writer: Maryke Roberts photography: Michel dei-Cont
Dew Crisp is een van Suid-Afrika se grootste verskaffers van groente. Die bedryf is oor drie eiendomme versprei: die plaas in Philippi, ’n verwerkingsaanleg in Franschhoek en nog ’n plaas naby Johannesburg. Dít waarmee hulle nie self boer nie, word op kontrak by onafhanklike boere aangekoop om hul daaglikse bestellings van regoor die land te vul.
Derek Hallendorff is die bestuurder by die Dew Crisp-plaas in Philippi. Hy gaan wys ons die verskillende gewasse wat hulle in die donker, vrugbare grond verbou. Sowat 80 persent van die land se slaaiprodukte kom van dié plaas. Benewens ’n baie klein pakstoortjie op die perseel, is daar ook ’n klein winkeltjie waar die publiek douvars produkte kan kom koop.
In die slaai- en groente-afdeling plant hulle verskeie soorte blaarslaai, babaspinasie, seldery, sprietuie, preie, blomkool, uie en botterskorsie. In die kruie-afdeling word roket, wilde roket en koljander geplant.

Dew Crisp het Cape Salads in 2013 oorgeneem en verpak nou heelwat slaai en groente onder hul eie etiket. Hul hooffokus is egter ’n lang lys klante waaronder die land se voorste kettingwinkels.
Die plaas in Philippi beslaan 125 hektaar, maar Derek verduidelik dat hulle jaarliks tussen 350 en 420 hektaar bewerk, omdat die gewasse se siklus in weke getel word. “Sommige gewasse word elke vier weke aangeplant.” In Johannesburg word 150 hektaar by Bapsfontein geboer, maar die klimaatstoestande daar is net sekere tye van die jaar ideaal vir goeie produksie.
Derek vertel dat hulle elke week plant sodat hulle elke week kan oes. Daar is 52 weke in die jaar en 365 dae se werksaamhede op die plaas. Dieselfde groente en slaaie word heeljaar geplant, maar sommige variëteite is seisoenaal. Die plaas het 198 voltydse werkers, maar in hoogseisoen kan die getal tot 300 styg. Heelwat van hulle werk al vir jare op die plaas en baie het as skoolkinders tydens hul vakansies sakgeld kom verdien.

Die saad vir Dew Crisp se produkte is uit Holland afkomstig. Van die saad word in die nabygeleë kwekery – waarin Dew Crisp ’n aandeel het – geplant en dan later in die lande uitgeplant, maar heelwat word direk in die grond gesaai. “Niks is geneties gemanipuleer nie, maar alles is ideaal vir ons en vir ons klimaatstoestande gekweek,” vertel hy.
“Niks is geneties gemanipuleer nie, maar alles is ideaal vir ons en vir ons klimaatstoestande gekweek,”
Derek Hallendorff
Derek verduidelik dat hulle volgens weke beplan. As hulle dus ’n nuwe gewas wil plant of meer van ’n sekere gewas benodig, laat weet hulle die oorsese kweker wanneer hulle wil plant en wil oes en dan werk hulle terug om te bepaal in watter week die saad of plantjie gereed moet wees. “Ons werk altyd etlike maande vooruit om te verseker dat die omdraaityd voldoende is.”
Daar is verskillende spanne vir plant en oes. Alles behalwe die babaspinasie, roket en wilde roket, word per hand geoes. Dew Crisp se tegnologie en masjinerie is uit Holland en Italië afkomstig en ’n nuwe oesmasjien vir laasgenoemde drie gewasse word binnekort afgelewer. Derek sê dat hulle voortaan meer meganisasie gaan inbring om die produksieproses te verbeter, dat hul werkspan beter aangewend sal word en dat dit bevorderingsmoontlikhede vir meer mense sal beteken.

GEWILDE BABASPINASIE
Weens die veelsydigheid daarvan, is babaspinasie by verre hul gewildste produk. Derek lag as hy sê dat hy ’n boksie snesies saam met elke vrag wat hy aan ’n kettingwinkel lewer, kan gee, want “dis die emosioneelste oes wat daar is: as ’n winkel uit voorraad loop, is die verbruiker baie kwaad en die winkeleienaar baie hartseer! Sommige tye van die jaar is ons plaas die alleen-verskaffer in die land en dan moet jy bontstaan. En dis die gewas wat die meeste bestuur verg: jy inspekteer hom verskeie male per dag.”

“dis die emosioneelste oes wat daar is: as ’n winkel uit voorraad loop, is die verbruiker baie kwaad en die winkeleienaar baie hartseer!”
Derek Hallendorff
Daar is heelwat uitdagings wat die bestuurspan in die gesig staar: diefstal is sekerlik die grootste kopseer omdat die plaas word deur ’n gemeenskap wat in erge armoede leef. Daar is geen heinings om die lande nie en baie groente word daagliks gesteel. “Maar dan kom mense ook vir ons waterpompe, besproeiingspype, elektriese kabels, dieselreserwes en vele meer,” vertel Derek. Hulle is tans besig om hul sekuriteitstelsel op te knap.

Uitdagings van die natuur sluit die suidooster, watergehalte en uitermatige hitte in. Een van die grootste peste en plae wat die onderneming se gewasse bedreig, is ertjieblaar-myner, ’n pes wat nou ’n beduidende ekonomiese impak op oeste het.
Al die plaas se water is uit boorgate afkomstig en die droogte het ook hier ’n beduidende rol gespeel omdat die waterkwaliteit drasties agteruitgegaan het. Nuwe gate, op ander dieptes, moes geboor word. Die besproeiingstelsel is ontwerp om die suidooster te bestuur; en windskutte is ook tussen die lande aangebring om te voorkom dat die wind die plante te vinnig uitdroog. “Ons poog dat die sand nie droog word en wegwaai nie, maar eerder klam bly.”

Sanderige grond moet met elke aanplanting met kompos verryk word. Die plaasgrond is alles herwonne sandduine en kraalmis is van kardinale belang. Alle blare en groentereste wat op die lande agterbly, word ook teruggeploeg om die grond vrugbaar te hou. “Dis ’n baie duur manier van boer, maar dis effektief, want hierdie is die ideale groeiplek vir groente en slaaiblare.”
Hy vertel dat die uie wat hier geplant word – veral die rooi-uie – van die beste in die wêreld gereken word.
Van die plaas word die slaai en groente per koeltrok na die Franschhoek-fabriek vervoer. Binne is daar netjiese rye kratte van verkoelde groente. Tien ton vars slaai en groente word daagliks geoes. “En as jy in ag neem hoe lig blare is, is tien ton nie te versmaai nie!”
DEW CRISP SE FABRIEK
In Franschhoek is die reuse fabriek waar produkte verwerk en verpak word, hoog teen die berg in Green Valleyweg. Die hoof uitvoerende beampte, Craig Henry, het weer in by die maatskappy aangesluit nadat hy ’n klompie jare gelede ook daar werksaam was. Hy het intussen ondervinding in ander bedrywe gaan opdoen. Daar werk altesaam 280 personeel op die perseel.
Alle Dew Crisp-blare is Global Gap gesertifiseer om te verseker dat die grond met streng rotasieprogramme teen oorbenutting beskerm word. Craig vertel dat Dew Crisp in 1983 die pioniers in die GFT hidroponiese boerderystelsel was. Dit behels die gebruik van voedingryke water wat voortdurend deur die beddings gesirkuleer word – ideaal vir slaaiblare. Die stelsel is genoodsaak deur ’n groeiende aanvraag na vars, gerieflike produkte, wat reg is om te gebruik en minimum voorbereiding verg.

Die hidroponiese drupbesproeiing word óf in oop beddings, óf onder skadunet of plastiek-strukture gebruik. Die bedekte beddings geniet hul eie mikroklimaat en word teen die elemente beskerm. Dew Crisp was ook die pioniers in die verpakking van die kussing-pakke.
Dew Crisp was die pioniers in die verpakking van die kussing-pakke.
“Alles wat ons aanpak, is geskoei op ons verbruiker se behoeftes en alle veranderinge is ’n direkte uitvloeisel van hul smaak. Ons ontmoet een maal per week vir plaasbestuur en een maal per maand oor nuwe neigings en anomalieë in die voedselbedryf. As daar ’n nuwe kosgier is, kan ons binne 9-12 weke op die aanvraag reageer. “Gelukkig is ons danksy ons klante goed voorbereid op veranderende tendense en kan ons baie goed voorsiening maak vir nuwe neigings,” verduidelik hy.
“Slaaiblare is soos roomys: as die temperatuur te veel wissel, word dit pap en dan kan jy vergeet om dit weer vars en krakerig te kry.”
Craig Henry
Craig sê die slaai en verwerkte groente wat verbruikers by hul naaste kettingwinkel koop, is meestal die vorige dag of twee gepluk. Die ononderbroke koueketting is die rede hoekom produkte langer kan vars bly. “Dit beteken die produkte word nie aan wisselende temperature blootgestel nie. “Slaaiblare is soos roomys: as die temperatuur te veel wissel, word dit pap en dan kan jy vergeet om dit weer vars en krakerig te kry.”
Craig verduidelik dat die landskap waarin hul maatskappy funksioneer, die afgelope 35 jaar het drasties verander. Craig sê sy grootste enkele uitdaging is die onsekerheid rondom die grondbeleid, daarna volg die verbruiker se veranderende behoeftes en ook die druk op waterbronne. Mededingers in die mark kan ook nie buite rekening gelaat word nie.
Hy sê Dew Crisp het toegang tot heelwat grond en is tans besig om ander geografiese liggings te ondersoek om hul risiko’s beter te versprei. Hul ander fokus is om plastiek te verminder en hulle werk saam met die bedryfsleiers om hierdie doelwit te bereik.
Ons stap saam met Hannes Nelson, die produksiebestuurder, deur die fabriek. Oral is mense besig om voerlyne, toerusting en vloere te skrop. Die standaarde is uiters hoog en dis belangrik dat geen kontaminering voorkom nie. Met ons wit jasse, plastiekstewels en haarnette, smelt ons gou weg tussen die hardwerkende personeel. Hannes verduidelik soos ons stap hoe die koeltrokke kom aflaai en hoe die keuringsproses reeds by die aflaaisone begin.

Soos die kratte met groente, slaai en kruie by die fabriek in Franschhoek arriveer, word die temperatuur gemeet en die kratte gemerk: verskaffer, datum ontvang, watter tipe produk dit is. Die produkte word later gewas, verwerk en verpak; alles onder streng regulasies wat as die HACCP-prosedure bekend staan. Gereelde inspeksies word gedoen om te verseker dat die standaarde nooit verslap nie. “Ons werk op die beginsel van eerste in, eerste uit om te verseker dat produkte nie lank staan nie.”
Hulle verpak slaaiblare in kussing-pakke, voorbereide slaaie in bakkies en kussing-pakke, vrugteslaaie in bakkies en voorbereide groente in verskeie verpakkings, afhangend van die klant se behoeftes. Hannes wys ons die werkstasies waar vroue die slaaiblare sny. Benewens ’n snybord is daar ook ’n emmertjie met gesteriliseerde water waarin die messe gedoop word en ook ’n bakkie vir enige insekte of wurmpies wat op die blare gevind word. “Aan die einde van die dag word die insekte getel en die tipe insekte word aangeteken om daardie inligting weer na die plase toe deur te gee.
“Hierdie optiese sortering is vir my op die vlak van Harry Potter – dis pure magic!”
Hannes Nelson
“Uitstaande kwaliteit is waarvoor Dew Crisp bekend is en dis ons trots om daardie reputasie gestand te doen,” vertel hy. Dew Crisp is die alleen-verskaffer van gesnyde blaarslaai vir die land grootste burger-kettings. Hannes vertoef ’n wyle by die reuse masjien wat die sny- en sorteringwerk van die blaarslaai doen en wys die vier optiese kameras wat elke stukkie se kleur toets. “Hierdie optiese sortering is vir my op die vlak van Harry Potter – dis pure magic!” lag hy.
Gemengde slaaiblare soos kruieslaai, Italiaanse slaaimengsel, Sativa slaai, Seasons en rooi koolslaai word verpak en elke komponent word apart geweeg. Italiaanse slaai, Griekse slaai en Franse slaai word in houers gemaak. In die winter word soppakkies volgens resepte wat deur voedseltegnoloë ontwerp is, verpak.
Die blare is selfs onderhewig aan metaalverklikkers voor dit finaal verpak en in koelkamers gestoor word. Vandaar word dit per koeltrok na die onderskeie kettingwinkels se verspreidingsentrums vervoer.
Business: Dew Crisp| Location: Phillipi & Franschhoek South Africa | Tel: +27 (0)21 876 4420 | www.dewcrisp.com
Goeie dag,
Ek is Helena Van As en soek nou al vir jare SJOESJOE sade. Kan iemand my dalk help om die sade te kry. Ek en my man is mal daaroor.
Baie dankie