As jy moeg word vir die lewe in die stad, gaan besoek ’n boeremark of, beter nog, gaan besoek ’n boer. Die groeiende tendens van leweransiers wat produkte regstreeks by boere verkry en via ’n webwerf verkoop asook florerende boeremarkte dui op die behoefte daaraan om weer ’n aanknopingspunt te vind met die platteland.

Onder verbruikers is daar ’n groeiende ongerustheid oor voedselveiligheid en die gesondheidsrisiko van geprosesseerde voedsel – versterk deur die onlangse listeriose-uitbraak. Dié dat baie van die besighede wat vars produkte aan huishoudings aflewer, dit juis doen om in die vraag na organiese voedsel te voorsien.
’n Voordeel van hierdie model vir boere is dat huishoudings, veral dié wat deel word van so ’n stelsel, groter verdraagsaamheid het teenoor ‘afwykende’ produkte wat deur supermarkte geweier sou word. Wêreldwyd is daar ’n beweging om ’n bemarkingskanaal te skep vir sogenaamde ‘lelike’ maar heeltemal eetbare vars produkte, om sodoende die reuseprobleem van voedselverkwisting te bekamp.
“Suid-Afrika sal toenemend na die aanlyn model beweeg wat so gewild is oorsee.”
En as jy die regte produk het – soos skaapvleis naby ’n groot stad – dan trap die publiek ’n paadjie uit na jou plaas toe.
Boeremarkte en direkte internetleweransiers bied ook ’n afsetgebied aan kleinboere, of boere wat weens finansiële beperkings of hul nuutheid in die bedryf nie die nodige akkreditasies het wat supermarkte vereis nie.
DIREKTE AFLEWERINGSDIENSTE
Die meeste afleweringdienste is die hele tyd op soek na nuwe verskaffers om kontinuïteit asook ’n groter verskeidenheid aan te bied, en die meeste sal navrae van produsente verwelkom.
Terloops, wanneer ’n mens na die verskillende webwerwe kyk, val dit op hoe weinig vertel word oor die boer of produsent. ’n Narratief gekoppel aan ’n produk – veral ’n produk om ’n premie te verdien, soos organiese voedsel – word al hoe belangriker in bemarking en dit is ’n maklike manier van differensiasie binne die markplek.
WES-KAAP
Red Barn
’n Suid-Kaapse hoenderplaas is baie suksesvol met hul bemarking direk aan die verbruiker, al langs die kus van Kaapstad na Port Elizabeth. Hulle moedig kliënte aan om ‘chicken clubs’ te stig om sodoende afleweringskoste te verminder.
044 876 0014 | 081 258 1725 | info@redbarn.co.za | www.redbarn.co.za
Wild Organics
Soos die naam te kenne gee, is hul produkte organies. Hul produkreeks is breër as die gewone, en anders as die meeste verskaffers, kan kliënte vars produkte ook enkel aanskaf, wat dit meer in lyn bring met die toekoms van aanlyn verkope. Hulle lewer nie af by huise nie, maar by 31 afleweringspunte regoor Kaapstad.
021 510 5447 | 084 448 1920| info@wildorganics.co.za | www.wildorganics.co.za
FreeRangers
FreeRangers fokus op vleisprodukte van diere waarmee op vrylopende wyse geboer is, soos hoenders, eiers, skape, varke en beeste.
082 331 8767 | orders@freerangers.co.za | www.freerangers.co.za
Oak Valley
Die bekende Oak Valley-appelplaas in Grabouw bied vrywei-beesvleis (en Wagyu-vleis) direk aan die publiek deur hul webwerf.
021 859 2510 | mail@oak-valley.co.za | www.oakvalley.co.za
Think Organic
Hulle verskaf organiese produkte en vrylopende vleis en eiers, beide na huise of na optelpunte.
KWAZULU-NATAL
The Veg Box Company
The Veg Box bied nie net vars produkte nie, maar ook die sogenaamde ‘meal kits’, ’n konsep wat oorsee baie groei. Hul verspreidingsgebied is egter beperk tot ’n 15 km-radius in die Natalse Middellande.
082 569 4454 | orders@thevegboxcompany.co.za | www.thevegboxcompany.co.za
GAUTENG
The Munching Mongoose
Hierdie besigheid bied ’n wye verskeidenheid van meestal organiese produkte, insluitende melk, eiers, kaas en brood, in vyf verskillende kombinasies aan Johannesburgse huishoudings. Hulle onderskei hulself deur ’n sterk sin van sosiale verantwoordbaarheid, byvoorbeeld voedselskenkings aan ’n kinderhuis.
079 910 0682 | info@munchingmongoose.co.za | www.munchingmongoose.co.za
Besteljouvleis
Hierdie diens verskaf nie net konvensionele plaasprodukte nie, maar bied wildsvleis ook aanlyn aan.
083 268 8650 | 083 268 6973 | burg@besteljouvleis.co.za | www.besteljouvleis.co.za
Farm Fresh Online
Hulle bied bokse van óf groente óf vrugte, of ’n mengsel, aan huishoudings in Johannesburg en Pretoria, afhangende van die dag van die week.
083 789 1452 | howzit@farmfreshonline.co.za | www.farmfreshonline.co.za
Freshly Grown
Hulle lewer groente of vleis af aan huise in Johannesburg en spesifieke areas van Pretoria, en bied selfs ’n boks op die tema van ’n kleurwiel. Hul produkte is organies.
hello@freshlygrown.co.za | www.freshlygrown.co.za
Foodieness
Foodieness is ’n afleweringsdiens met ’n fisiese winkeltjie, wat organiese produkte direk by boere gaan koop en lewer aan ’n groeiende aantal kliënte in Pretoria.
012 329 0623 | support@foodieness.co.za | www.foodieness.co.za
Organic Worx
’n Boks vol groente, vrugte en kruie vir versapping is een van die produkte wat Organic Worx bied, alles organies.
082 375 7260 | organicworxinfo@gmail.com | www.organicworx.co.za
NOORDWES
Annette Papendorf
Annette Papendorf van die Rustenburgomgewing kan nie voorbly met die vraag na skaapvleis nie. Lede van die publiek kom koop by haar op die plaas.
072 432 5755
MARKTE
Pietermaritzburg Farmer’s Market
Een van die oudste en mees geliefde boeremarkte in die land is die een wat Saterdae plaasvind by die Pietermaritzburg Botaniese Tuin.
082 886 0687 | 033 345 4656 | paulton@sai.co.za| www.sanbi.org/gardens/kwazulu-natal/shops/pietermaritzburg-farmers-market/
Pure Boland Boeremark
Een keer per maand kom produsente uit die Worcester-omgewing bymekaar by die Groenstoor om ’n wye verskeidenheid produkte te verkoop, hoewel nie so ’n groot verskeidenheid primêre plaasprodukte soos ander boeremarkte nie.
082 301 8561 | tharina@realevents.co.za | www.purebolandmarket.co.za
Wild Oats Farmer’s Market
Dié mark weerspieël die persoonlikheid van een van die stigterslede, ’n Amerikaner van Texas, en het ’n heel ander gevoel as ander boeremarkte. Hul ligging op die Tuinroete dra by tot hul gewildheid en daar’s dikwels buitelandse besoekers.
082 376 5020 | wildoatsmarket@gmail.com
Bryanston Organiese Mark
Die Bryanston Organiese Mark is een van die mees gevestigde markte, waar produsente soos Wensleydale Organics hul produkte direk aan verbruikers verkoop.
011 706 3671 | enquiries@bryanstonorganicmarket.co.za | www.bryanstonorganicmarket.co.za
Pretoria Boeremark
Nie alle markte met die woord ‘boere’ in die naam is in werklikheid ’n afsetgebied waar produsente direk van die plaas hul produkte van die hand sit nie, maar die Pretoria Boeremark is die ware Jakob, en boere reis oor provinsiale grense heen om deel te wees van hierdie instelling. Soos dit hoort met ’n regte boeremark, skop dit baie vroeg soggens af terwyl die sterre nog aan die hemel sit.
012 804 8031 | ptaboeremark@tlu.co.za | www.pretoriaboeremark.co.za
Langenhovenmark Boeremark, Bloemfontein
Hierdie mark is ‘n kombinasie tussen ‘n propperse boeremark en ’n vlooimark.
084 919 1676 | www.facebook.com/boeremark