer sy druiwe aan Waboomsrivierkelder, waar hy ‘n lid is. Hy is ooglopend trots op die vordering wat daar gemaak word, veral onder die nuwe wynmaker, George Kruger.

“George het sommer al in sy eerste jaar by die kelder ‘n dubbelgoud gewen vir sy sauvignon blanc by Veritas. Ek glo hierdie jong man gaan ons kelder nog ver bring,” vertel Danie.

Danie Zeeman wys ons hoe massief groot die trosse druiwe hierdie jaar is.

Danie is optimisties oor die wynbedryf, en ná ‘n uitbetaling verlede jaar wat met 29% gestyg het, ondanks die feit dat die oes 14% kleiner was, sien hy uit na hierdie jaar se verloop.

“Hierdie jaar lyk die oes nog beter. Ek en Lorraine het vanoggend deur die wingerde gery om te kyk hoe dit vorder en was verras oor hoe die trosse nou al lyk. Verlede jaar het ons ‘n swak oes gehad, maar die huidige wynpryse is klaar 13% hoër as verlede jaar, en die oes lyk of dit weer sowat 19% groter gaan wees. Hier hang ‘n verskriklike oes. Die chenin was swak, maar die ander kultivars doen baie goed. Met so ‘n oes is ek baie optimisties en positief oor die wynbedryf.”

Hy sê dat verlede jaar 13 000 t op die plaas gepars is, en hierdie jaar mik hulle vir 16 000 t – boonop teen ‘n prys van R500/t meer as verlede jaar.

Jong wingerd groei reeds welig op Witelsboom, en verwagtinge vir die nuwe seisoen is hoog.

“Dit gaan ‘n goeie jaar wees.”

Hy gaan vanjaar shiraz, colombar, pinotage en hanepoot aanplant, oor die goeie opbrengs wat hy kry – tot soveel as 30 t/ha. Hy sê sekere kultivars werk beter met sekere opleistelsels, en hy het hulle al almal beproef.

“Met pinotage het ons al by die 40 t/ha afgehaal, al is die streek nie juis bekend vir hoë tonnemate nie, danksy die goeie, diep rivier- en ou slikgronde. Maar daar is ‘n negatiewe kant in die boerdery ook. Ek gaan al my perskes uittrek. Die oes is reeds af, en ek begin sommer hierdie week al om stootskrapers in die eerste boorde in te druk. Die prys is reg, maar ek is moeg vir die onsekerheid oor die voortbestaan van die verwerkingsaanleg op Ashton. Dis ‘n risiko wat ek nie langer bereid is om te neem nie,” sê hy duidelik onstoke oor die skynbare onbeholpenheid om die aanleg se probleme uit te stryk.

Hy sê dat hy goed gedoen het met sy perskes, maar die moontlikheid dat die aanleg in Maart gaan sluit, het hom gedwing om besluite te neem vir die toekoms van sy boerdery.

“Ek het vanjaar 15 ha wyndruiwe geplant. Dit was ‘n laat begin na die vloedskade, en ek gaan waarskynlik nog 30 ha plant, maar ek gaan net vier kultivars in die plek van die perskes aanplant.”

Hy is ooglopend trots op sy druiwe en wys foto’s van die huidige drag – groot trosse en groot korrels, veral van die shiraz en hanepoot. Hy sê hanepoot is ‘n kultivar wat goed doen by hulle, en diefstal is min, omdat hulle ver van die dorp af is. Sy wingerde is ook nie altyd die netjiesste nie, maar hy glo “vuilgrond-boerdery” help soms omdat die son dan nie van die kaal grond af weerkaats en die druiwe van onder af brand nie.

“Dit gaan goed by ons kelder, so ek gaan voortaan op die druiwe konsentreer. Ek is nie baie bekommerd oor die beplande verhoging van aksynsbelasting nie, geen mens sal dit met 80% verhoog soos party gerugte beweer nie. As die wynpryse wat ons kry met 29% styg, nog 13% groei, en as die regering dan net 2% of 3% vat, sal dit nog steeds goed gaan met ons.”

Danie vertel dat die grootste uitdagings die laaste twee jaar die vloede was, wat die streek geteister en groot skade aan die wingerde en infrastruktuur veroorsaak het. Hy moes groot herstelwerk langs die rivier en aan bruggies op die plaas doen.

Wanneer sandsuikerheuning gemaak word, stoot die heuning al die onsuiwer-hede na bo – dit kan maklik afgeskep word tydens verdere produksieprosesse

“Die Breërivier en Witelsrivier loop albei oor my plaas, en een van die probleemareas is waar die twee bymekaarkom, want dan oorstroom alles. Die hele plaas was feitlik onder water, maar dis reg, want nou lyk dit weer mooi. Ons moes sand uitry, wat baie geld gekos het en ‘n onbeplande uitgawe was. Dan kom die herstelmasjiene en trap al jou pype stukkend, en dan moet dit oorgedoen word.”

VUUR EN WATER – NATUURELEMENTE WAT BOERE TOETS

Die brande van verlede jaar het ook deur ‘n gedeelte van sy plaas getrek. Die plaas is 600 ha groot, waarvan ‘n groot deel berggrond is, wat gebrand het.

Mountain Bee verkoop talle gesondheids- en velsorgprodukte, waar-van baie propolis bevat, wat unieke gesondheidseienskappe het.

“Wat vir my bemoedigend was in daardie tyd, was die mense met hul sogenaamde ‘bakkie-sakkies’ – boere en ander met bakkies met watersakke en pompe agterop, wat spontaan kom help het om die brand onder beheer te kry. Hier was klompe van hulle, en ek het net minimale skade gehad.”

Ons ry ‘n draai deur die plaas. Hier hang beslis vanjaar ‘n uitstekende oes met blok op blok wingerde wat swaar in die drag staan. Danie gebruik verskillende opleistelsels en is trots op sy 3-kordon-stelsel, wat net soveel dra as die twee stelsels wat meer algemeen gebruik word.

Sy perskes word tussen Kersfees en Nuwejaar geoes en is teen die einde van Januarie afgehandel. Daarna is daar gewoonlik ‘n ruskans van sowat twee weke voordat hy begin pars, afhangend van hoe vinnig die druiwe ryp word. Hy het 30 permanente werkers en huur nog 30 tydens die oesseisoen, maar voorsien dat hy met die perskes wat nou uitgehaal word, minder seisoenale werkers sal benodig.

Oor waterbeskikbaarheid is hy ewe optimisties en sonder bekommernis. Hy spot as hy sê hy mis eintlik die beurtkrag, want dan het hy altyd water gehad wanneer ander produsente nie kon pomp nie. Hy gebruik mikrobesproeiing en waterretikulasiestelsels, wat water direk uit die rivier pomp en deur die wingerde versprei. Kunsmis en voeding word ook deur hierdie stelsel toegedien.

Sowat 90% van sy water kom uit die rivier, en hoewel hy ‘n vasgestelde kwota het, word hy nie ingeperk nie, danksy sy lang rivierfront.

’N NUWE HEUNINGSTORIE BEGIN

Danie het vanjaar teruggekeer na die ou metode van stuifswael, wat ‘n groot kostebesparing beteken. Die laaste twee bespuitings wat hy sou doen, is nou deur net een stuifswaelbehandeling vervang, wat hy slegs in elke vierde ry toepas. Dit kos hom sowat R200/ha. ‘n Sak swael kos R400, en hy gebruik 12,5 kg/ha. Sy totale koste beloop dus R200/ha, plus diesel. Hy glo hulle moet meer tonne per hektaar oes terwyl spuitkostes beperk word.

MOUNTAIN BEE – NATUURLIK MOOI

Danie vertel dat hy in 2019 as stokperdjie met bye begin boer het, maar toe handuit geruk het, en nou het hy amper 800 korwe.

“Toe gaan swot my dogter om ’n sjef te word en kwalifiseer as ’n internasionale sjef, maar sy het gou besef dis harde werk, naweke en lang ure. Ek het haar gevra om my met die bye te help. Nou maak sy ’n verskeidenheid salwe, olies en gesondheids- en skoonheidsprodukte van die byewas en heuning, soveel so dat sy voortdurend druk op my plaas om nog heuning te kry. Verlede jaar het ons 4 t heuning uitgehaal en 4 t ingekoop. Ironies genoeg is sy allergies vir bysteke, en ons moes noodprotokolle instel, net vir ingeval.”

“Ons korwe staan hier op ons plaas, maar ook in Robertson, Tulbagh en Sutherland. Glo dit of nie, maar daar is baie kos vir die bye. Daar is ’n Karoobossie met geel blommetjies wat maroenheuning gee – dis ongelooflik mooi. Sy maak botterheuning daarvan deur die sandsuikerheuning te klits. Die enigste probleem is dat jy dit nie in die somer kan maak nie, want dan smelt dit weer terug na heuning.”

LORRAINE SE PASSIE VIR PROPOLIS

Lorraine vertel dat sy talle produkte van die heuning maak, maar veral fokus op die gebruik van propolis.

“By Mountain Bee maak ons ’n groot ophef van propolis, want dit is uitstekend vir die vel en baie ander dinge. Propolis is die hars van dennebome en dien as ’n natuurlike antibiotika in die korf. Dit bevat meer as 3 000 voordelige bestanddele wat jou vel en immuunstelsel ondersteun. Ons het ’n wye reeks natuurlike, geurvrye produkte sonder preserveermiddels, van salwe en serums tot sepe, wat uitstekend is vir gesigsmaskers en lyfrome. Heuning help ook wonde genees, en ek het ’n wondsproei ontwikkel wat saam met propolis as ’n natuurlike antiseptiese agent werk.”

“Vir my is die ontwikkeling van nuwe produkte opwindend. Ek probeer so elke vier maande iets nuuts. Dit voel soos om ’n sjef te wees wat nuwe resepte beproef. I steal with my eyes and Google to see what works. So het ek agtergekom dat byewas saam met propolis help teen ekseem, en ek het begin om seep daarmee te maak. Ek gebruik ook ander natuurlike produkte soos klapperolie, amandelolie en sheabotter, maar propolis is beslis die beste bestanddeel van almal.”

Lorraine vervaardig ook gewone heuning en verwante produkte en waarsku dat heuning nie in die yskas gehou moet word nie, omdat dit dan maklik versuiker. Haar heuningbesigheid is so suksesvol dat sy byna al die onkoste vir haar troue in April met heuninggeld kon betaal – voorwaar ’n soete ervaring!

Mountain Bee het intussen gegroei tot ’n volwaardige handelsmerk met ’n omvattende reeks produkte wat insluit: heuning, botterheuning, lipbalsems, byewasvadoeke, gesigs- en lyfsalf, wondversorging, sowel as bekostigbare geskenkpakke vir spesiale geleenthede. Die maatskappy beklemtoon omgewingsvriendelike verpakking, etiese byeboerdery en plaaslike produksie. Elke potjie en botteltjie is met sorg gemaak.

Besighede en gesondheidsbewuste klante in die Wes-Kaap begin kennis neem van die kwaliteit en integriteit van Lorraine se produkte. Haar volhoubare benadering, diep respek vir die natuur en ‘n sterk fokus op die wetenskaplike voordele van byewas en heuning maak Mountain Bee ‘n handelsmerk om dop te hou.

Besoek www.mountainbee.africa vir meer inligting, en om van Lorraine se natuurlike produkte aanlyn te bestel.

NAAM: Witelsboom plaas en Mountain Bee. | AREA: Breerivier, Breedevallei, Wes-Kaap | OPSOMMING: Op die plaas Witelsboom word met wyndruiwe geboer, en daar word ook natuurlike produkte soos propolis, heuning en byewasitems onder die Mountain Bee-handelsmerk vervaardig.

Filed under: farmers

by

Danie is an award-winning journalist with three decades of news writing under his belt. He has a special love for local news, having served as the editor of a community newspaper for seven years. He is has also written for most of the daily newspapers and a variety of online news platforms. People and what make them tick intrigues him, but he is also fond of wine, travel, environmental, investigative and a host of other stories. “Being in the outdoors, with people who has a love for nature in their souls, and to put those feelings and experiences into words, is the ultimate challenge to me as journalist.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *