Farm to Fork
Leave a comment

Honingklip wys hoe met Belgiese mikro-bier

Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Dewald Kirsten

“Wel, die bier-ding het lank voor dit begin,” sê Mark met sy tipiese direktheid. “Ek is uit die skool uit geskors vir bier. Ná Nederland was ons vir drie jaar in Engeland. As jy daar woon kom jy in aanraking met ‘n groot hoeveelheid interessante bier. Wat ons in Suid-Afrika gehad het, was maar boring. Ek het elke week ‘n krat bier gaan koop; twee van ‘n soort. Daar was ‘n plek in Amsterdam, Bierkoning, met ‘n duisend soorte bier. Hulle het my vir ‘n lang tyd besig gehou,” lag hy.

Mark, Jon en Analize. Daar word beslis genoeg gelag by Honingklip, maar bier is ‘n ernstige saak.

Toe hulle terugkom wou Mark sy eie bier begin maak. “Analize bought me a brewing kit for Christmas 2005, those were early days for homebrewing in SA. It lay in the cupboard till middle 2006 and she said, ‘If you don’t use it I’m going to throw it away.’ We brewed it and it was awesome.”

Die uitsig uit die brouery oor die eetplek. Teen die muur verouder vaatjies bier.

In daardie stadium het hulle nog in Woodstock gewoon. Die patroon was om elke tweede naweek na sy oom en tannie se plaas, Honingklip, te ry, daar te gaan bier drink en brou, en die Sondag weer terug te ry. Die plaas het toe nog inkomste uit die maak en verkoop van droë blomme verkry. Mark het intussen by twee veilings byna ‘n motorhuis vol ingevoerde bier aangekoop, saam met ‘n stuk of twaalf krane, ‘n spul vate en hope ander brou-toerusting.

Dis die lekkerste om buite te sit en eet. Kinders en soet troeteldiere het ‘n reuse grasperk om hulleself op te vermaak.

“There were chillers, there were bottles, there were kegs. We drove up and down for about three days. By the time we were finished, my whole garage was covered in about three layers of beer. Which took us quite a long time to drink,” voeg hy by.

Vier soorte mout en korrels hops.
Bottels word vier op ‘n slag met die hand gevul.

Vir die sowat vyf jaar wat die tuisbrouery op die plaas aan die gang was, het Mark-hulle hulle resepte verfyn.

Toe Analize die brou-stel gekoop het, het sy ‘n advertensie vir Southyeasters Homebrewers Club gesien. Anders as vandag was die klub nog baie klein – met so om en by 10 lede. So geleidelik het die Ter Morshuizens die administrasie begin oorneem. Spoedig was Analize president van die vereniging, ‘n posisie wat sy vir byna agt jaar beklee het. Teen die einde van hierdie tydperk het hulle vir ‘n broulisensie aansoek gedoen en toe dit toegestaan is, onmiddellik op Honingklip begin bier verkoop.

Jon, met ‘n keurig opgediende bord van een van sy skeppings.

Die biere was reeds baie lekker toe ek hulle daardie tyd ontmoet het. Op die oog af was dit in ‘n sagter, meer vrugtige styl gebrou as waaraan ek gewoond was en nie een keer het ek ‘n swak of foutiewe bier geproe nie. Die posisie hoog teen die bult met ‘n uitsig oor die Botriviervallei en die Karwyderskraalberge het ook geen skade gedoen nie. Die ligging en bier was eenvoudig net te goed om nie ‘n restourant ook te hê nie.

“I put beer in everything,” lag hy as ek hom hieroor uitvra, “especially in me.”

Watter geluk veroorsaak het dat Jon Light Mark se advertensie beantwoord het, is moeilik om te sê. Jon is nie sommer net ‘n sjef nie. Meeste van sy ondervinding is in Engeland opgedoen – hy het onder andere as chef de partie onder ‘n sjef met nege Michelin-sterre by ‘n klub gewerk; hy het ‘n slaghuis met plaaslike vleis-, kaas- en ander produkte van die grond af opgebou en ‘n konsultasiebesigheid bedryf. Jon is die soort sjef wat weier om tjips te maak of ‘n mikrogolfoond te gebruik. Sy burgers se vleis sny hy self van die been af; hy bak selfs die rolletjies; natuurlik met spent grain en bier. Hy rooster bene en maak gereduseerde souse en blus braaipanne met bier.

Vier proeglasies, met Honingklip se Blonde, Wit, Saison en India Pale Ale.

Behalwe kook, het Jon (nes Analize) van die skerpste neuse wat ek nog teëgekom het. Soveel as wat daar gelag word by Honingklip, is daar doodse erns oor wat oor jou lippe gaan. Die mossels wat Jon vir ons bring as ek my in Mark se uitstekende Naughty Monk vatversuurde bier begin verdiep, is geurig en foutloos vars – natuurlik in bier gekook. Maar dis die gebakte perskes, net soos die ryp appelkose wat in hulle heerlike Lambic-biere ingaan, wat mens amper skok van lekkerte. Ek proe ment en karamel en gebakte graan en room – dis asof jou tong op ‘n wandeling deur perskehemel gaan. Ongelukkig is alles nie myne nie.

“I put beer in everything,” lag hy as ek hom hieroor uitvra, “especially in me.”

Soos altyd is dit ver verby sluitingstyd as ek by Honingklip wegry. Die wind het gaan lê en Analize is weer terug nadat sy met die honde gaan stap het. Voor Jon se kombuis verouder die volgende twee jare se biere stilweg in hulle houtvate, en in my hand is ‘n sak met ‘n paar bottels van Analize en Mark en Jon se nuutste skeppings. Maar waaraan ek die lekkerste dra is herinneringe: aan wat ek pas geëet en gedrink het, maar ook aan die sêgoed, van gek tot diepgaande, wat hierdie sonderlinge groepie mense al weer voor ons kwytgeraak het.

Perskes word in ‘n braaipan flambé voor hulle opgedien word.

Moules Belgique – Mossels in Belgiese styl

Bestanddele:

  • 500 g vars, toeskulp-mossels
  • 250 ml visaftreksel
  • 2 selderystingels met blare, in skyfies gesny
  • 2 groen sprietuie, skuins opgesnipper
  • ’n bossie geplukte platblaar-pietersielie, gebruik blare heel of geskeur
  • 2 knoffelhuisies, dun gesny
  • 200 ml Belgiese styl bier
  • ’n klont botter

Metode:

Verhit die visaftreksel versigtig in ’n diep kastrol of pan. Voeg die seldery, uie, pietersielie en knoffel by om die aftreksel te geur, en bring tot kookpunt. Voeg mossels by, bedek mengsel en stoom vir 4-5 minute. Roer nou en dan totdat die meeste skulpe oop is. Voeg die bier by en verhit weer tot amper by kookpunt, maar verminder hitte sodra dit vinnig begin kook. Teen dié tyd behoort al die skulpe oop te wees (wat wys dat die mossels gaar is). Moenie oorgaar maak nie. Rond met ’n klont botter af, versier met vars pietersielie, bedien saam met die sop en lekker varsgebakte brood. Geniet saam met ’n koue bier. Bon appétit!


Gebakte perskes met gort-krummelkors met perske-gegeurde Ipa-sous

Bestanddele:

  • 6 vars perskes
  • 2 eetlepels strooisuiker
  • 1 teelepel ligte bruin- of goue suiker
  • 2 eetlepels stampkoring of gort, vergruis of in voedselverwerker gemaal
  • 50 g botter
  • 1 bottel India pale ale
  • Kruisement vir versiering
  • Vanielje-roomys of ongegeurde dubbelroom jogurt

Metode:

Vir die perske-sous: Ontpit en sny 3 perskes op, voeg die strooisuiker en IPA by en verhit tot kookpunt; laat dit vir 4-5 minute prut tot die perskes saggekook is en die vloeistof verminder het en begin om dik en stroperig te word. Klits met ’n hand-menger.

Sny die oorblywende perskes in die helfte en verwyder pitte.

Verhit ’n pan of roosterplaat tot baie warm, pak die perskes met oop kante na onder daarop en braai vir 2 minute totdat hulle begin karamelliseer. Draai om en braai die ander kant vir nog ’n minuut totdat hulle net-net sag begin raak. Sit perskes in ’n bak, voeg ’n bietjie botter by en bedek met die stampkoring of gort wat met die bruinsuiker gemeng is. Bak onder ’n rooster tot dit effens bruin word en ’n kors begin vorm. Bedien warm saam met die perske-sous en vanielje-roomys, of met die ongegeurde jogurt vir ’n gesonder weergawe. Versier met vars kruisementblare en sit saam met ’n Indian pale ale of Belgiese tripel bier voor.


Honingklip Brewery: Honingklip Farm R43, Hermanus Road, Botrivier | analize@honingklip.co.za | www.honingklip.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published.