Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Michel Dei-Cont
Dis byna soos om by die huis aan te kom as ons uiteindelik ons Ford EcoSport oor die laaste bult voor die plaas Kromrivier stuur. Skielik lê die vallei voor ons, met die Kromrivier, waaraan die plaas sy naam ontleen, tussen die reguit rye bome, ‘n goeie 50 m ondertoe vanwaar ons staan – die ou grasdak- opstal by die reuse hoenderdruiweboom, die plaasdam, dik van die waterblommetjies, die bleekgroen rytjies splinternuwe wingerd wat lyk of daar ‘n kam deurgetrek is, maar ook die piepklein 150-liter-brouerytjie wat my destyds gelok het, met sy inskripsie: “You can’t buy Happiness, but you can always buy BEER, and that’s almost the same.”


Ek herken byna nie die Nieuwoudts se plaas nie. Die laaste keer wat ek daar was, was dit nog meestal plaas: die eetsaal en plaaswinkeltjie het byna die gevoel gegee dat dit deel was van die oer-oupagrootjie se opstal. En blykbaar was dit inderdaad ook die geval, al was dit aanvanklik die ou waenhuis gewees. Maar nou is daar ‘n nuwe restaurant en ‘n proelokaal wat wydsbeen bo-oor die ou watervoor staan, duur en modern, en wat meer lyk na iets wat mens op ‘n plek soos Tokara sou verwag as hier tussen die skurwe, rooi rotskranse en spitspieke.
“Ek was heeltemal gereed om teleurgestel te word, maar die susters se biere was uitstekend”
Jacques van Zyl
Ek het destyds gekom vir die bier, meer omdat die brouery so ver en eenkant was; en oor wat ek van Melanie se PhD in biochemie, met ‘n fokus op bierbrou, gehoor het. Ek was heeltemal gereed om teleurgestel te word, maar die susters se biere was uitstekend, van die verfrissende sitrus-en-piesang Sandfish Weiss tot die effens swaarder, pampoenkoekieagtige Jan Pampoen, en die donkerder pryswenner Chubbyhead Stout. Maar nou was ons hier vir veel meer as net bier.

DIE SLEE RESTAURANT
Ek is nog besig om hallo te sê wanneer die kos uitgedra word. ‘n Ry klein skaapvleis-hamburgertjies, kompleet met piepklein broodrolletjies en allerlei bygoed, vang eerste my oog. Ek kom agter ek’s goed honger.
Ek en Tania praat vinnig oor watter drinkgoed by watter eetgoed gaan pas. Die romerige botterskorsiesop, wat parmantig in ansjovis- en kapperflessies opdaag, se voor die hand liggende metgesel is Jan Pampoen. Agter die brood koes daar ‘n netjies-gekartelde torinkie gerookte paprika-botter.


Vir die varsgebakte plaasbrood met appelkooskonfyt en plaasbotter wat minute terug nog in die karring was, is die verfrissende kersieblonde Sarie Marais uitgeknip. Die botter sal ook goed proe langs die Chardonnay in hulle wit versnitwyn; so dié bottel kom ook saam.
Dan kom die bobotie saam met suur-soet ingemaakte beet en ‘n bakkie Griekse slaai . Die speseryagtige hop in die Catfish Ale sal die kerriespeserye goed aanvul, reken ons; en die rosé se spookasem-karamelkarakter sal goed werk saam met die rosyne en kaas in die bobotie.

VAN BOKPLAAS TOT BROU-OORD – HOE DIT BEGIN HET
Terwyl ek met Tania gesels, vind ek uit wat destyds die hoofinkomste van die plaas was – stoetboerbok-embrio’s wat Tania se pa, Pip, na Amerika, Australië en Nieu-Seeland uitgevoer het. Maar dit was voor die protokolle te streng geword het.
“My pa het destyds ook met vrugte en groente geboer, maar toe het die pad te sleg geraak,” verduidelik Tania. “Die beheerde atmosfeer waarin hulle die vrugte laat ryp word, het gemaak dat die kneusplekkies wat die vrugte opdoen soos dit oor die grondpad gaan, sigbaar word.”

Vandag boer hulle steeds met boerbokke en merinoskape, maar behalwe die melkkoeie en ‘n paar perde waarna hulle sussie Nadine kyk, is die vee nou almal op hulle ander plaas, Hantamsdrift, iewers tussen Loeriesfontein en Nieuwoudtville, waar die weiding bietjie beter is hierdie tyd van die jaar, en waar daar nie juis luiperds is nie. “Lamtyd kom hulle weer terug.”
Boeta en Eva, die twee Abessiniër-skaaphonde op Kromrivier, het ten minste aan die lammers se lewensverwagting ‘n verskil gemaak. Ek probeer my voorstel hoe meer as vierhonderd bokke en skape heen en weer moet ry op die stuk pad uit die Hantam wat ons pas afgelê het, maar my verbeelding skiet kort.

‘N YSTERHAND UIT DIE VREEMDE – OUMA OLIVE
Dan begin ons praat oor hulle ouma Olive wat lede van die bergklimklub op die plaas begin huisves het. Die Mountain Club of South Africa se spore loop al van hulle oupagrootjie, Wit Andries, se tyd af langs dié van die Nieuwoudts. Net soos die susters vandag, het hulle ouma se hande vir niks verkeerd gestaan nie. Tania stop my ‘n boek in die hand wat Olive geskryf het.
“Ek dink nie hulle het baie van ouma gehou toe ouma hier aankom nie; ouma was nog Brits ook.”
Tania
“Ek dink nie hulle het baie van ouma gehou toe ouma hier aankom nie; ouma was nog Brits ook.” Daar gaan ‘n laggie om die tafel – ek kan my indink. Terwyl ek blaai deur die ou stories en foto’s, hoor ek hoe een sinkhuisie, wat vandag nog in gebruik is, oor die jare ‘n twaalftal-vakansiewooneenhede geword het. Die eerstes het hulle uit Ceres ingebring – tydelike wooneenhede waarin mense gebly het net ná die aardbewing daar.

Benewens die knus kothuisies is daar vandag ‘n uitgebreide kampeerterrein, kompleet met individuele badkamergeriewe asook ‘n reeks luukse kothuise. Daar’s nou ‘n ander soort toeris op die plaas, hoor ons. Dis nie meer net bergklimmers wat na hulleself omsien nie; mense wil nou opgepas en vermaak word.
“My oupa het altyd gesê die mense sê hy’s ‘n lui boer omdat hy huisies vir toeriste op die plaas begin bou het. Voor sy dood toe sê hy: Nou’s almal in die Sederberg lui boere.’”
Tania Nieuwoudt
Ek kan my nie indink hoe dit net die boere self was wat eers hierdie asemrowende gebied kon beleef nie – die rivier met sy disas en rotspoele, die verbysterende grotte en Boesmantekeninge by Stadsaal en Truitjieskraal, die vele staproetes, die Malteserkruis…
Nou, danksy Olive se visie, en haar drie kleindogters en hulle ma se vindingrykheid, is hier vandag ‘n plek waarvan ‘n mens jou net nie kan wegskeur nie.
Twee jaar terug was dit presies wat gebeur het. ‘n Naweek van bierproe het skielik ‘n week geword en veel meer as bier het ter sprake gekom. Ek het uitgevind dat die meeste van die biere hulle name ontleen aan die inheemse visse wat eers hier gehou het, voor hengelaars die riviere met indringerbaarse en -forelle besmet het. Nou was die gesin besig om die inheemse visse in die rivier te hervestig. Die eerste stap sou wees om die indringers te verwyder, of anders vreet die indringervisse maar net weer al die kleiner, inheemse visse op. Hierdie aksie het intussen resultate opgelewer – die dam, net soos die plan is met die rivier bo die keerwal – is nou sonder visse, en hervestiging kan aangepak word.



Toe ek destyds begin wonder het hoe hierdie visse sou lyk, het ek skoon ‘n knop in die keel gekry van hoe doodgewoon lekker hulle Catfish Ale was. Ek het besef daar was iets heeltemal anders aan Melanie en Tania se biere – dít wat ek eers aan die soet plaaswater wou toeskryf, moes ek later herdefinieer: mens kon proe dat ‘n vrou ‘n hand aan hierdie biere gehad het. Waar mens effens oordoende definisie sou verwag, soos in die meeste van die kleinbrouerye se bier, was hier ‘n naatlose elegansie, iets wat ek nog selde elders aangetref het.
Benewens brood en bier is daar allerhande soorte seep, beskuit en lekkergoed in die plaaswinkel. Daar is ook botter en kaas en lang salami’s in die yskas, sommer so tussen die biere. Benewens snuisterye en produkte van ander plase in die omgewing, maak hulle piekels en konfyte, en het hulle ‘n eie reeks gegeurde en ongegeurde soute en speserymengsels. Elke keer as jy met iemand praat, hoor jy van nog iets.
Tania is beskeie as ek haar begin uitvra oor wat hulle nóg alles op die plaas doen. “Ons is maar soos die ‘Amish’ – ons doen maar so ‘n bietjie van alles.” Dan word sy ernstig. “Mense vra hoe ons dit doen, so ver van alles af. Ek dink as mens hier gebore is en grootgeword het, dan weet jy dis maar hoe dinge is. Dis maar net ‘n manier van dink. Dis vir vrouens maar eintlik baie frustrerend. Ek wou altyd nog baie graag op die plaas gebly het. Dit was my einddoelwit. Toe ek geswot het, het ek altyd myself hier op die plaas gesien. Maar in watter hoedanigheid?”

Dis presies hier waar diversifisering ‘n oplossing kan bied, sê Tania as sy sien die boodskap begin deurkom. “Ek wil nie noodwendig in die veld agter die vee aanloop of in die wingerde snoei nie. Ek gee nie om om dit te doen nie, maar mens wil tog vir jouself jou eie plek volstaan – jou eie inkomste genereer. So dis lekker om iets vir jouself hier te doen. Mens kan nie die mark beheer nie. Van my ouma se dae af al help toerisme baie keer die boerdery.”

So goed as wat die bier gemaak is en so lekker as wat die kos is, is Kromrivier tog maar ‘n storie van ‘n plek en sy mense.
En dis net hier waar die brouery tot sy reg kom. Skielik is daar ‘n afsetpunt vir iets wat andersins maklik ‘n logistiese nagmerrie sou kon word. Dis amper soos skarebefondsing, dink ek later. Die mense vervoer nou hulle eie bier huis toe.
Produkte wat op tradisionele maniere op plase gemaak word, verkry unieke eienskappe wat bykans onmoontlik is om elders na te boots. Groente en gewasse proe na die dinge in die grond waarin hulle groei, omvorm deur die mikroklimaat en die manier waarop gewasse verbou word. Diereprodukte ontleen hulle smaak grootliks aan ras en aan wat hulle eet, wat net so afhanklik is van die grond as van plaaslike klimaat en -boerderymetodes. Veel belangriker as wat gedink word, is ook die rol van mikro-organismes. Wanneer ’n mens byvoorbeeld botterroom aansuur, is daar baie spesifieke mikrokulture wat betrokke hierby raak; organismes wat eie is aan die lug en die omgewing, en ook aan die manier waarop die room aangesuur word. Selfs met brooddeeg, waar kommersiële gis gebruik word, kan hierdie plaaslike mikrobe-populasies ‘n rol speel.


En dan is daar doodgewone tradisie en toewyding – ‘n ryk en tyd-deurwerkte vermenging van ou en nuwe idees; plaaslike en aangekoopte bestanddele; nuwe en ou mense se inslag en hand. Op Kromrivier is daar sewe generasies van plaaslike kundigheid – van Tania-hulle se oer-oer-oumagrootjie Anna wat in die 1800’s al dáár brood gebak het, met natuurlike gis en hulle eie graan, tot Melanie se kwalifikasies in voedselwetenskap vandag. Hulle sê ouma Anna se brood kon ‘n week lank hou sonder om te muf. Ek wonder of die jong klomp vandag daarop sal kan verbeter.
Hulle sê ouma Anna se brood kon ‘n week lank hou sonder om te muf.
Dit voel dalk of dit nie die moeite werd is om sulke relatief maklike plaasresepte uit te probeer nie. Ek dink dit sou ‘n fout wees. ’n Mens kry eenvoudig die beste bestanddele wat jy kan – soos steengemaalde graan; as dit van ‘n nabygeleë plaas af kom, nog beter. Plaasmelk sal byvoorbeeld noodsaaklik wees vir die botter. Hoe meer selfgekweekte groente, of in hierdie geval beet van ‘n plaaslike plaas- of organiese markie, die beetslaai bevat, hoe nader aan die kol sal dit proe – dit is as die ‘kol’ ‘n tuisgemaakte plaassmaak is.


PLAASBOTTER:
Die room word eerstens geskei van die melk. Hierdie kan in ‘n kommersiële roomafskeier gedoen word of, soos in die ou dae, deur die melk te laat staan tot die room ’n lagie bo-op vorm en dit dan af te skep.
- ± 5 liter room word suurgemaak vir 2 dae teen kamertemperatuur.
- Die aangesuurde room word dan gekarring tot die botter van die vloeistof geskei het.
- Dreineer die karringmelk en was die botter uit met water tot dit skoon is.
- Dreineer die karringmelk en was die botter uit met water tot dit skoon is.
- Gooi 2 eetlepels sout by en meng alles goed saam. Druk botter tot ‘n baksteenvorm in ‘n blokvorm of botterpers.

OUMA OLIVE SE BROOD:
- 2,5 kilogram broodmeel
- 1 eetlepel sout
- 1,5 liter louwarm water
- ½ pakkie gis (kan vooraf aangemaak word in ‘n klein bietjie van die water)
- Meng alles goed saam. (Meng eers die droë bestanddele en voeg dan bietjie-vir-bietjie die water in.)
- Knie deeglik totdat die deeg soepel is en nie meer aan jou hande plak nie (ten minste 10 minute, maar verkieslik meer).
- Smeer die broodpanne met olie en plaas genoeg van die deeg in elke pan om hom halfvol te maak.
- Laat rys tot die bolle deeg in die panne ongeveer verdubbel het in grootte.
Besigheid: Cederbergpark | Plaas: Kromrivier | Area: Citrusdal | Kontak: bookings@cederbergpark.com | +27 27 482 2807 | www.cederbergpark.com | www.nieuwbrew.co.za