Green Farms Nut Company (GFNC), Suid-Afrika se voorste makadamia-verwerker en -bemarker, het teruggekeer van ’n tweeweeklange tegniese besoek aan Australië met nuwe insigte wat die wêreldwye makadamia-bedryf kan beïnvloed.

Die besoek is gelei deur Barry Christie, GFNC se Groep-Landboutegniese Bestuurder, en Dr. Armand Smit, Tegniese Bestuurder vir KwaZulu-Natal. Hulle het die onderneming se verwerkingsvennoot, Suncoast Gold in Gympie, besoek, asook vooraanstaande boorde in Bundaberg en Nieu-Suid-Wallis, en vergaderings gevoer met kundiges Dr. Chris Searle en Dr. Theunis Smit, albei gesiene tegniese kenners in Australië se makadamia-sektor.
Volgens Christie was die doel van die besoek meer as net inligting insamel: “Ons wou vasstel waar Suid-Afrika reeds uitblink, en watter Australiese praktyke ons winsgewendheid verder kan verbeter.”
Verwerking en gehalte bly ’n Suid-Afrikaanse sterkpunt
Die toer het by Suncoast Gold begin, waar die span waardevolle perspektief gekry het oor internasionale verwerkingspraktyke. Christie sê dit was bemoedigend om te sien hoe Suid-Afrikaanse fabrieke steeds wêreldstandaarde handhaaf — ’n bewys dat GFNC se verwerkingsgehalte wêreldklas is en vertroue by produsente en kliënte versterk.

Meganisering en boorddigtheid
In Bundaberg het die span een van Australië se mees ambisieuse nuwe makadamia-ontwikkelinge besoek — ’n 1 400 hektaar-boord wat net twee variëteite bevat teen ’n ultradigte 6×3 m-plantdigtheid, ontwerp vir meganiese oes. Die presiese voorbereiding van die boord — van klipverwydering tot uiters gelyke grondoppervlaktes — het groot indruk gemaak.
Christie merk op dat hierdie styl van intensiewe plant digtheid moontlik nie altyd vir Suid-Afrikaanse toestande geskik is nie, maar dat die Australiese model waardevolle lesse bied oor hoe variëteitskeuse, snoei en meganisasie saamwerk vir doeltreffendheid.
Grondgesondheid: Suid-Afrika se voordeel
Australiese boorde staar ’n duidelike kompromie in die gesig: meganiese oes beskadig die grondoppervlak waar makadamia-wortels groei. Om dit te herstel, belug produsente jaarliks die boonste 10 cm van die grond en meng kalk en organiese materiaal in.
In teenstelling hiermee bly Suid-Afrikaanse boorde, waar handmatig geoes word, ryk aan natuurlike deklaag en organiese materiaal — ’n voordeel wat grondgesondheid en opbrengs ondersteun.
“Hier lê ’n besliste mededingende voordeel vir Suid-Afrika,” sê Christie. “Gesonde gronde is die basis van volhoubare boorde, en dit is ’n sterkte wat ons moet beskerm.”

Navorsing en biodiversiteit
Nog ’n interessante waarneming was die amper totale afwesigheid van siektes of voedingstekorte in Australiese boorde. Christie meen dit kan dui op unieke mikrobes in die grond — ’n moontlike nuwe rigting vir internasionale navorsing.
Die span het ook ontmoet met Ian McConachie, ’n veteraanprodusent wat toegewy is aan die bewaring van wilde makadamia-bome — ’n herinnering aan die spesie se brose oorsprong en die belangrikheid van kommersialisering vir oorlewing.
’n Sterk, maar ontwikkelende posisie
Christie en Smit glo Suid-Afrika bly wêreldwyd sterk geposisioneer, veral in grondgesondheid en volhoubare boordbestuur. Tog bied Australië se vooruitgang in genetika, digtheid en snoeipraktieke waardevolle geleenthede vir plaaslike toepassing.
“Die ware geleentheid lê in wedersydse leer, nie kompetisie nie,” sluit Christie af.
Besoek gerus www.gfnc.co.za.

