writer: Greta Gericke
Boere wat aansluit by Agritoerisme Suid-Afrika en die EURAC Internasionale Agritoerisme-inisiatief, kan groot sukses behaal. Hierdie boere vervaardig en produseer hul eie produkte wat dan direk aan die publiek bekendgestel en verkoop word. Sodoende word die middelman uitgesny en word beide die boer en die publiek bevoordeel. Produkte wat gelewer word strek van verblyf tot kleinhandel en vorm uiteindelik alles deel van die plaas se addisionele inkomste. Die skep van ’n bestemming of proe-ervaring van landbouprodukte is innoverende en kreatiewe maniere waarop ʼn boerdery bevorder en volhoubaar gemaak kan word.
Hierdie inisiatiewe van boere lei tot groter voedselsekuriteit en die verfraaiing en verbetering van omliggende areas. Agritoerisme is gerig op omgewingsopvoeding en wil mense van alle ouderdomme meer leer oor die natuur en die bewaring daarvan.
Hier volg ʼn paar van ons land se produsente wat by Agritoerisme geregistreer is.
• Assagay Coffee Farm
Hierdie 100% Pure Arabica koffieboerdery maak slegs van organiese kompos en spuitmiddels gebruik. Daar is ongeveer 30 000 bome op die plaas in Harrison Valley geplant. Rick James, die eienaar, het in 1991 7 hektaar grond gekoop waarop daar reeds ’n plantasie koffiebome geplant was. Hy het toe besluit om daarmee te begin boer. Met behulp van navorsing, leiding van die Sapeko Coffee Estate en die Instituut van Tropiese- en Subtropiese Vrugte in Nelspruit kon hy later sy eerste oes pluk. Selfs sy vrou, Lesley, se handwerk word gebruik om die unieke kalikodoekmateriaalsakkies te maak waarin die koffie verkoop word.
www.assagaycoffeefarm.co.za | 084 432 6345 / 084 506 2239 | KwaZuluNatal
• Heart of Abalone
Heart of Abalone is tans een van die grootste perlemoenplase in die land. Ten spyte van sy nederige begin, is dit tans ʼn winsgewende, gediversifiseerde besigheid. Toe perlemoen gevaarlik skaars word, het Dr Pierre Hugo (veearts van Hermanus) in 1984 begin kyk na die teling van perlemoen op land, min wetend dat dit in ’n besigheid sou ontaard. Vandag kan besoekers op hierdie boerdery rondstap, leer oor die lewensiklus van hierdie interessante seeslak en die gemeenskap ondersteun deur plaaslik geproduseerde, perlemoenverwante produkte te koop by die geskenkwinkel. Heart of Abalone fokus op die vereniging van kulture en om mense weer terug te neem na die natuur en hulle te leer om die seelewe te waardeer. Bespreek gerus ʼn toer op Heart of Abalone se webwerf en word deel die beweging.
www.heartofabalone.co.za | 083 556 3428 | Hermanus | Wes-Kaap
• Oakhurst Farm
Hierdie 640ha werkers-plaas op die Tuinroete, waarvan 200ha ongerepte fynbos en inheemse woude beslaan, is al vir ses generasies in die familie. Dit is ’n topgehalte suiwel- en beesplaas en sy skoonheid lok menige toeriste en plaaslike besoekers. Daar is verskeie verblyfopsies om van te kies en die plaas bied ook ’n verskeidenheid aktiwiteite vir die hele familie aan, soos staproetes, fietsry, perdry en visvang, en heerlike varsgemaakte lekkernye soos ontbyt- en braaimandjies staan gereed om geniet te word. ’n Ware plaaservaring soos geen ander nie!
www.oakhurst.co.za | 064 384 1266 | 20km van Wildernis | Suid-Kaap
• Foxenburg Estate
Die Foxenburg-landgoed word erken as ʼn prioriteitsbiodiversiteitsterrein in die Kaapse floristiese gebied en het ʼn gevestigde natuurreservaat op ʼn groot gedeelte van die plaas. Hulle het hulleself daartoe verbind om ’n veilige en besoedelvrye natuurlike omgewing te skep vir die gesondheid van hulle werknemers en vee. Foxenburg wil die beste organiese produkte op die mark bied en die sosiale omstandighede van werknemers verbeter deur opleiding, mentorsprogramme en aktiewe deelname aan al die plaasaktiwiteite. Bokmelkkaas, oestersampioene en olywe kan aangekoop word en daar is verblyf vir 22 gaste in verskillende tipes kothuise.
www.foxenburg.co.za | 021 873 5617 | Wellington | Wes-Kaap
• Papkuilsfontein Farm
Op hierdie gaste-plaas kan jy bly in een van die pragtige gerestoureerde kliphuisies wat uitkyk oor fynbos. Kom besigtig die kloof en sy 100m waterval en ’n Serengeti van blomme wat bekend staan as die “Bulb Capital of the World” in die lente. Gaan stap tussen sandsteenklipformasies en swem in die koel water van die klipswembad. Daar is bergfiets- en 4×4-roetes, en jy kan ook op ’n toer van die plaas gaan en meer leer oor rotskuns, geologie, voëls, veldtipes en al die tipes blomme. Handgemaakte geskenkies en varsgemaakte kos kan by die padstal geniet word.
www.papkuilsfontein.com | 027 218 1246 Nieuwoudtville | Noord-Kaap
• Redberry Farm
Hierdie landgoed word beslaan deur rye en rye aarbeie en daar is ook bloubessies en frambose. Die kothuisies is meer as 120 jaar oud en is deur C.J. Langenhoven se familie gebou. Besoekers kan hul eie aarbeie pluk, wandel in die grootste permanente heiningdoolhof in die suidelike halfrond en op ’n miniatuur- trein ry. Dan is daar nog ponieritte vir die kleinspan, tuisgemaakte framboosroomys, pizza, boetiekbier en plaaslike geurige wyne. Met ’n uitsig oor die Outeniekwa- berge, ’n roomys in die hand en familie of vriende as geselskap kan dit nie veel beter gaan nie.
www.redberryfarm.co.za | 044 870 7123 | George | Suid-Kaap
• Verlorenkloof
By hierdie plaas lewe hulle volgens die leuse “Yoghurt as it should be” – hulle het teruggegaan na die outydse metode waarvolgens jogurt van volroommelk vervaardig word deur net ʼn knippie jogurtkultuur by te voeg en dit met die hand te bewerk. Hulle geheim lê in die topkwaliteit melk wat van hulle trop rasegte Frieslandbeeste gekry word. Die produkte word deur die gemeenskap vervaardig en word direk aan die publiek verskaf. FOODSPACE op die plaas verkoop heerlike tuisvervaardigde jogurt, kaas, brood, eiers, koekies, beskuit en nog meer. Die 23 selfsorgkliphuiswooneenhede is toegerus met onder andere braai-areas, stowe en swembaddens en word twee maal per dag skoongemaak. Vlug uit die besige stad en vind stilte hier!
www.verlorenkloof.co.za | 082 587 0626 | Mpumalanga
• Gamtoos Tourisme
Die Baviaanskloof bied ʼn menigte opsies vir besoekers op soek na verblyf, aktiwiteite, avonture en proe-ervarings. Verblyf in Thornhill, Hankey, Patensie, Loerie, Baviaanskloof en Suid-Baviaanskloof vorm alles deel van die roete wat nie misgeloop moet word nie. Besoekers kan toere, stap- en 4×4-roetes, bergfietsry, perdry, gholf en ander aktiwiteite geniet. Die Kouga- en Loerie-dam is twee moet-sien toeristebestemmings op die lysie, terwyl die Padlangs-padstal in Patensie die ideale stopplek is vir smulpape en diegene wat ’n ruskansie wil vat so tussendeur die ryery op die langpad.
www.baviaans.net | 042 283 0437 | Oos-Kaap Parke & Toerisme Agentskap Oos-Kaap
• South Hill Vineyards
Hierdie boetiek- wynplaas spog met verblyf, ’n kunsgalery wat plaaslike kunstenaars se werke uitstal, ’n konferensiesentrum, ’n restaurant en ’n troulokaal. Die wingerde vervaardig kwaliteit druiwe en wyne en die luukse plaasverblyf is topgehalte. Die King-familie het ’n passie vir wyn en juis daarom het hulle besluit om boetiekwyn te vervaardig. Met hul agtergrond in hotel-, restaurant- en eiendomsontwikkeling het hulle ’n reuse- sukses van hierdie besigheid gemaak. Die hele pakket van pragtige uitsigte, 4-ster verblyf en watertanddisse maak hierdie bestemming ʼn wenner.
www.southhill.co.za | 021 844 0888 | Elgin Wes-Kaap
What’s Happening i am new to this, I stumbled upon this I’ve discovered It absolutely useful
and it has aided me out loads. I am hoping to give a contribution & help different users like
its aided me. Good job.