Ceres Fruit Growers besit die helfte van Tru-Cape Fruit Marketing, die maatskappy wat die vrugte van hierdie groen vallei sowel as dié van Two-a-Day in Grabouw verkoop.
Pieter Graaff, een van die grootste appel- en peerprodusente in die land, is die voorsitter van Tru-Cape. In 2018 is hy aangewys as die Nasionale Boer van die Jaar. Hy het ook onlangs die OSH Reinecke Bedryfsleier-merietetoekenning ontvang ter erkenning van sy uitstekende prestasies en leierskaprol in die landbousektor oor die afgelope 35 jaar.
As eienaar van die boerdery Witzenberg Properties, het hy vroeg in 2019 na alternatiewe energiebronne begin soek en ná ’n deeglike ondersoek, besluit om ’n grond-gemonteerde fotovoltaïese sonkragaanleg op Die Eike en Dennekruik, twee van sy plase, te installeer.
In die proses het hulle nie net hul koolstofvoetspoor verminder nie, maar ook die elektrisiteitstoevoer na hul primêre produksie-areas gestabiliseer. Met die eskalerende koste van elektrisiteit en die tegnologiese winste wat oor die laaste paar jaar gemaak is, is sonkrag baie meer bekostigbaar. Die sonkragaanleg het Witzenberg Properties in staat gestel om hul primêre produksiekoste noemenswaardig te verlaag.
Die eerste fase van die projek bestaan uit 1 904 Canadian Solar PV-panele met ’n topvermoë om 703 kW te genereer.
Witzenberg Properties het ’n vennootskap met New Southern Energy (NSE) aangegaan en NSE gebruik Solar Edge-omsetters wat dit moontlik maak om individuele sonpanele te monitor wat sodoende die effektiwiteit van die sonkragaanleg verbeter.
Pieter Graaff verduidelik: “Met die voltooiing van al vier fases van die projek is dit moontlik dat die sonkragaanleg tot 2 400 kW kan voorsien aan ’n sentrale substasie met geïntegreerde kragopwekkers, wat ekstra ondersteuning bied.”
Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape Fruit Marketing, die grootste uitvoerder van Suid-Afrikaanse appels en pere na meer as 104 lande, sê: “Ons glo dat die aanleg op Die Eike die eerste van sy soort in die Witzenbergvallei en Ceres-area is wat soveel elektrisiteit vir gebruik in primêre landbouproduksie genereer. Ons kliënte in Suid-Afrika en oorsee vertel ons hoe belangrik dit vir hulle is om hul koolstofvoetspoor te verminder. Vandaar het Tru-Cape en sy aandeelhouers spanne bymekaargebring om te bepaal hoe om die gebruik van nie-herwinbare energie, water en plastiek te verminder, ondanks die feit dat ons reeds herwinbare plastiek in ons verpakking gebruik.”
Pienaar eindig deur te sê dat dit net so belangrik is om die koolstofvoetspoor te verminder, as wat dit is om te belê in grootskaalse fotovoltaïese opwekkers. Op hierdie manier sal produksielyne en koelkamers kan aanhou om teen optimale kapasiteit te funksioneer, met ’n geringe risiko dat die “koue-ketting” verbreek sal word weens die gereelde onderbrekings wat tans deur beurtkrag veroorsaak word.