Farm to Fork, farmers, Niche Farmers
comments 2

Rietvlei se rare rasse

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont

Op Rietvlei leer jy een unieke diersoort ná die ander beter ken, want Christo Botha is nie meer lus om met die gewone goed te boer nie. Alles op Rietvlei is raar. Christo meen dit is ook omdat hy vinnig verveeld raak en van ‘n uitdaging hou. Hy het begin deur te kyk na die aanvraag sowel as die bestaande kompetisie in die omgewing. 

Toe Christo en sy vrou, Leonie, In 2015 hier begin het, was daar net ou wingerde op die plaas wat hy “sommer bitter vinnig” uitgehaal het. “Ek was ‘n bietjie dikbek om Nieu-Seeland te verlaat en terug te kom na Suid-Afrika,” gee hy toe. “Ek wou nie sommer enige boerdery begin nie,” sê die voormalige melkboer wat op ‘n beesplaas buite Heidelberg in Gauteng grootgeword het.

Vandag boer Christo met kwartels, Aruacana-hoenders wat groen en blou eiers lê, reusagtige Chianina-vleisbeeste en waterbuffels. Rietvlei voorsien eksklusief eiers, vleis en buffelmelk aan die nabygeleë Babylonstoren-landgoed wat ‘n mekka vir heilsame fynproewerskos uit eie bodem is. 

GROOTSTE BEESRAS TER AARDE

“In Italië is daar restaurante wat nét Chianina-vleis bedien. Dit is baie gesog, want al is die bees so groot, is die vleis baie maer. En dit is ongelooflik geurig,” sê Christo. Hierdie Italiaanse beesras is die grootste ter wêreld. Met ‘n skof van by die 2 meter hoog, troon hulle kop en skof bo die gemiddelde mens uit. Chianinas het ‘n deursnit gewig van ongeveer 1 500 kg en ‘n uitslagpersentasie van 60% tot 65% – die hoogste van enige beesras. 

Chianinas het ‘n deursnit gewig van ongeveer 1 500 kg en ‘n uitslagpersentasie van 60% tot 65% – die hoogste van enige beesras. 

Ondanks hul grootte, is dit ‘n rustige, saggeaarde ras. Ons fotograaf beweeg sonder kommer tussen die massiewe osse. Hulle eet wel nie meer as ‘n gewone bees nie, maar Rietvlei se beeste eet baie gesond.

“Daar’s geen chemikalieë in hul kos nie. Hulle kry net hooibale, lusern en organiese voer. Chianinas is ook droogte- en siektebestand. Dit was nog nooit nodig om hulle te ontwurm of vir bosluise te spuit nie. Hulle kan oorleef op droë land waar geen ander bees kan nie. 

“Ek was aanvanklik bang hulle sou kalfprobleme hê, maar dit is ook nie die geval nie. Die kalwers word teen normale grootte gebore en is by geboorte bruin van kleur. Die koei moet net nie te vet word nie. Ek het aan die begin my les geleer met koeie wat te vet was. Ek’t al monstrosities uit koeie getrek!” lag Christo.

Christo Botha van Rietvlei boer net met rasse wat raar is.

VLEIS VIR DIE CONNOISEUR

Toe Christo besluit om met Chianinas te begin boer, was daar net een teler in Suid-Afrika en dit was feitlik onmoontlik om diere te bekom. “Met die droogte in Limpopo kon ek 36 koeie en tien ossies by hom koop. Ek het nou ‘n kudde van so 100 diere met twee bulle.” Waar hy aanvanklik een slagdier per maand aan Babylonstoren gelewer het, lewer hy nou vier tot vyf per maand. Babylonstoren bied karnivoor-aande aan waar verskeie gange Chianina-vleis bedien word. “Dis net vleis met ‘n bietjie slaai, die heerlike wyne van Babylonstoren en melktert en mampoer vir nagereg. Die aande is baie gewild. Die vleis is so lig en geurig, jy voel na ‘n hele vleis-ete glad nie ongemaklik vol nie.” 

“Jy kort 15 liter beesmelk om een kilogram kaas te maak, maar met vyf liter buffelmelk kan jy een kilogram kaas maak, én dis cholesterol-vry,”

Benewens hul lang bene en massiewe lywe, is Chianinas se velkleur ook uitsonderlik. “Hulle noem die kleur porselein. En die eienaardige ding is, onder daai ligte hare is hul vel pikswart.” Ek kry dekorgedagtes en wonder hardop hoe die velle lyk. “O, baie pragtig,” antwoord Christo. “Maar jy moet ‘n gróót kamer hê want hy lê die hele vloer vol.”

Christo is tans die grootste Chianina-teler in die Wes-Kaap. Die Chianina-genootskap reis elke jaar na Italië om van die beste genetika na Suid-Afrika terug te bring. 

BUFFELMELK

Babylonstoren se waterbuffel-jogurt en Mozzarella word van Rietvlei se waterbuffelmelk gemaak. Ook hier het Christo ‘n les met oorgewig koeie geleer. “Die koeie was vyf maande by die bul en nie een was dragtig nie. Toe vind ek uit dat ‘n vet buffelkoei nie sommer dragtig raak nie.

Waterbuffels is verskriklik nuuskierig en ook baie vriendelik.

Ek moes hulle uithonger en toe vat hulle.” Buffelmelk bevat 3% meer proteïne as dié van enige ander beesras. Buffels gee nie veel melk nie – slegs nege liter per dag – maar die kwaliteit is uitstekend. “Jy kort 15 liter beesmelk om een kilogram kaas te maak, maar met vyf liter buffelmelk kan jy een kilogram kaas maak, én dis cholesterol-vry,” verduidelik hy. 

Rietvlei voorsien eksklusief eiers, vleis en buffelmelk aan Babylonstoren wat ‘n mekka vir heilsame fynproewerskos is.

Christo se vrou, Leonie, maak die waterbuffel-kalwers groot. ‘n Waterbuffel se temperament verskil hemelsbreed van ‘n Afrika-buffel. “Hulle’s verskriklik saggeaard en baie nuuskierig.

In Asië het elke huis mos sy eie buffel wat gemelk word, die lande ploeg en gebruik word as vervoer na die naaste dorpie. Hulle’s omtrent deel van die familie. Rietvlei se buffels het hul eie dam waar hulle graag ontspan, maar volgens Christo sal ‘n waterbuffel in enige poeletjie rol, ongeag hoe vlak. “Vandaar die naam, hulle is mal oor water.” 

VAAL HOENDERS MET FLAMBO-JANTE EIERS

Rietvlei se Aruacana-hoenders uit Chili lê eiers met die mooiste doppe in skakerings van blou en groen.

Chileense Aruacana-hoenders lyk ordinêr, maar hul eiers is uniek.

“Dit maak nie saak wat hulle eet nie,” se Christo. “Ek verstaan dit self nie. Dit het niks met die kos te maak nie. Mense dink gereeld die eiers is vrot omdat die doppe so anders lyk. Of hulle wil weet of die eiergeel ook blou of groen sal wees. Ai, tog!” sê hy. 

Aruacana-eiers in skakerings van blou en groen.

“As ek eerlik mag wees, toe ek hier begin het was ek lus vir kwartels, maar ek is nou al moeg vir die hane se ketoolsheid.”

Dit was ook ‘n groot gedoente om hierdie hoenders te bekom. Christo vertel hoe hy van een hoenderskou na die ander gereis het en hoe hy oral moes soebat om Aruacanas te koop. “Ek het tot R75 vir ‘n kuiken betaal. Dan’s elke tweede een nog ‘n haantjie daarby ook.” Hierdie hoenders lyk egter nie so eksoties soos hul eiers nie. “Dis nie ‘n mooi hoender nie,” meen Christo. “En hulle’s mislik ook. Pik alewig aan mekaar.” Hy beduie na ‘n hennetjie en beskryf haar as ‘n tipiese Aruacana: “Swart met bolwangetjies.”

KETOOLSE KWARTELS

Hy het aanvanklik met kwartels op Rietvlei begin en tans is daar ongeveer 1 000 kwartels. Hulle is besig om hul eie kwartelslagpale op die plaas op te rig. Die gespikkelde kwartel-eierdoppe is soos ‘n vingerafdruk van die hen.

Elke hen se eiers het presies dieselfde kolpatroon wat uniek is tot haar. Dit neem net 16 dae vir ‘n kwarteleier om uit te broei en ná sewe weke begin ‘n hennetjie reeds eiers lê. “Dit klink amper soos hase,” noem ek en Christo trek net sy skouers op.

Rietvlei het ongeveer 1 000 kwartels en is besig om ‘n slagpale vir kwartels te bou.

“As ek eerlik mag wees, toe ek hier begin het was ek lus vir kwartels, maar ek is nou al moeg vir die hane se ketoolsheid. As ek toe geweet het hoe hulle die hennetjies verinneweer, sou ek dalk nooit met kwartels begin boer het nie,” sê hy. 

Kwarteleiers is soos vingerafdrukke van die hennetjies met dieselfde unieke spikkels en kolle op elkeen.

Ons tyd saam met Christo voel meer na ‘n eksotiese diere-uitstalling as ‘n plaasbesoek. Toe ek uitdraai op die R45, glimlag ek by myself oor die ironie dat Rietvlei se reuse so rustig trap, terwyl die kleintjies so kwaai is. 


Eienaar: Christo Botha | Besigheid: Rietvlei Boerdery | Kontak: christobothasa@gmail.com

Filed under: Farm to Fork, farmers, Niche Farmers

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

2 Comments

Leave a Reply

Your email address will not be published.