Woorde: Nikki van Coller
Wanneer dit by troues kom, is die hoofsaak vir bruide (en dalk bruidegomme) dat dit ʼn genotvolle ervaring moet wees wat hulle en hul gaste lank sal onthou. Daar moet goeie kos, ʼn magiese ligging en natuurlik unieke en pragtige foto’s wees. Om hierdie redes is die plek waar die troue gehou word dikwels die heel eerste ding waarop ʼn paartjie besluit. Waaroor beskik jou plaas wat paartjies sal lok om daar te bespreek wanneer hulle mekaar die ja-woord gee?
Of jy nou ʼn eerste of derde geslag boer is, ervaar jy sekerlik die druk op of afname van landbougroei. Daar lê groot uitdagings vir die boer wat aangevuur word deur die kwynende rand, watertekort, hoë elektrisiteitskoste en besorgdheid oor veiligheid. Danksy skakeling en ʼn begeerte deur die algemene publiek vir aardse, outentieke ervarings, maak baie boere kreatiewe planne om die uitdagings die hoof te bied. Die meeste innoverende boere vind relatief maklike maniere om alternatiewe inkomste te genereer — dit wissel van produkte uit hul eie opbrengs tot die uithuur van hul plaas vir feeste, renne en ander geleenthede.
Een manier wat veral lonend is om bykomende inkomste te kry, is om die plaas te omskep in ʼn plek waar unieke landelike troues gehou kan word. Al hoe meer paartjies verkies om ver weg van die stad se bedrywighede te trou en om die mense wat hulle lief het oor ʼn naweek om hulle te hê. Die goeie nuus is dat jy reeds baie van die elemente het wat nodig is om ʼn troue te hou – daar is genoeg parkering, oop ruimtes, pragtige uitsigte, interessante natuurlike agtergrond en goeie ouwêreldse Suid-Afrikaanse gasvryheid. Die res kan gekoop word, gebou of ombou word, gehuur of geleen word.

• Rooms with a View
Renee van Zyl van Rooms with a View in Vredendal bedryf die plaas al sedert 2006 as ʼn gasteplaas en het verlede jaar gediversifiseer om ook bruilofte te akkommodeer. Sy het in Mei ʼn kapel gebou gewoon omdat sy nog altyd een op die perseel wou hê en van haar beste kinderdaeherinneringe is besoeke aan kerke wanneer die familie gereis het. Teen Augustus het hulle hul eerste bespreking vir ʼn troue ontvang. Renee het ʼn groot markiestent gekoop om as die onthaalarea te gebruik en nie lank daarna nie het sy ʼn onthaalsaal laat bou. “Dit was harde werk, maar dit is baie bevredigend en dit voel asof ek ʼn droom uitleef.” Renee van Zyl, Rooms with a View

• Florence Guest Farm
Die eienaars van Florence Guest Farm naby Chrissiesmeer in Mpumalanga het ʼn indrukwekkende plek geskep waar sprokiestroues gehou kan word. Die onthaalarea is ʼn ou sandsteenmelkstal met ʼn “kraal” langs-aan, wat opgeknap is en nou met ʼn wit-grys sementvloer en minimalistiese kristalkandelare spog. Die sjarme lê in die oorspronklike geroeste sinkelemente, koperpypafwerking en deure en vens- ters waarvan die verf afdop. ʼn Pragtige woud bied ʼn wonderlike agtergrond vir foto’s, en die kapel wat vir die doel gebou is rond alles af. Florence se eienaars het aan alles gedink, insluitende ʼn troukar, ramkamp vir die bruidegom en sy manne en die Mooi Nooi-area vir die bruid en haar gevolg om reg te maak vir die groot geleentheid.

• Doornberg Gasteplaas
Net buite Nieu Bethesda is ʼn oase van Karoogasvryheid, ver weg van die stadsgedruis. Hierdie ou goedgevestigde plaas word bedryf deur vyfdegenerasie-eienaars, Peet en Hanna. Hul skoondogter, Alismi het in Oktober verlede jaar begin met ʼn huweliksonthaaldiens. Die plaashuis is versteek tussen ou eikebome wat 200 jaar oud is en die groot tuine maak dit ideaal vir onvergeetlike plegtighede.
Om die plaas vir troues gereed te kry, moes die skuur opgeknap word, die grondpad geskraap word, en is dooie boomstompe omskep in sitplek vir die bruilofsgaste. Die grootste struikelblok was om uit te werk hoe om sommige nie-roerende plaastoerusting te inkorporeer om in te pas by ʼn huweliksonthaal. “Die beloning was die moeite werd,” sê Alismi, “veral as ʼn bruid jou bedank vir die beste dag van haar lewe”. Hierdie bedryfsplaas bied ʼn outentieke ervaring met asemrowende tonele en oudtydse Karoogasvryheid.

• Savannah Game Lodge
By Savannah Game Lodge in Parys in die Vrystaat het die eienaars hul hulpbronne gebruik om op 2500 akker ʼn eiesoortige Afrika bostroue-ervaring te skep met alles van grasvelde tot riviere; berge en Sothoruïnes as agtergrond. Hierdie plek bied ʼn ware “weg van alles” gevoel waarna stadsbewoners soek wanneer hulle ʼn naweektroue beplan.

• Olive Rock
Nick en Simone Stanford, die eienaars van Olive Rock in Ceres het op die plaas getrou en hul betowerende dag was die inspirasie wat gelei het tot die skep van onvergeetlike troues vir ander paartjies. Hulle hou persoonlik toesig oor die bestuur van elke funksie op Olive Rock, en bring daarmee hul eie vorige ervaring en passie na die besig- heid. Hier is Simone se ervaring van agt jaar by kliëntediens in ʼn huurvlugbesigheid en ses jaar in geleentheidsbeplanning en Nick se opleiding as sjef in Londen en vyf jaar in sy eie onthaalbesigheid ingespan om Olive Rock te omskep in ʼn plek vir heerlike troues. Die eienaars op Olive Rock het hul werks- ervaringe ingespan om ʼn suksesvolle besigheid te skep waar onvergeetlike bruilofsfeeste gehou kan word.

• Glen Gray
Glen Gray is ʼn klein bedryfsplaas in die Drakensberg, waar oor die jare geboer is met komkommer, tamatie, mielies, koring, rose en bees en dit was ook eens ʼn melkplaas. Met sy ligging naby Winterton aan die voet van die berge is dit die skilderagtigste plek denkbaar en die ideale omgewing vir ʼn troue. By Glen Gray is ʼn eg landelike ervaring moontlik gemaak deur ʼn klein kapelletjie te bou en ʼn ou skuur in ʼn onthaalarea te verander.

• De Uijlenes
By De Uijlenes is die natuurlike omgewing en ʼn ongebruikte skuur ingespan om ʼn trouvenue te skep met ʼn magiese woud en skuur

• Myddleton Farm
Op Myddleton Farm in KZN is ʼn ou melkskuur die perfekte rustieke onthaalsaal.
Met sowel ruimte as personeel tot jou beskikking en ʼn plek vir eko- en aksie- ervarings en ongelooflike foto’s maak dit goeie finansiële sin om agritoerisme as ʼn verdere uitbreiding van jou plaas se bedrywighede te oorweeg.
Elke geslag bring ʼn hele klomp paartjies wat die knoop wil deurhaak. Miskien bied jou plaas alles wat nodig is vir die perfekte plek om ʼn onvergeetlike dag in ander se lewens te bring.