Events, Farm to Fork, News
Leave a comment

Inskrywings nou oop vir tweede SA preserveerkampioenskappe

Ná die sukses van 2025 nooi Agri-Expo plaaslike vervaardigers om hul beste gepreserveerde produkte op ’n nasionale verhoog ten toon te stel deur in te skryf vir die tweede jaarlikse Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe.

Alle vervaardigers regoor die land kan hul gepreserveerde vrugte- en groenteprodukte soos konfyt, marmelade, blatjang, piekels, pesto’s, olywe en meer vir die tweede jaarlikse SA Preserveerkampioenskappe inskryf. Foto: Verskaf.

Die kampioenskappe is oop vir alle vervaardigers – groot en klein – regoor die land en fokus op gepreserveerde vrugte- en groenteprodukte in ’n wye reeks klasse, insluitend konfyt, marmelade, blatjang, piekels, pesto’s, olywe en meer. Alle produkte moet teen die tyd van inskrywing kommersieel beskikbaar wees, byvoorbeeld in winkels, padstalle, markte of aanlyn.

’n Paneel van 50 kundige beoordelaars, onder leiding van hoofbeoordelaar Susina Jooste, ’n koskenner en opleidingspesialis, sal die inskrywings deur middel van ’n blinde proeproses beoordeel, waarna ’n onafhanklike oudit volg.

Die tweede jaarlikse Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe is oop vir inskrywings tot Vrydag 29 Mei 2026. Foto: Andrew Gorman Photography.

“Die reaksie op die eerste SA Preserveerkampioenskappe in 2025 het alle verwagtinge oortref, met 456 inskrywings van 66 vervaardigers,” sê Breyton Milford, Hoofbestuurder van Agri-Expo en organiseerder van die kompetisie. “Dit bevestig nie net die groeiende belangstelling in gehalte-preserveerprodukte nie, maar ook die waarde van ’n nasionale platform wat uitnemendheid erken. Dit is ’n uitstekende geleentheid vir vervaardigers om nasionale erkenning te ontvang, met rolspelers in die bedryf te netwerk en die kuns van preserveerwerk te vier.”

Compagniesdrift se Makataanstukke is as die 2025 Preserveerproduk van die Jaar bekroon, terwyl 70 produkte van 29 vervaardigers as Suid-Afrikaanse Kampioene en 11 kategorie-wenners aangewys is.

Die SA Preserveerkampioenskappe vier die kuns van preserveerwerk. Foto: Verskaf.

“Agri-Expo is verbind tot uitnemendheid in landbouverwerking oor verskeie sektore heen,” sê Milford. “Hierdie kompetisie vereer uitsonderlike produkte en moedig voortdurende verbetering en innovasie in die preserveerbedryf aan.”

Die 2026 SA Preserveerkampioenskappe word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van goue vennote Hollard, ClemenGold en The Consol Shop – An Ardagh Glass Packaging Company.

Ilse Ruthford met die toekenning wat Compagniesdrift se Makataanstukke as die 2025 SA Preserveerproduk van die Jaar ontvang het. Foto: Andrew Gorman Photography.

HOE OM IN TE SKRYF

  • Inskrywings open op Maandag 4 Mei 2026 en sluit op Vrydag 29 Mei 2026.
  • Die inskrywingsfooi is R150 (BTW uitgesluit) per inskrywing.
  • Om in te skryf, voltooi die aanlynvorm by http://www.sapreservechamps.co.za.
  • Beoordeling vind op Woensdag 29 Julie plaas.
  • Produkte moet op 21, 22 of 23 Julie afgelewer word.
  • Die wenners word op Donderdag 27 Augustus tydens die toekenningsgeleentheid aangekondig.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan charlotte@agriexpo.co.za.
Volg @AgriExpo1 op Facebook, X, Instagram en LinkedIn, en gesels saam met #AgriExpo #SAPreserveChamps.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *