writer: Leoni Kok
Die Bokkeveld-landskap met sy styl passe, diep klowe en ruwe berge verklap nie ooglopend sy geheime nie. Dit bied die geleentheid om te verken. Die vallei onthul toe nog een van sy versteekte aspekte. Dit is die enigste plek in Suid-Afrika waar witlof (Belgian endive) tans kommersieel verbou word.
BRONAAR SE WITLOF
Dié gewas met sy blomagtige, traanvormige koppe en liggeel blare is heel per ongeluk ontdek. ’n Belgiese boer het rondom 1830 ’n oes van sigoreiwortel in ’n donker stoor gebêre, daarvan vergeet en later gesien dat die wortels wit koppe gemaak het. Die witlof wat vandag veral in Europa gesog is, is daarna deur die Belgiese botanis Brézier ontwikkel.
’n Belgiese boer het rondom 1830 ’n oes van sigoreiwortel in ’n donker stoor gebêre, daarvan vergeet en later gesien dat die wortels wit koppe gemaak het.
Bronaar Plase se witlofboerdery is die breinkind van Besturende Direkteur Fanie van der Merwe. Die Koue Bokkeveld met sy koue winters waar die kwik gereeld onder vriespunt beweeg, is ideaal vir die verbouing van witlof. Hy het aanvanklik op versoek die wortels gekweek vir ‘n besigheid in Stikland wat in 2010 doodgeloop het, daarna het hy egter steeds navrae (veral van restaurante) gekry oor die beskikbaarheid van witlof.

“Ek glo dat daar ’n vyf ton per week mark in Suid-Afrika moontlik is en ek het net ingespring,” sê Fanie.
Die pakstoor en donkerkamers wat vir die witlof ingerig is, lewer tans een ton witlof per week, maar het kapasiteit vir tot vyf ton. Die meeste van die witlof word aan plaaslike supermarkkettings, insluitende Woolworths gelewer.
Hy noem dat hulle 200 mense vir drie weke lank gebruik, net om onkruid uit te trek!
Om die blaarkoppe egter tot in hulle plastiese kussingverpakking te kry, is ’n ingewikkelde proses. Saad word uit Holland ingevoer. Fanie maak ’n vinnige som en raam dat een saadjie (net groter as die punt van ’n balpunt pen) sowat 14 sent kos. Produksie koste per hektaar is bykans dieselfde as om ’n hektaar vrugteboord te vestig (Bronaar Plase, soos in die res van die vallei, se hoofvertakking is kernvrugte). Boonop ontkiem net sowat 40% van die saad nadat dit geplant is.

“Ons het ook nie onkruidmiddels wat vir plaaslike toestande werk nie,” sê Fanie. “Die Europese produkte wat ons ingevoer het was oneffektief, so ons moet die onkruid met die hand beheer.” Hy noem dat hulle 200 mense vir drie weke lank gebruik, net om onkruid uit te trek!
Wanneer die wortels volwassenheid bereik, word dit met die hand geoes en dan gevries tot op minus 1.5 grade. Die wortels word geberg en gebruik soos aanvraag na die produk dit verlang.
Om die gesogte wit koppe te verkry word ’n tweede ontwikkeling van die wortels in donkerkamers geforseer. (Die Engelse bedryfsterm is ‘forced’). Dié ontwikkeling vind hidroponies plaas in beheerde atmosfeer koelkamers, waar die wortels ook van voeding deur die waterlaaie (waarin hulle groei) voorsien word.

Lig is die vyand van witlof, so die forseer-stadium moet baie versigtig bestuur word. Temperatuur, humiditeit, lugvloei en die pH van die water word onder meer deurgaans deur rekenaars gemonitor en aangepas.
“Daardie pragtige geel (blare) aan die bokant van die witkop, raak grasgroen, dan wil verbruikers dit nie hê nie,” verduidelik Fanie die uitwerking van lig op die witlof.

Tans is Bronaar besig met ’n intensiewe bemarkingsveldtog om Suid-Afrikaanse verbruikers meer bewus te maak van dié eksotiese kossoort.
Die krakerige blare, met hul matige bitterheid is verfrissend op ’n somersdag en volgens oorvertelling help witlof om nierstene op te los.
Witlof verleen hom tot ’n wye verskeidenheid gebruike. Blaarbootjies met vulsels vertoon mooi as vingerkos, dit kan vars in slaai gebruik word, geroerbraai word, in die oond gebak word, of jy kan soos ek (nadat Fanie vir my ’n kop in die donkerkamer afgebreek het), dit heel soos ’n appel eet. Die krakerige blare, met hul matige bitterheid is verfrissend op ’n somersdag en volgens oorvertelling help witlof om nierstene op te los.

BRONAAR SE ROOILOF
Rooilof is witlof se boetie, en by Bronaar is dit hul nuutste, en opwindendste, onderneming. Dit is nie net ’n interessante manier om jou slaaie op te kikker nie, maar dit gee ook ’n heerlike vars smaak. Een van die kenmerke is die rooi are op die blare, wat dit baie uniek maak. Dit is ook in groot aanvraag in die restaurantbedryf. Die moderne manier van kos voorsit is ’n groot gier en hierdie pragtige rooilof gee daardie tikkie mooi op die bord.
Farm: Bronaar Plase| Managing Director: Fanie van der Merwe | Location: Koue Bokkeveld, South Africa | Email: fanie@bronaar.co.za