Klimaatkundiges waarsku dat Suid-Afrika die komende 2025/26-seisoen waarskynlik volledig onder die invloed van ’n nuwe La Niña-fase gaan wees. Vir boere in die somerreënvalstreke beteken dit ’n hoër kans op koeler, natter toestande — met groot opbrengspotensiaal, maar ook beduidende risiko’s.

Volgens die ENSO-verwysingsgroep is die sein nou duidelik: La Niña-toestande neem vinnig vorm aan. In provinsies soos die Vrystaat, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en Gauteng kan bogemiddelde reënval gunstig wees vir gewasse soos mielies, sojabone en sorghum. Koeler temperature kan fotosintese stabiliseer en hitte-beskadiging verminder, maar rypwording vertraag en oes-vensters verskuif. Boere sal dus hul plantbeplanning en veldtoegang fyn moet bestuur.
Siektes, plae en waterbestuur
Natter toestande bring ’n groter waarskynlikheid vir siektes en plae. Produsente kan veral die volgende tendense verwag:
• meer voorkoms van mieliesmuts,
• groter aalwurmdruk, en
• verhoogde swamsiektes in groente, vrugte en wingerde.
Dit beteken dat produsente hul monitering en voorkomende beheer, insluitend spuitskedules, vroeër en meer doelgerig moet aanpas om plantgesondheid te beskerm. Net so kan waterlogging en verspoelde lande meer voorkom, wat dreineringstelsels en grondvogbestuur krities maak.
’n Seisoen van bosluisdruk vir veeboere
Meer vog skep ideale oorlewingsomstandighedevirbosluise. Dit verhoog die risiko vir hartwater, rooiwateren ander siektes wat deur bosluise oorgedra word. ’n Doelgerigte dip- en moniteringsprogram is noodsaaklik om vinnige styging in populasies die hoof te bied.
Kundiges se boodskap: Berei vroeg voor
Die La Niña-verklaring is saamgestel deur ’n span van vooraanstaande klimaat- en landboukenners, insluitend die Suid-Afrikaanse Weerdiens, universiteite regoor die land, die LNR en ekonomiese insette van AGBIZ. Hulle waarsku dat La Niña wél groot geleenthede vir goeie opbrengste bied, maar slegs vir produsente wat betyds bestuur, beplan en voorberei vir ’n natter seisoen.

