farmers
Leave a comment

“Ons boer met water en verkoop melk” – Doornkraal se boerderyleuse

Om by die drie broers Corné, Kosie en Sakkie du Plessis van Doornkraal Melkery aan te kom vir ’n 09h00 afspraak, en die afspraak word uitgestel tot 10h00, is ongetwyfeld ’n voorreg. Die voorafgaande word sonder ’n kriesel ironie bedoel. Vir die oningeligte kom die miernes van aktiwiteite voor as onverdunde chaos. Corné woel agter sy rekenaar en maak aantekenings in ’n notaboek. ’n Rits elektroniese monitors flits syfers langs hom wat gedurig verander. Kosie kom die vertrek binne, kyk nie links of regs nie, loer na iets op sy rekenaar en is weer vort.

Woorde: Hein Eksteen | Fotografie: Michel dei-Cont

Doornkraal se melkbeeste wei op uitgebreide, groen weidings met die Sondagsriviervallei se bergreeks as agtergrond – ’n landskap waar doeltreffende bestuur en natuur hande vat.

DRIE BROERS, EEN VISIE

Drie broers wat saam boer. Bring dit orde aan die oënskynlike chaos, of lei dit tot nog meer ongeordenheid?

Corné sê: “Nee, ons werk baie goed saam. Ek doen die finansies en is verantwoordelik vir al ons nuwe ontwikkelings. Kosie is die plantman. Hy hou meer van die bewerking van die lande en die besproeiing. Dit is ‘n baie belangrike deel van ons besigheid, aangesien ons basies weiding vat en dit in melk omskakel. Laastens is Sakkie verantwoordelik vir al ons verse en droë beeste.”

Die drie broers is die eerste geslag op die plaas, en hulle moes die besigheid laat werk of alles verloor.

“Ons drie gaan uiteindelik nie die ware vrugte kan pluk nie. Dit is vir ons nageslagte beskore.”

Maar hoe bestuur jy die nageslagte? Wie kry wat? Almal gaan nie op die plaas kan werk nie, maar almal moet tog hul regmatige aandeel kry.

Die ingang na Doornkraal Melkery verwelkom besoekers tot ’n dinamiese plaasbedryf waar melk van hoë gehalte met toewyding en tegnologie geproduseer word.

“Ons het drie maatskappye gestig. Doornkraal Melkery is die operasionele entiteit. Dan is daar Doornkraal Property wat die grond besit, en Doornkraal Livestock wat op sy beurt die eienaar van die beeste is. Die melkery huur dus grond by Doornkraal Property en beeste by Doornkraal Livestock. Die nageslagte bekom dan aandele, en hulle kan besluit of hulle die aandele wil behou of verkoop. Dit bly egter ‘n ingewikkelde saak.”

Streng higiënemaatreëls in die melkstal verseker dat melk onder skoon en veilige omstandighede onttrek en verwerk word.

Die broers se pa, Koos, het oorspronklik buite Montagu in die Wes Kaap geboer. Die vloed van 1981 het soveel van die grond weggespoel dat Koos genoodsaak was om as verkoopsman by ‘n chemikaliemaatskappy werk te kry. Vyf jaar later koop hy grond naby Humansdorp, maar verkoop dit later weer om saam met ander in die melkbedryf in te skakel.

“Soos hulle sê, ’n melkery is soos ’n tronk met oop deure. Driehonderd ses en vyftig dae van die jaar is jy vas.”

Weereens ‘n klein begin en groot gewin. En dan weer die vraag: hoekom ’n melkery?

“Soos hulle sê, ’n melkery is soos ’n tronk met oop deure. Driehonderd ses en vyftig dae van die jaar is jy vas.”

Koeie ontvang tydens melkbeurte hul voedingsaanvulling direk op die draaiende platform, wat hul voeding en produksie optimaliseer.

Een manier om dit draagliker te maak, is seisoenaliteit. Die broers het byvoorbeeld geen koeie meer wat na September kalf nie, en die kalwers is teen Desember reeds gespeen. Gedurende Desember is dit rustiger op die plaas – maar beslis nie stil soos in voete op die strand en sonbril op nie. Die fokus skuif dan na besproeiing en weidingsbestuur, en dit hou almal besig.

Onlangs is 55 ha keilvoer gesny. Die groot wit bale lê soos reusagtige sokkies naby die plaas se ingang. Op die lande waar die mielies afgehaal is, word nou ‘n mengsel van lusern, sigorei, klawer, raaigras en tongblaar (plantain) geplant. Soos die beeste van een weiding na die volgende skuif, word agter hulle weer geplant om nuwe weiding vir die volgende siklus te vestig.

Die draaitafelstelsel maak dit makliker om koeie te melk en te voer sonder spanning of oorbodige beweging in die melkstal.

MELKERY MET RITME EN REKENAARS

Daar is vroeër verwys na ‘n gemiddelde dag in die lewe van ’n melkboer. So lyk dit in praktyk:
“Ons begin teen vieruur in die oggend. Dis die mense wat die beeste moet gaan haal. Hulle vertrek selfs vroeër om te sorg dat die koeie teen vyfuur hier by die stalle is. Intussen is daar twee of drie mense dag en nag by die kalwerkoeie om dop te hou of daar kalwers is wat dalk uitgetrek moet word. Hulle moet ook die merkplaatjies so gou as moontlik om die pasgebore kalwers se nekke sit – dit gee ons die identiteit van die ma en die pa.”

’n Groep Jersey- en kruisraskoeie wag geduldig om gemelk te word by Doornkraal Melkery, waar hulle deel vorm van ’n noukeurig bestuurde produksieproses.

Die nagspan wat die nuwe kalwers monitor, kom dan in en kyk of die nommers op die plaatjies ooreenstem met die data op die rekenaar. Teen sesuur begin die drywers met die besproeiing en neem voer na die plekke waar dit benodig word.

“Teen seweuur kom die dagwerkers aan. ’n Groot deel van hulle woon op die dorp. Hulle bring die koeie en hul kalwers in. Die kalwers gaan na hul hokkies, waar hulle dan hul eerste biesmelk kry.”

Koeie ontvang tydens melkbeurte hul voedingsaanvulling direk op die draaiende platform, wat hul voeding en produksie optimaliseer.

Die werklik besige tyd begin om en by tienuur. Die spanne word afgewissel en gaan dan die kampe voorberei deur die elektriese drade vir die volgende dag se weiding uit te span. Monsters word geneem om te bepaal hoeveel droë materiaal op die land is wat aangevul moet word. Die weiding se NDF (neutrale detergent vesel) word gemeet om vas te stel hoeveel die koeie van daardie gras werklik kan inneem.

Corné du Plessis van Doornkraal Melkery hou toesig oor ’n dinamiese suiwelboerdery waar presisie en praktyk hand aan hand loop.

“Vanaf elfuur tot omtrent tweeuur is daar ’n rustiger tyd waarin almal probeer inhaal – dinge soos instandhouding aan die spilpunte wat oor 850 ha strek.”

Van spilpunte gepraat, twee jaar gelede is die eerste sonkragstelsel voltooi.

SONKRAG EN SPILPUNTE HOU ALLES AAN DIE GANG

“’n Sonkrag pompstasie met ’n kapasiteit van 415 kW buite die rooster, waar drie pompe van 75 kW water na ’n hoër geleë dam stoot, wat dan snags graviteer. En aan die einde van verlede jaar het ons ook sonkrag by beide melkstalle geïnstalleer. Daar is regtig orals goed wat deurlopend onderhou en gemonitor moet word.”

’n Groep Jersey- en kruisraskoeie wag geduldig om gemelk te word by Doornkraal Melkery, waar hulle deel vorm van ’n noukeurig bestuurde produksieproses.

Water vir die plaas kom uit ’n kanaalstelsel wat sy oorsprong by die Gariepdam het. Boere ontvang waterallokasies per hektaar per jaar. Doornkraal se toekenning is 12500 kubieke meter per jaar.
“Die bestuur van daardie water is absoluut sentraal. Ons boer eintlik met water en verkoop melk.”

Teen tweeuur word daar weer gemelk en begin die hele proses van voor af. Die koeie wat onlangs gekalf het, word eerste gemelk sodat daardie waardevolle voeding vinnig by die kalwers uitkom. Die broers verkies kleiner koeie wat baie meer doeltreffend is.

“Op die lande waar die mielies afgehaal is, word nou ’n mengsel van lusern, sigorei, klawer, raaigras en tongblaar (plantain) geplant. ”

“Dit is baie soos ’n ou dame wat lig is en op negentig nog baie beweeglik is. In teenstelling daarmee is daar die baie groot en fris man wie se knieë ingee. Dit werk dieselfde met die koeie. Selfs in die vleisbedryf verkies boere kleiner vee wat beter na hulself kan omsien. Die Nieu Seelanders verwys daarna as ’n easy care cow.”

Doornkraal se melkkoeie is aangepas vir hoë produksie en doeltreffendheid, met honderde diere wat daagliks deur twee moderne melkstalle beweeg.

EN DIE HUISIE BY DIE SEE?

“Ons het nie een nie, en daar is ’n baie goeie rede daarvoor. Ons gaan nooit daar uitkom nie. Miskien ’n langnaweek hier en daar as daar iets soos ’n troue is. Dit is vir ons makliker om gedurende die week tyd af te vat. Maar dan sit jy met die helfte van jou personeel, want jou mense moet afgewissel word. En die kinders is boonop in die skool…”

Die tronk met die oop deure. Met boere wat ongelooflik hard en presies moet werk om, ironies genoeg, as easy care boere te kan leef.

NAAM: Doornkraal Melkery | AREA: Cookhouse, Oos-Kaap | OPSOMMING: By Doornkraal Melkery boer die Du Plessis-broers met melkbeeste op groot skaal, en fokus hulle op volhoubare weiding, presisie-besproeiing, gesofistikeerde melkstelsels en sonkragoplossings om hul moderne melkbedryf doeltreffend aan te dryf.

Filed under: farmers

by

Hein is a wandering collector of stories who lives by the words of Lee Marvin in Paint Your Wagon, "I’ve never seen a sight that didn’t look better looking back." He was born and bred in the Western Cape, but criss-crosses Southern Africa in this quest.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *