Writer: Engela Duvenage
Ontmoet Michael Woods, bes moontlik die hoogs gekwalifiseerde insekboer in die wêreld. Vir sy doktorsgraad in veekundige wetenskappe het hy navorsing gedoen oor hoe om insekte die beste moontlik te versorg en te voed sodat daar op groot skaal met hulle geboer kan word.
Woods kry op 14 Desember 2019 sy doktorsgraad tydens ‘n gradeplegtigheidsgeleentheid van die Fakulteit AgriWetenskappe aan die US. Hy is die eerste persoon om ‘n PhD te verwerf in die massaboerdery van insekte en hul verdere prosessering tot bruikbare byprodukte. Dié kan byvoorbeeld as proteïenbasis in dierevoeding en voedsame produkte vir mense gebruik word, of in biodegradeerbare verpakking of filters omskep word.
As uitvloeisel van sy navorsing het hy reeds ‘n maatskappy, Susento (dit staan vir “sustainability through entomology” of “volhoubare insekkunde”) gestig, wat nog in sy babaskoene is. Volgens sy planne sal hy aanvanklik ‘n loodsfasiliteit bedryf wat daagliks een ton venstervlieglarwes kan lewer en kan verwerk tot verskillende byprodukte. Hy sal ook kleinskaals met meelwurms en krieke boer. Daarna sal hy graag groter eenhede wil bedryf.
GROEIENDE NISMARK
Woods sê hy het venstervlieë gekies omdat hulle nie ‘n pes is nie, nie siektes versprei nie en ook nie in huise voorkom nie. “Hulle is so skadeloos soos erdwurms,” vertel hy. Woods bestudeer insekboerdery reeds sedert sy meestersgraadjare aan die US, nadat hy besef het dat dit ‘n nismark is wat groot besigheidsgeleenthede bied.
Volgens voorspellings sal die insekvoermark teen 2030 meer as 2300 miljoen Amerikaanse dollar sterk wees, en die verskaffing van insekte aan die voedsel- en voedingsbedryf op 8000 miljoen Amerikaanse dollar staan. “Dis die vinnigste groeiende landboubedryf tans in die wêreld,” vertel Woods, wat in 2010 aan Hoër Jongenskool Paarl gematrikuleer het en daarna ‘n BSc in Veekundige Wetenskappe aan die US begin studeer het.
“Ons besef toenemend die waarde van insekte as voedselbron vir plaasdiere en die mens, om peste en indringerplante te beheer, en om ons te help om van afvalkos en abattoirafval ontslae te kan raak sonder dat dit op die ashope hoef te land,” vertel hy. “Om hierdie dienste te kan verskaf moet mens volhoubaar en op gereelde basis insekte aan die mark kan verskaf. Dis waar grootskaalse insekboerdery inkom.”
Elke deel waardevol
Vir sy MSc het hy spesifiek gekyk na insekvoeding, en wat verskillende inseklarwes gevoer moet word om die beste moontlike eindprodukte te lewer. Sy konsultasiewerk hieroor sedertdien het hom reeds na by die 20 lande geneem. “Soos in die geval met intensiewe produksie van vee speel voeding ‘n groot rol in die sukses sowel as die koste van die produksie van insekte. Net soos ‘n skaap of ‘n bees het ‘n insek ook ‘n behoefte aan sekere voedingstowwe of nutriënte, wat mens in hul kos moet kan verskaf,” vertel Woods
“Insekte bestaan basies uit drie dele: vet, proteïene en ‘n bietjie chitien,” verduidelik hy verder. “Elke deel is waardevol. Mens kan iets met elke deel doen, en mens het nie baie spasie nodig om grootskaals met hulle te boer nie.”
As deel van sy doktorsgraad het Woods ‘n bestaande fraksioneringsproses wat ensieme gebruik aangepas. Daardeur kan vet, proteïene en chitien ten beste afsonderlik onttrek word uit die inseklarwes waarmee hy boer.
Hierdie deel van sy navorsing is gedoen onder leiding van sy hoofstudieleier, Dr Elsje Pieterse van die US Departement Veekundige Wetenskappe, en Dr Neill Goosen van die US Departement Prosesingenieurswese. Hulle is ook nou sy vennote in Susento. Die ontwikkeling van die maatskappy word tans ondersteun deur Innovus, die US se innovasiemaatskappy wat verantwoordelik is vir die kommersialisering en beskerming van idees wat uit die US se werksaamhede ontstaan. Woods sal dit aanvanklik op die Mariendahl Proefplaas van die US Fakulteit AgriWetenskappe bedryf, waar hy reeds ‘n eksperimentele eenheid bedryf wat tot 30 kilogram per dag lewer.
Daar is reeds ‘n handvol maatskappye in Suid-Afrika wat op insekboerdery fokus, onder meer vir die verskaffing van veevoer en insekte vir pesbeheer. Susento is na Woods se kennis die eerste wat ‘n “totale waardeketting” aanslag het, en in alle velde van die insekboerdery betrokke sal wees. Die maatskappy gaan onder meer diëte ontwikkel vir insekte wat in massas geteel moet word as deel van geïntegreerde pesbeheerprogramme of as voer, vir die lewering van vesel soos sywurms of as voedselbronne soos mopaniewurms. Daar sal ook met insekte vir die troeteldierbedryf geboer word, en veral venstervlieë sal in verskillende byprodukte verwerk word.
WÊRELDKENNER
Woods se studieleier, Dr Elsje Pieterse, word beskou as een van die leidende kenners op die gebied van insekboerdery in die wêreld. Dié plaaskind van Namibië speel al sedert haar studentejare meer as 30 jaar terug met die idee om insekte as ‘n alternatiewe, minder waterintensiewe en waterbesoedelende bron van proteïene in veral pluimveevoer te gebruik. Sy het in 2007 met navorsing daaroor aan die US begin. Sedertdien het 21 nagraadse studente reeds onder haar leiding gegradueer met navorsing oor verwante onderwerpe, met ‘n verdere nege wat tans besig is om aspekte van insekboerdery te ondersoek.
Dr Woods is die eerste PhD-student wat sy studies op die gebied voltooi. Een van haar MSc-studente, Mari van Aswegen, het in Desember gegradueer . Sy het bestudeer hoe mens danksy koperbrommers yster en proteïne uit abatoirafval kan oes en dit dan in hoendervoer kan gebruik.
“Insekboerdery is geensins water – of brandstofintensief nie. “Daar kan grootskaals op ‘n baie klein stukkie grond daarmee geboer word. So kan ‘n mens tot 7500 keer meer proteiene per hektaar produseer in vergelyking met ‘n hektaar soja.
Dr Elsje Pieterse
Pieterse vertel dat insekboerdery geensins water – of brandstofintensief nie. “Daar kan grootskaals op ‘n baie klein stukkie grond daarmee geboer word. So kan ‘n mens tot 7500 keer meer proteiene per hektaar produseer in vergelyking met ‘n hektaar soja. Hulle is ook minder waterintensief om mee te boer as soja. Om die waarheid te sê, daar is ‘n nettowins van water as mens met venstervlieë boer, want die proses produseer waterdamp wat dan kondenseer.”
Sy sê die gebruik van insekte om byvoorbeeld vrugtepulp en skille wat by kos- en sap fabrieke ophoop af te breek is tot voordeel van die omgewing. Kos wat op afvalhope ontbind stel metaangas vry, wat sleg is vir die omgewing. Dit gebeur nie wanneer insekte kosse afbreek en verteer nie. Kos wat maande in die grond kan vat om te ontbind, terwyl insekte binne dae daarmee kan klaarspeel. Insekte gaar goeie omega 3-vetsure op as hulle op afval uit visfabrieke en yster in abattoirafval teer. Wanneer hulle op hul beurt aan diere gevoer word, verhoog dit die ystersamestelling van die vleis. Haar studies het gewys dat hoenders wat met venstervlieglarwes gevoer word, meer en groter eiers met sterker doppe lewer. Vleis wat geproduseer is van diere wat insekte gevreet is ook sappiger weens ‘n verhoogde waterbindingskapasiteit.
Dr Pieterse reken ook daar moet meer werk gemaak word van die antimikrobiese peptiede wat insekte produseer, want dit sou as alternatiewe tot antibiotika in die behandeling van infeksies gebruik kan word. Louriensuur in insekte is dieselfde vetsuur as wat in klapperolie voorkom, en kan die immuunstelsel versterk. Die waarde daarvan vir die kosmetiekbedryf word ondersoek.
INSEKTE AS ‘N VOEDSELBRON
“Die mensdom se groeiende vraag na bronne van proteïen is meer as waarin boere kan voorsien uit bestaande dier- en plantbronne. Insekte het die vermoë om hierdie gaping te vul, en daarom is insekboerdery toenemend belangrik,” reken Woods.
Hy weet dat baie mense hul neuse sal optrek by die idee van insekte eet. “Dis veral mense met ‘n Westerse ingesteldheid wat so dink. Onthou, daar’s baie lande waar mense lank reeds insekte eet. Interessant genoeg word voorspel dat die bevolkingsgroei die hoogste gaan wees in lande waar mense juis reeds insekte eet,” vertel Woods.
Onder die talle insekprodukte op die mark regoor die wêreld is byvoorbeeld ‘n kriekgebaseerde energiestafie in Australië.
Hy sê produkte wat vir die Westerse mark geproduseer word, bestaan gewoonlik nie uit heel insekte nie, en word eerder as proteïenmeel en in maaltye waarvan dit slegs een van talle bestanddele is gebruik. Onder die talle insekprodukte op die mark regoor die wêreld is byvoorbeeld ‘n kriekgebaseerde energiestafie in Australië.
Een van dr Pieterse se huidige PhD-studente, Leah Bessa, maak reeds onder die handelsmerk Gourmet Grubb suiwelvrye roomys van venstervlieë. Woods sê die smaak van ‘n insek word bepaal deur wat dit vreet en hoe dit geproduseer word. Die proteïnepoeier wat gemaak word van venstervlieë is maar vaal in kleur en smaak, en daar sal gemaklik geurmiddels bygevoeg kan word.
Die proteïnepoeier wat gemaak word van venstervlieë is maar vaal in kleur en smaak, en daar sal gemaklik geurmiddels bygevoeg kan word.
Hy sê die aminosuurprofiel van insekprotein vergelyk goed met dit wat diere soos varke en hoenders, en selfs mense daagliks nodig het. Dis makliker verteerbaar en word makliker deur die liggaam opgeneem teen ‘n laer metaboliese koste as ander proteïene, veral plantgebaseerde proteïnes.
Volgens Pieterse bevat sprinkane, sywurms en krieke vyf keer meer antioksidante (wat die afbreek van die liggaam se selle keer) as lemoensap of olyfolie. “Die ingeligte verbruiker wat al hierdie dinge weet sal heel moontlik oor die grilfaktor daarvan kom, en fokus op die voordele van insekmeel en poeiers,” reken Woods.
Innovus | info@innovus.co.za | 27 (0) 21 808 3826
I am interested in farming with crickets, can you assist please
Hi Fanie, you can contact Innovus at info@innovus.co.za – 27 (0) 21 808 3826