Ecotourism, Events, News, Subscribe, Uncategorized
Leave a comment

R35 000 prys wag vir die reus van 2026

Daar heers groot opgewondenheid oor die komende Goliat van Gat Pampoenfees, ’n geleentheid wat jaar na jaar groei en verbeter.

Die Cullinan Boere-unie (TLU SA) is trots om reeds die afgelope 22 jaar die organiseerder van hierdie unieke fees te wees. Die 2026 Pampoenfees vind plaas op 14 Maart 2026 by die Lavender Kontrei Markin Wonderboom. Soos altyd wag daar iets vir die hele gesin, van kinderspeletjies en musiek tot stalletjies en die gewilde kompetisie met reusepampoene.

Deelnemers is reeds hard aan die werk om ‘n kans te staan vir die R35 000 prys geborg deur Laeveld Agrochem vir ’n 1-ton pampoen. Benewens hierdie groot prys, is daar ook verskeie ander kategorieë, waaronder die opwindende nuwe kompetisie vir jong, opkomende kwekers onder 16 jaar. Cornelis Bester, wenner van die afgelope twee jaar, het hom daartoe verbind om hierdie jong deelnemers deur die seisoen te ondersteun met raad en mentorskap.

Die pampoenpitspoeg en die pampoenresies is van die groot hoogtepunte van die dag en sorg elke jaar vir baie vermaak. Daarbenewens is daar die pampoengeregkompetisie, waar belangstellendes hul gunsteling pampoengeregte kan inskryf. Steyn’s Culinary School tree as borg en beoordelaar op.

Ons nooi ook borge en uitstallers uit om betrokke te raak. Borgskap speel ’n belangrike rol in die sukses van die kompetisie, en ’n verskeidenheid borgskapspakkette is beskikbaar wat uitstekende blootstelling aan produkte en dienste bied.

Pitte is beskikbaar vir voornemende deelnemers wat vanjaar wil deelneem.

Henri Combrink, organiseerder van die Pampoenfees, sê dié fees bied meer as net vermaak. “Dit skep ook ’n platform om die publiek bewus te maak van die uitdagings waarmee boere in die landbou daagliks te kampe het. Verder dra die fees by tot die gemeenskap deurdat alle ingeweegde pampoene geskenk word aan welsynsorganisasies vir verspreiding onder behoeftige mense en gemeenskappe.”


Kontak gerus vir Henri Combrink by culliboer@gmail.com vir meer inligting

Organiseerder van die Goliat van Gat Pampoenfees

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *