In depth, Mega Farmers
Leave a comment

Huurder word mega boer

Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Michel Dei-Cont

Die blywende indruk van ’n plaasgemeenskap op die gemoed van ’n 12-jarige seun het ’n man dekades later na Underberg laat terugkeer om sy kinderdroom te verwesenlik. Die vallei is bedek met ’n ligte missluier wat netjies om die rotsrante van die heuwels en berge vou wanneer ons by Chris en Karen Dwen se plaas net buite die dorp indraai. Hy is een van die omgewing se grootste produsente van mielies, saadaartappels en beeste. Chris het eers op gehuurde grond in die vallei begin boer en homself stadig maar seker opgewerk tot hy sy eie plaas kon koop.

Volgens Chris is dit die ras van die toekoms omdat dit so goed aanpas by verskillende klimaatstoestande.

Hy onthou hoe hy as 12-jarige op ’n plaas in die Underberg-omgewing gewerk het en hoe die begeerte ontwikkel het om eendag self te boer. “Van die karakters wat ek as kind ontmoet het, het ’n geweldige indruk op my gemaak en ek het net gewéét dat ek hierheen sou terugkeer om op hierdie grond te kom boer.”

“Van die karakters wat ek as kind ontmoet het, het ’n geweldige indruk op my gemaak en ek het net gewéét dat ek hierheen sou terugkeer om op hierdie grond te kom boer.”

Chris se paadjie het hom weer in 1988 na Underberg toe teruggebring. Hy het ’n ruk lank in die Transkei gewerk waar hy kosbare ondervinding met mielies en aartappels opgedoen het en waar hy ook ’n paar jaar by ’n suiwelboerdery gewerk het. Daarna het hy grond in Underberg gehuur en dis daar waar sy saadaartappel-besigheid begin groei het.

SUPER SPUDS & BEEFMASTERS

“Soos die suiwelsektor egter in dié deel van die wêreld uitgebrei het, het dit al hoe moeiliker geword om nog grond te kry om te huur. Toe koop ek in 1996 my eerste plaas,” skerts hy.

“Vir goeie saadaartappels het jy goeie, suiwer grond nodig – lande wat gereeld roteer tussen soja, mielies en saadaartappels om sodoende die peste en siektes in die grond wat aartappelproduksie affekteer, te beheer.” Hy het uiteindelik die handelsmerk Super Spuds laat registreer en die aanvraag na sy saadaartappels het landwyd toegeneem. ’n Deel van die oes word as kommersiële aartappels aan varsproduktemarkte verkoop. 

Chris plant elke jaar 180 ha saadaartappels.

Chris Dwen het homself leer boer en hy beklemtoon hoe goeie raad deur die jare die rigtingwyser op sy paadjie na sukses was.

In 2010 koop hy ’n tweede plaas met ’n kommersiële kudde Brangus/Sussex gekruisde beeste en uit die bloute het hy weer by lewende hawe betrokke geraak. “Dit was 25 jaar ná my dae van suiwelboerdery en ek het ewe skielik besef hoe baie ek die vee gemis het. Ek begin toe ’n Beefmaster-stoetery. Oor die jare heen het baie mense my al gevra hoekom ek dit gedoen het, en al wat ek kan sê is dat die ras ’n groot indruk op my gemaak het en dat ek baie van hulle hou.” 

Die ras het ’n goeie weerstand teen bosluis-siektes en het ook eienskappe wat dit ideaal vir voerkraal-produksie maak.

Deesdae het hy 1 200 geregistreerde Beefmasterbeeste. Chris glo dat dit die ras van die toekoms is omdat dit so goed by verskillende klimaatstoestande aanpas. Die ras het ’n goeie weerstand teen bosluis-siektes en het ook eienskappe wat dit ideaal vir voerkraal-produksie maak. Hy sê dat groot klem op prestasietoetse soos die speengewig en fase D-toetse geplaas word. Bulle en verse wat nie die voorgeskrewe indeks haal nie, word outomaties uitgeskot sonder dat dit bevestig hoef te word. Hy hou elke jaar in Augustus ’n verkoping van Beefmasterbulle waar hy en Chippy Watson van Vova Genetics die bemarkingsplatform deel en saam verkoop hulle 50 geregistreerde Beefmasterbulle. 

Hy is ’n lid van die Beefmaster Beestelersgenootskap van SA wat sorg dat alle lede aan dieselfde standaarde voldoen. Om vir lidmaatkap te kwalifiseer moet almal dieselfde protokolreëls volg, wat die stoet se integriteit handhaaf.

Regs is plaasbestuurder Ricardo Rabie, met Sibusiso Phungula wat die vurkhyser bestuur. REGS: Chris Dwen boer met 1 200 geregistreerde Beefmaster-beeste. 

VERSTEURDE WEER

Hy noem die veranderende klimaat as een van die grootste uitdagings vir hom as produsent. “Ons kry hewiger reën, maar in korter sarsies. Ons temperature is hoër. Die warmer weer affekteer die parasiete op die beeste. Om bosluis-siekte op ’n doeltreffende en natuurlike manier te bestry, het ’n mens koue weer nodig. Ons benodig ook ’n winter wat koud en steriel genoeg is om die saadaartappels teen ongewensde goggas te beskerm. Hierdie manier van plaagbeheer raak al hoe minder betroubaar,” verduidelik hy. 

Ons benodig ook ’n winter wat koud en steriel genoeg is om die saadaartappels teen ongewensde goggas te beskerm. Hierdie manier van plaag-beheer raak al hoe minder betroubaar,” verduidelik hy. 

“Gevolglik plant ons nou aartappels ’n maand vroeër in middel September, eerder as middel Oktober. Só kan ons die oes inbring vóór die hitte van Januarie, wanneer plantluise weer vermeerder. Aartappels word besproei, maar die afgelope jaar het ons die droogste Desember en Januarie op rekord gehad,” sê hy. Chris plaas groter klem op akkurate en slim begroting, strenger finansiële beheer en beter beplanning. Hulle plant hoofsaaklik Mondial, Markies en Hertha – nie omdat dit die beste in hierdie area aard nie, maar eerder omdat klante in ander produksie-areas dit verkies. 

Chris Dwen boer met 1 200 geregistreerde Beefmaster-beeste. 

WYSE WOORDE 

Vir iemand soos hy wat homself opgewerk het, was goeie raad oor die jare die basis van sy paadjie na sukses. “As kind het Arthur Turner eenkeer vir my gesê: ‘As jy nie al jou werk in ’n dag gedoen kry nie, moet jy vroeër opstaan!’ en dit het my al die jare bygebly,” vertel hy.

Chris het 450 ha mielies wat 3 500 tot 4 000 ton per jaar lewer. Hy gebruik 500 ton vir sy voerkrale en die res word aan graanhandelaars verkoop. Die stoppels word as wintervoeding gebruik.

Die jongste presisie-tegnieke word toegepas op die beplanting van hul gewasse en vir hul voedingsprogram volg hulle ’n semi-intensiewe voerstelsel. Rog-weiveld word langs die aartappeloes geplant waar die diere kan wei tot hulle 400 kg bereik en oorskuif na die voerkraal toe.

Hy sê: “Wanneer ’n mens oor die toekoms praat, moet jy seker maak dat jy aanpasbaar is vir die veranderinge wat jou kant toe kom, soos klimaatsverandering; gebruik genetika om jou te help selekteer, soos beeste wat die omgewing beter kan hanteer; kies aartappel-variëteite wat aanpasbaar is by jou omgewing en pas jou beplanting-datums aan sodat jy die drukste tye in die jaar beter kan hanteer.” 

Beeste word op ’n vervoertrok gelaai om na ’n ander kamp verskuif te word.

BOERE IS BROODNODIG

“Polities lê ’n hobbelagtige pad voor; die regering het ernstige uitdagings om die hoof te bied en ons as voedselprodusente moet aanhou doen wat ons goed doen: om voedsel vir die ewig groeiende bevolking te voorsien en om soveel werksgeleenthede as moontlik te skep.” 

“Boere, oftewel voedselprodusente, is ’n uitsonderlike groep mense omdat hulle deursettingsvermoë besit en nie maklik opgee nie, ondanks die uitdagings wat hulle daagliks moet hanteer. Boere is die hoeksteen van ons bestaan; dis uiters belangrik dat ons die goeie mense en hoe hulle ontwikkel het tot vandag se beste boere, moet beskerm.”


Eienaar: Chris Dwen | Besigheid: Super Beef Beefmaster Stud | Area: Underberg, KwaZulu-Natal, Suid-Afrika | Kontak:  info@superfarm.co.za  |  033 701 1081 | www.superfarm.co.za

                 

Filed under: In depth, Mega Farmers

by

Maryke is a prizewinning journalist whose articles have been published countrywide. She has written about a wide range of subjects including books, actors, theatre, food, wine and travel. When she pulls over to open a farm gate and shakes the farmer’s hand, the anticipation rushes through her veins. “Agriculture is more than the production of food – it is the heart and soul of our country. And this is where you’ll discover tales of true grit,” according to her.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *