Die regering se aankondiging van ’n tydelike verlaging van die algemene brandstofheffing bring welkome verligting vir Suid-Afrikaanse produsente en verbruikers, maar volgens AgriSA en Agbiz is dit slegs ’n eerste stap. Die twee bedryfsorganisasies sê veel meer sal gedoen moet word om die landbouwaardeketting teen verdere druk te beskerm.

Die verlaging van die brandstofheffing met R3 per liter kom op ’n tyd wanneer internasionale energiemarkte steeds onstabiel is en stygende brandstofpryse reeds begin deurwerk na voedsel- en vervoerinflasie. Volgens AgriSA en Agbiz is die maatreël daarom tydig én noodsaaklik, aangesien dit sowat R6 miljard se verligting vir die land en verbruikers inhou.
“Brandstof kan tussen 12% en 18% van produksiekoste uitmaak — een van die grootste kostedrywers in moderne boerdery.”
Vir landbou is brandstof nie bloot nog ’n uitgawe nie. Dit is ’n kerninset wat reg deur die waardeketting gebruik word, van produksie op plaasvlak en besproeiing tot oes, verwerking en logistiek. In baie boerderystelsels maak brandstof tussen 12% en 18% van produksiekoste uit, wat dit een van die grootste kostedrywers maak wanneer pryse skerp styg.
Volgens die organisasies kan die tydelike verligting dus help om onmiddellike kostedruk te versag. Dit kan ook op kort termyn ’n belangrike rol speel om verdere styging in voedselpryse te demp, iets wat vir produsente én verbruikers van groot belang is.
Druk strek verder as brandstofprys
AgriSA en Agbiz waarsku egter dat die huidige uitdaging nie net by hoër brandstofpryse lê nie. Uit onlangse gesprekke met boere en brandstofverskaffers blyk dit dat die sektor met ’n kombinasie van prysstygings, voorsieningsbeperkings en operasionele onsekerheid op plaasvlak te doen het. Dit is veral kommerwekkend in aanloop tot die komende produksieperiodes vir winter- en somergrane.
Hierdie druk kom boonop op ’n tyd wanneer baie produsente reeds in ’n lae-marge-omgewing werk. Relatief lae kommoditeitspryse, saam met verhoogde insetkoste, beteken boerderybedrywighede is reeds kwesbaar vir enige verdere skokke.
Brandstof is ook nie die enigste inset wat onder druk is nie. Kunsmis, wat in baie gevalle tussen 35% en 50% van produksiekoste kan uitmaak, toon ook opwaartse druk weens wêreldwye voorsieningsversteurings en geopolitieke risiko’s. Dit plaas verdere finansiële spanning op produsente en verhoog die sektor se sensitiwiteit vir nuwe ontwrigtings.

Meer gerigte ingryping nodig
Teen dié agtergrond sê AgriSA en Agbiz die tydelike verlaging in die brandstofheffing moet as deel van ’n groter pakket oplossings gesien word. Die organisasies herhaal hul oproep vir addisionele, doelgerigte maatreëls om markreaksie te verbeter en voorsieningskontinuïteit te help verseker.
“Die uitbreiding van die dieselrabat tot 100% is ’n sleutelversoek van primêre produsente.”
Volgens hulle is daar behoefte aan groter buigsaamheid in die brandstofprysaanpassingsmeganisme, insluitend meer gereelde hersienings in tye van skerp wisselvalligheid. Hulle vra ook vir groter deursigtigheid oor nasionale brandstofvoorraadvlakke, oorweging van ’n tydelike verlaging in die Padongelukkefondsheffing, asook die uitbreiding van die dieselrabat vir primêre gebruikers tot 100%.
Die organisasies beklemtoon dat hierdie voorstelle nie bedoel is om ekstra koste op die sektor af te dwing nie. Die doel is eerder om te verseker dat pryse die werklike marktoestande beter weerspieël. Dit kan help om paniekaankope of die terughouding van voorraad te beperk, wat op sy beurt groter stabiliteit in die stelsel kan bring.
Strukturele hersiening sal belangrik wees
AgriSA en Agbiz verwelkom ook die regering se voorneme om oor die medium termyn aan ’n breër ondersteuningspakket en ’n hersiening van die brandstofprysraamwerk te werk. Volgens hulle sal hierdie proses deurslaggewend wees om strukturele ondoeltreffendhede aan te spreek en te verseker dat die brandstofprysstelsel beter in lyn is met die behoeftes van sleutelproduktiewe sektore van die ekonomie, veral die landbouwaardeketting.
Die twee organisasies sê hulle bly daartoe verbind om op ’n konstruktiewe wyse met die regering en ander rolspelers in die bedryf saam te werk, sodat die landbousektor doeltreffend kan bly funksioneer te midde van al hoe meer komplekse wêreldtoestande.

