Rooijakkalse bly ’n groot uitdaging vir veeboere en kan tot aansienlike veeverliese en finansiële druk lei. Nuwe tegnologie wat aan die Universiteit Stellenbosch ontwikkel is, kan navorsers nou help om beter te verstaan hoe jakkalse jag, beweeg, vreet en teel – kennis wat uiteindelik tot meer doelgerigte bestuur van predasie kan bydra.

’n Moeilike probleem vir boere
Predasie deur rooijakkalse is lank reeds ’n moeilike kwessie vir veeboere en bestaande beheermaatreëls lewer nie altyd die gewenste resultate nie. Volgens Megan le Roux, ’n doktorale student in die Laboratorium vir Digitale Seinverwerking in die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, is daar min eenvoudige oplossings. Selfs die bekende praktyk van roep en skiet in die nag, waar opgeneemde jakkals- en prooigeluide gebruik word om diere nader te lok, het volgens haar nie die probleem opgelos nie.
Ekoloë meen ook dat die uitdun van jakkalse hul sosiale strukture kan ontwrig. Jonger wyfies kan dan begin voortplant, terwyl ander jakkalse oop gebiede inneem. Volgens Le Roux dui navorsing daarop dat dodelike beheer in sommige omstandighede selfs met verhoogde predasie gepaard kan gaan. Sy wys ook daarop dat rooijakkalsgetalle in Suid-Afrika se veeboerderygebiede toegeneem het, moontlik weens habitatverlies en ’n afname in natuurlike vyande.
Tegnologie hou jakkalse dop
Le Roux het as deel van haar meestersgraad in elektroniese ingenieurswese ’n biotelemetriestelsel ontwikkel wat wild in landbougebiede op ’n afstand kan monitor. Die doel is om meer inligting te versamel oor wat die diere werklik in die veld doen. Rooijakkalse is opportunistiese en besonder aanpasbare jagters, en hul teelgedrag, tydsberekening en werpselgroottes kan onder meer deur die beskikbaarheid van kos beïnvloed word. Deur hierdie gedrag oor tyd vas te lê, kan boere, ekoloë en natuurlewebioloë ’n beter beeld kry van patrone wat andersins moeilik is om raak te sien.
Die stelsel bestaan uit ’n netwerk van draadlose sensornodes wat op vaste plekke op plase aangebring word. Elke node kan beweging waarneem, videomateriaal opneem en terselfdertyd omgewingsdata soos temperatuur en humiditeit versamel. Omdat jakkalse hoofsaaklik snags aktief is, is die nodes met kameras toegerus wat ook in baie swak lig kan opneem. Wanneer beweging waargeneem word, begin die stelsel outomaties ’n videogreep van 30 sekondes opneem, waarna die materiaal verwerk en aanlyn gestoor word.

Wat beteken dit vir die boer?
’n Beter begrip van jakkalsgedrag kan uiteindelik praktiese waarde vir veeboere hê. As navorsers kan vasstel wanneer en waar jakkalse die aktiefste is, watter roetes hulle gereeld gebruik en hoe hul gedrag gedurende verskillende tye van die jaar verander, kan beskermings- en beheermaatreëls meer doelgerig toegepas word.
’n Beter begrip van jakkalsgedrag kan uiteindelik praktiese waarde vir veeboere hê. As navorsers kan vasstel wanneer en waar jakkalse die aktiefste is, watter roetes hulle gereeld gebruik en hoe hul gedrag gedurende verskillende tye van die jaar verander, kan beskermings- en beheermaatreëls meer doelgerig toegepas word.
709 videogrepe in vyf dae
Die stelsel is op ’n landelike plaas en ’n perdeplaas getoets nadat dit eers met simulasiesagteware geëvalueer is. Veldtoetse het gewys dat dit dag en nag betroubaar kan funksioneer sonder dat iemand voortdurend daarna hoef om te sien. Oor ’n tydperk van vyf dae, van 5 tot 10 November 2025, het die stelsel 709 videogrepe van 30 sekondes elk suksesvol oorgedra, wat altesaam sowat 1,3 GB se data opgelewer het.
Volgens Le Roux is een van die groot voordele dat bewegingsopsporing, video-opname, omgewingsmonitering en die oordrag van data grootliks outomaties plaasvind. Tradisionele kamerastrikke vereis dikwels dat batterye vervang en SD-kaarte fisies gaan haal moet word. Met hierdie stelsel gebeur die proses outomaties. Elke sensornode het ook sy eie sonkragtoerusting, wat beteken dat dit onafhanklik van die elektrisiteitsnetwerk kan werk. Slegs een toegangspunt benodig internetverbinding via LTE, wat die stelsel ook bruikbaar maak in gebiede met beperkte netwerkdekking.
Le Roux meen die tegnologie kan mettertyd groot hoeveelhede videodata oor die jag-, voedings- en teelpatrone van rooijakkalse en ander middelgroot roofdiere in landbougebiede oplewer. Hierdie kennis kan op die langer termyn help om meer doelgerigte en ekologies volhoubare maniere te ontwikkel om probleemdiere en predasie te bestuur.

