Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont
Kies koers uit Lutzville in die rigting van Koekenaap en draai ’n ent verby die sandmyn regs op ’n grondpad. Binne minute is jy in ’n ander wêreld. Met ons eerste besoek in Junie 2018 is die sagte heuwels se roesrooi grond skaars sigbaar tussen welige bossies, met plate bottergeel en oranje veldblommetjies soos tapyte tussen die groenigheid. Ná die winterreën verbloem die geil plantegroei die vorige jare se swaarkry, en bied ’n blaaskans voor die verwoestende droogte weer die grond kom kaal skraap. Dit is hier op die buiteplase waar die Hardeveld sy naam gekry het, met ou, gevestigde skaap- en veeplase wat saai vir oorlewing.
KAIINGBESKUIT UIT ‘N ANDER TYD
By Kersbosvlei nooi Neels en Natasha van Niekerk ons na hulle kombuistafel. Natasha het die vorige week al begin bak aan haar tradisionele kaiingboerbeskuit. Sy maak haar eie gis van aartappels wat in water geweek word. Dan maak sy ‘n suurdeeg met weinig suiker en sout, en deurspek met kaiingstukkies. Hierdie gisproses dateer uit die ou dae en die resep kom van Neels se ouma Betta, by wie Natasha leer bak het. Skaapstertjies word fyn gemaal en gebraai voor dit met die deeg gemeng word. Die beskuit proe baie beslis na skaapvet. Natasha bederf ons met beskuit, koffie en ‘n blikkie kondensmelk. Dit voel omtrent of ons ons kinderdae herleef. Terwyl ons kondensmelk in ons koffie drup, plaas Neels ‘n stuk antieke kombuisgereedskap op die tafel. Die swaar staal kerwer was oorspronklik ‘n broodsnyer, maar deesdae gebruik hulle dit om biltong te kerf. Die kerwer is vermoedelik al in sy tweede eeu, maar die dik lem hoef nooit skerp gemaak te word nie. Dit sny deur springbokbiltong soos deur botter.
Neels het duidelik ‘n passie vir landelike oudhede. Ná koffie wys hy ons sy perdekar wat uit 1923 dateer en ‘n paar riempiesbankies wat al baie dekades se sit gesien het. Daar is ook ‘n antieke worsmaker wat hy tans restoureer. Nes die ou broodsnyer, loop die ma-sjien se meganisme glad.
Die Van Niekerks het Kersbosvlei in 2012 gekoop. Hulle kom uit die Springbok-omgewing, waar albei op skool was en mekaar ontmoet het. Neels ken droogte omdat hy ook ‘n plaas in die Boesmanland het. “Ek ken die gesukkel van ‘n skaapboer. Volgens die ouer boere in die Boesmanland, is die droogte dáár die ergste in ‘n hele paar dekades,” sê hy.
In die Hardeveld is daar nie sprake van besproeiing nie en hulle is net op reënwater aangewese. Daar’s boorgatwater vir die diere om te drink en hulle kry 2,3 liter per minuut van Clanwilliam se damwater vir huishoudelike gebruik. Volgens Neels is die probleem dat jy nie hier vooruit somme kan maak nie. “Jy kan sommer sien, al die nederige boere op die dorp kom van die Hardeveld,” sê hy.
SOMERSPENS LOOP LEEG
Neels het 2000 hektaar landerye en die res is buiteveld. “Ons probeer diversifiseer – binne perke – en boer met wol, vleis en graan.” Hy’t voorheen meer Dorperskape gehad, maar het nou 50/50 Dorper en Merinoskape, juis omdat Dorpers gulsiger eters is en in die Hardeveld is kos skaars. Neels verdeel sy saaigrond tussen twee-derdes koring en een-derde weidingsgewasse. “Ons saai nie soos in die Swartland om geld te maak nie. Dis ons spens vir die somer, ons agterdeur vir wanneer dit swaar gaan.”
Vanuit ‘n laaitjie onder die kombuistafel haal hy ‘n paar gevoude velle papier met die plaas se reënvalsyfers uit. Dit begin goed met 265 mm in 2012, gevolg deur 278 mm in 2013 wat ‘n uitstekende oesjaar vir hulle was. Dan sak dit in 2014 na 212 mm.
Volgens Neels het die reënvalpatroon sedert September 2014 radikaal verander. In 2015 val daar net 136 mm, in 2016 ‘n skamele 92 mm en in 2017, ‘n katastrofiese 69 mm. “In hierdie drie jaar kon ons glad nie oes nie. Die are het op die land gevrek van dors en dit het ons amper geruïneer.”
DROOG, DROËR, DROOGTE
Met 215 mm in 2018 kon hulle die jaar net-net deurkom, vertel hy toe ons weer gesels. Maar 2019 was ‘n bitter moeilike jaar met slegs 126 mm wat ver uitmekaar geval het. “Daar was nie opvolgreën nie. Ons het géén oes gehad nie. Soos in nul!”
Omdat daar geen oes was nie, is die bietjie weiding op die lande as diervoer gebruik. Tans koop die hele distrik se boere lusern en mielies aan om hul diere aan die lewe te hou.
Neels se plaas in die Boesmanland, so 110 km van Pofadder, het hom in vorige jare gehelp om die droogte te deurstaan. Wanneer Kersbosvlei in die somermaande kaal gevreet was, het hy sy skape gelaai en van Februarie tot Junie na die Boesmanland gevat waar droogtebestande bossies die skape aan die gang gehou het. “Ons hou die diere nou hier want die Boesmanland-plaas staan kaal. Sodra dit reën sal ek die diere weer daarnatoe vat, maar vir nou hou ek hulle nader aan die voer. Dit help met die aanry-kostes,” sê hy.
HARD MAAR SKOON
Neels saai so goedkoop as moontlik, sonder spuitkoste of kunsmis, want die kleigrond se kwaliteit is goed genoeg. Maar hy moes noodgedwonge die afgelope paar jaar weer saad aankoop. Hy saai op ‘n driejaarsiklus sodat sy grond vir twee jaar rus tussen oesjare. “Ons graan is 100% organies, maar omdat ons wisselvallige oeste het, is dit baie moeilik om ‘n goeie mark daarvoor te beding.
Skaapvleis is hul hoofbron van inkomste, gevolg deur wol. Neels se skape word ook organies geboer en omdat dit so droog is, is die diere gesond. Nog ‘n pluspunt omtrent die Hardeveld is dat dit kort is, gevolglik word die diere se wol nie deur die kort bossies uitgekam nie.
Hierdie wêreld is hard, maar skoon. Min pestilensies en siektes oorleef sonder water. “Kraalbos is ‘n pes,” sê Neels, “en predikantsluis.” Kraalbos is diepgroen en die blare voel sponserig, asof dit ‘n hoë voginhoud het.
Ek kan sien hoekom ‘n honger skaap daarvoor kans sien. Ongelukkig is ’n groot hoeveelheid daarvan giftig vir skape en veroorsaak dit waterpens. Dan moet Neels en sy span met ‘n spesiale apparaat ‘n gaatjie in die geswolle pens maak om die vog uit te trek. Predikantsluis is, anders as wat die naam voorstel, eerder ‘n plant wat koring doodgroei. “So, hoekom word dit predikantsluis genoem?” vra ek terwyl ons deur die veld ry. Neels huiwer ‘n oomblik. “Man, want hulle sê as hy eers op jou plaas kom, dan werk hy hom in al jou sake in en jy kry hom nie sommer weer uit nie . . .”
SEËNINGE EN ’N BIETJIE STAATSHULP
Neels beaam die belangrikheid van balans. Tussen nat en droog, goed en sleg. Met die swaarkry van die vorige paar jaar was daar ook onverwagte seëninge. Natasha het in September 2017 uitgereik na Caring Daisies en hul Gift of the Givers-program. ‘n Paar maande later het sy aangeneem dat hulle van haar oproep vergeet het. Tot die foon die middel November lui met die boodskap: “Maak reg, daar’s ‘n trein op pad!” ‘n Paar dae voor Kersfees arriveer daar toe ‘n trein met 1 600 bale vir die streek se boere. Neels is die afgelope vyf jaar voorsitter van die plaaslike landbouvereniging en hy voel verantwoordelik vir die omgewing se welstand. Die bale is verdeel onder al die hulpbehoewende boere in die kontrei en Kersbosvlei het agt bale ontvang.
Aan die begin van 2018 het hulle ook onverwagse hulp vanuit die Overberg ontvang toe Neels ‘n boer nader om kafbale te koop. Hy het Martin Eksteen van geen kant geken nie, maar toe sê Martin: “Laai soveel bale as wat ‘n Interlink kan vat.” Martin wou geen betaling aanvaar nie en het eenvoudig die bale geskenk.
Die regering het onlangs begin help deur ‘n persentasie van boere se voerkoste te dek. “Die staat het verlede maand 50% van ons veevoer gedek, wat ‘n groot hulp was, maar dit is nie genoeg nie. Reën is al oplossing. Voer is nie genoeg nie,” sê hy.
Hy meen die krisis in 2020 is ongekend omdat die droogte so wyd en syd verspreid is. “Maar ek is hoopvol dat dit in 2020 gaan reën. Dis maar die moeilike deel daarvan. Jy moet vertrou en aanhou.
Ek glo 2020 sal beter wees.”
Farm: Kersbosvlei | Owner: Neels van Niekerk | Location: Lutzville, Western Cape, South Africa | Contact: +27 (0) 217 1931 | kersbosvlei@mylan.co.za