In depth, News
Leave a comment

SA het ’n plaasaanval-epidemie, maar boere is egter meer weerbaar

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboerorganisasie Saai het AfriForum se 2019-statistieke oor plaasaanvalle en moorde bekendgestel. Uit die data blyk dit dat plaasaanvalle verlede jaar met meer as 100 gevalle toegeneem het, alhoewel die toename in die aantal plaasmoorde laer was.

Volgens Lorraine Claasen, AfriForum se misdaadanalis, was daar 552 plaasaanvalle in 2019 teenoor 2018 se 433 – ’n toename van 27%. “Daar was byna 1 000 slagoffers in hierdie 552 plaasaanvalle. In 2019 was daar 57 plaasmoorde, en hoewel elke plaasmoord ’n tragedie is, is dit slegs drie meer as in 2018. Die meeste aantal moorde (11) het in die Vrystaat voorgekom, terwyl 30% van die plaasaanvalle in Gauteng plaasgevind het.”

 “AfriForum se data bewys dat landelike gemeenskappe meer weerbaar word. Dis duidelik dat ons nie op die regering kan staatmaak om landelike gemeenskappe te beveilig nie, daarom moet mense hulself kan beskerm. Die reusestyging in plaasaanvalle wys dat die polisie nie die vermoë of kapasiteit het om geweldsmisdaad op plase te keer nie. Dít beteken dat mense op hulself aangewese gaan wees tydens ’n gewelddadige plaasaanval.”

AfriForum het landwyd 150 gemeenskapsveiligheidstrukture op die been gebring (met meer as 12 000 aktiewe veiligheids- lede) en verskaf ook veiligheidsopleiding aan sy lede. “As jy jouself kan verdedig, kan jy jou gesin verdedig; as jy jou gesin kan verdedig, kan jy jou bure verdedig; wanneer bure mekaar verdedig, verdedig hulle hul gemeenskap,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

“AfriForum se data bewys dat landelike gemeenskappe besig is om terug te baklei en meer weerbaar te word.”

Lorraine Claasen

Dit is kommerwekkend dat die aantal verkragtings tydens plaasaanvalle in 2019 toegeneem het. “Die polisie en politici maak gereeld uitsprake oor die krisis van geweldsmisdade teen vroue en kinders, en tog neem dit toe. ’n Verantwoordelike, goed opgeleide en wetsgehoorsame vrou met ’n geweer op ’n plaas sal haarself teen enige verkragter kan beskerm, al is hy groter as sy,” sê Cameron.

Volgens dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en ook die president van die Wêreldlandbou-organisasie, is daar ’n duidelike gebrek aan politieke wil om plaasaanvalle te bekamp. “Misdade teen familieboere is nie uniek aan Suid-Afrika nie, maar die aard van aanvalle en die aanhitsing tot geweld is wel iets wat ons onderskei.”

Volgens die Verenigde Nasies (VN) se voedselagentskappe is familieboere in die beste posisie om van die wêreld se grootste uitdagings – wat as die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte geïdentifiseer is – die hoof te bied. Daarom het die VN Resolusie 72/239 aanvaar om ’n hernude politieke verbintenis tot die ondersteuning van familieboerderye te skep.

“Binne dié konteks het Saai ’n resolusie opgestel wat politieke partye oproep om misdade teen familieboere te beveg. Saai werf internasionale steun hiervoor en werk daaraan om dit by die VN se algemene vergadering in September 2020 voor te lê,” sê De Jager.

Hoewel die polisie die afgelope paar jaar statistieke oor sowel plaasaanvalle as -moorde begin bekendmaak het, bly dit belangrik dat organisasies soos AfriForum aanhou om inligting oor plaasaanvalle en -moorde in te samel sodat die SAPD en die regering verantwoordbaar gehou kan word. “Dit is belangrik dat organisasies soos AfriForum en Saai aanhou om die epidemie van plaasaanvalle op plaaslike en internasionale vlak te beveg om te probeer verseker dat landelike gemeenskappe die nodige bystand en beskerming kry om vry, veilig en voorspoedig voort te bestaan,” sluit Cameron af. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *