Farm to Fork, Farm Tourism, farmers
Leave a comment

Wegkruipplek word gewilde kuierplek

Woorde: Jacques van Zyl Fotografie: Michel Dei-Cont

Met die aankoms op Red Sands was die son pas oor die horison, met die gloed van die rooi duine ’n onuitgesproke belofte van dit wat die volgende drie dae vir ons voorlê. Op die hakke van ’n reuse bord plaaskos vir middagete en drie sakke biltong as padkos, was niemand juis lus vir vleis nie, maar ons het deurgedruk en ’n eerste voorsmaak van Red Sands Lodge se ruimhartige maaltye gekry.

Richard gooi ’n goeie dop brandewyn in die rooibok-filet-flambé wat hy vir ons span maak.

Ligdag het die plaas homself aan ons onthul. Hierdie was ’n ander soort Kalahari as in die foto’s.

Hoofbestuurder Richard Kaufmann kom sit by ons terwyl ons ’n reuse ontbyt deurwerk en deur die venster na ’n groep mak damherte op die grasperk kyk. Hy beduie na die herte. “Hou vir hulle ’n stuk brood uit. Hulle sal dit uit julle hande uit kom vat.”

VAN OOSTENRYK, SEELANGS

Soos hy die plaas se geskiedenis vir ons begin uitlê, word dit vinnig duidelik dat hy, soos amper almal hier, ʼn kranige storieverteller is.

Sy pa het baie arm grootgeword in ʼn na-oorlogse Tirol in Oostenryk, hoor ons. “Hulle was vyf kinders – nou drie; twee is al oorlede.” Richard se pa was skaars twintig toe hy besluit om die pad te vat en op die skepe te gaan werk as Koch-Kellner – ʼn soort sjef-kelner. Hier aangekom, was Kaapstad se sjarmes eenvoudig te veel vir die jong man en het hy besluit om Suid-Afrika sy tuiste te maak. So, sonder enige begrip van die landstale, het hy werk gekry by ʼn hotelgroep in die Kaap. ʼn Verplasing Johannesburg toe het daartoe gelei dat hy van ʼn geleentheid in Windhoek te hore gekom het.

Sy pa het baie arm grootgeword in ʼn na-oorlogse Tirol in Oostenryk, hoor ons.

“Namibië het destyds Europeërs weens hulle kundighede verwelkom, en my pa het in Windhoek opgeëindig as aflosbestuurder,” vertel Richard. Richard se ma was skaars agtien, maar het reeds as restaurantbestuurder by die hotel gewerk.

Red Sands Lodge se kameeldoringhoutvuurpunt. Hier kan dit gevaarlik gesellig raak.

“My pa het haar letterlik uit die skool uit weggeraap,” lag Richard. Maar hy was lank nie meer die Tiroolse oorlogskind van weleer nie.

“Vandag praat hy vlot Afrikaans en Engels,” verduidelik Richard. “Hy lyk soos ʼn boer, met net sulke dik arms; en ʼn dik baard. So hy het eintlik heel goed aangepas – kakiebroek, velskoene; hy is localised.”

Na hy en Richard se ma getroud is, het daar onverwags ʼn geleentheid opgeduik om die Okavango-motel in Rundu te bedryf. Daar was nog ʼn grensoorlog bo in die Caprivi aan die gang en Richard se ma wou eers niks weet nie. Maar sy pa het deurgedruk en ʼn tender ingesit vir die nuwe ontwikkeling. Kort daarna het Richard se pa, ma en jong suster hulle tasse gepak en opgetrek noorde toe. Dis daar, in die militêre hospitaal naby Rundu, waar Richard gebore is.

Toe dinge op die grens later te veel word, is almal af Plettenbergbaai toe. Maar die hotelbedryf het bly wink, en toe Richard se pa ʼn advertensie sien vir die Savoy-hotel in Kuruman, het hy sy huis in Plettenbergbaai as deposito aangebied en die hotel gekoop.

“Hy het nie eers geweet waar Kuruman is nie,” vertel Richard, “maar het sonder meer in die kar gespring en opgery om te gaan kyk.”

Deur die dag kan mens met jou eie voertuig die wild gaan besigtig.

Van 1986 tot 1992 het Richard se pa die Savoy bestuur. Die hotel se dameskroeg, die Top Lounge, was destyds dié plek in Kuruman om te gaan kuier, vertel Richard, al sal mens nie graag vandag daar gesien wil word nie.

RED SANDS

So geleidelik het hy die hotel begin uithuur tot hy op die ou end net die buiteverkope bedryf het. Dis in hierdie tyd, rondom 1991, dat hy die plaas wat vandag Red Sands is, gekoop en op naweke begin boer het.

“Hier was niks nie,” vertel Richard. “Dit was net veld.”

Soos ‘n dorpie uit die lug – mens kan sien waar Red Sands sy naam kry.

Red Sands was aanvanklik in kampe opgedeel as ʼn beesplaas, maar die Kaufmanns het al die heinings verwyder; selfs tussen hulle en die buurplaas wat hulle aangekoop het.

“Gelukkig was die plaas reeds afgesper met ʼn wildheining.”

Toe hy in 1992 uiteindelik die Savoy verkoop, het sy hande dadelik begin jeuk om ʼn gastehuis te bou. Hy het ʼn stuk grond noord van die huidige oord skoongekap, reg aan die voet van die Petersburg-heuwels, en begin planne optrek om daar te bou toe Richard en ʼn paar maats besluit om te gaan kamp vir die naweek. Daardie Sondag, toe sy pa hulle kom oplaai en die plek sien, was dit die einde van Richard se geheime kampeerplek.

Toe sy pa ʼn advertensie sien vir die Savoy-hotel in Kuruman, het hy sy huis in Plettenbergbaai as deposito aangebied en die hotel gekoop.

“Ek was vir ʼn lang ruk kwaad vir hom; dit was mý plek gewees. Ek het lank gesoek om die plek te kry – daar was selfs ʼn grot waar ons gespeel het. Daar was likkewane en goed, maar ons was vreesloos …”

Die kroeg, met die restaurant in die agtergrond. Hier word dit heerlik gesellig in die winter.

Maar die Oostenryker kon sukses op ʼn afstand ruik en was klaar kniediep in die planne vir ʼn swembad, twee ablusieblokke en ʼn paar kampeerplekke vir dagbesoekers.

Richard beduie na die swembad en konferensiesaal voor ons. “Die swembad was eers so lank soos die hele gebou. Al wat hier was, was die gebou hier agter ons – dit was ons ontvangs, kombuis en ʼn kroeg; en ʼn klomp kampeerplekke. ʼn Jaar later, in 1995, het ons die eerste vyf gesinseenhede hier bo gebou.”

Dit was aanvanklik bloot bed-en-ontbyt, met óf braai óf potjiekos óf ghoelasj in die aande. Mense wou wegbreek van die stadslewe, so daar was geen TV of moderne geriewe in die huisies nie. Die toevloei van mense in die myn-industrie het dinge egter laat verander. Die huisies was voortdurend volbespreek en daar’s mettertyd toegegee aan die behoeftes van die nuwe kliënte.

“Daar was op ʼn stadium selfs ʼn casino in die boonste kantoor. My pa is ʼn entrepreneur – hy probeer alles ten minste een keer.”

Die restaurant is in 1995 uit dieselfde swart klip as die eerste geboutjie gebou. Dit was eers ʼn oop lapa – sodat mens één kon voel met die omgewing terwyl jy eet. “En toe kom die winter…” Na die restaurant toegebou is, is daar bietjie vir bietjie nog eenhede gebou namate die groeiende behoefte dit nodig gemaak het. Vandag is daar reeds 34 eenhede op die perseel.“ Elke jaar bou ons iets aan. Die ou ingang was by die plaashuis – dis hoekom ek die nuwe een gebou het. Daar moes beslis kliënte omgedraai het in die begin …”

Vanaf die tafeltjies voor die restaurant kyk mens uit oor die grasperk, die swembad en die vuurmaakplek in die agtergrond.

NGUNI’S, TAKBOKKE EN GOUE ELANDE

“Ons het gou redelik populêr geword – die restaurant is maar die hart van ons onderneming. Dis ʼn alles-in-een-ondervinding: kampeer, chalets, karavane, restaurant, kroeg, konferensies, wildkamp, bergfietsroete, wandelpaaie. Ons jag self in die winter, al is ons nie eintlik ʼn jagplaas nie. So nou en dan kom sit daar ʼn ou in die skuilhut met sy boog – en skiet miskien een bok oor die naweek.”

Daar was op ʼn stadium selfs ʼn casino in die boonste kantoor. My pa is ʼn entrepreneur – hy probeer alles ten minste een keer.

Richard Kaufmann

ʼn Bergfietsroete? “Ja, ons hou nou al vier jaar saam met die Cape Epic ʼn bergfietswedren hier; ons noem dit die Mimic Epic. Daar’s twee roetes, een is 56km lank en die ander is ʼn veel moeiliker 27km-roete. Die eerste jaar was hier 87 mense wat ingeskryf het, maar hulle het gou agtergekom die roete is geen grap nie. Hierdie Maart was daar net onder die 40 mense. “Maar ja, ons doen ook konferensies; en baie troues.”

Ek voel hoe ek my vererg as Richard vertel van een van die takbokke wat sommerso tussen die chalets geskiet is deur een van die gaste, maar hy skuif vinnig die storie aan. “Ek was betrokke vandat ek ʼn kind was. Ek het geen skoolvakansies gehad nie – ek het hier kom werk.”

’n Groepie blesbokke kyk op as ons verbyry. Mens sien selde die wit tipe.

Maar na twee jaar in ʼn hotelskool in Kaapstad en ʼn paar aanstellings, o.a. op die Tuinroete, het Richard se kop VSA toe begin staan. Toe hy terugkom en sien hoe besig sy pa geword het, het hy besef hy kan maar netsowel nou al inspring. Sedert 2016 huur Richard nou amptelik die oord by die plaas en bedryf hy dit op sy eie as ʼn besigheid.

Vandag is daar ʼn aparte kamp vir sowat vyftig Nguni-beeste, beide as slaggoed en om te verkoop, alhoewel vier weerbarstige kalwers nog los rondloop in die hoofkamp. Daar’s ook ʼn paar varkhokke naby die lemoenboord, reg langs ʼn kamp met die meeste waaierstertmeerkatte wat ons nog ooit gesien het. Daaragter staan ʼn slaghuis waar die plaas se vleis verwerk word, kompleet met ʼn rookkamer vir die wildsvleis-salami en ander vleisspesialiteite wat op die plaas gemaak word. Nguni- en sebravelle word na Oasis Tannery naby Randburg gestuur om gelooi te word – beide vir hulle eie dekor en vir verkope.

Wat wild betref, hoor ons, is daar elande, sebras, koedoes, blesbokke, hartbeeste, blouwildebeeste en rooibokke.

“Ons het springbokke ook, maar hulle teel nie aan nie. Dis maar die jakkalse – springbokke hou van plat terrein sodat hulle hulle vyande kan sien aankom. Hier is dit te heuwelagtig.”

Een van die skuilhutte weerkaats windmakerig in ’n wilddam.

“Ons sien eendag daar loop ʼn paar blesbokke sonder bles in die kamp rond. Toe kom ons agter daar loop ʼn hartbeesbul tussen die blesbok-ooie, en dat hy al die tyd die sondebok was.”

ʼn Eienaardige, goudblonde eland maak sy tuiste op die plaas. Ongewoon-gekleurde wild is tans baie populêr en hulle het reeds vier van die diere verkoop teen ʼn taamlik uitspattige prys. Die bloedlyn het begin met ʼn reuse wit bul wat destyds op veiling aangekoop is. Die bokke het goue maanhare, wit oë, en ʼn wit snoet.

“Daar’s ʼn bietjie Livingstone-eland in hulle. Hulle het strepe, byna soos koedoes. ʼn Teler wat van die bokke by ons gekoop het, wil die lyn verder ontwikkel.” Enige roofdiere? “Die personeel het al tweemaal hier aangekom met groot oë en beweer hulle het ʼn panter gesien. Toe vind ek uit daar’s iets soos ʼn swartluiperd.”

ROOIBOK-FILET-FLAMBÉ

Dis eers wanneer ek my gordyne ooptrek voor my stoepdeur en twee takbokke onder die blinkblaar-wag-ʼn-bietjie sien wei, kort voor ons gaan foto’s neem van die rooibok-flambé, dat ek besef waarom daar mak damherte op die plaas rondloop. Soos die enorme Schweinehaxe van die vorige aand, die Schnitzels en die Poolse Wodka-likeur wat Richard na ons tafel toe gebring het, is dit van die min herinneringe aan ʼn byna-vergete Oostenryk wat die Kaufmanns nog het. Dan ry ons op tot by die boonste ry huisies.

“Julle kan sommer so resep neerskryf soos ek kook,” sê Richard, wat vertel dat sy ma voor haar aftrede die plaas se administrasie behartig het, en dat die Kaufmann-mans eerder die kokke is.

Hy giet bietjie olie in ʼn vuurwarm pan op ʼn gasvlam en skroei twee bloedrooi, skoongesnyde rooibok-filette vinnig in die olie tot bruin aan die buitekant.

Laatmiddag begin die lug verkleur oor die veld. Geen twee minute is dieselfde nie.

Dan, af van die vuur, sprinkel hy sout, ʼn bietjie vleisspeserye en ʼn hele klompie varsgemaalde swart peper oor die vleis.

Die personeel het al tweemaal hier aangekom met groot oë en beweer hulle het ʼn panter gesien. Toe vind ek uit daar’s iets soos ʼn swartluiperd.

Richard Kaufmann

Terug op die vuur, word ʼn goeie dop vyf jaar oue KWV-brandewyn in die pan gegiet. Almal deins terug as die wind skielik opkom en die gasvlam die brandewyn laat opvlam in ʼn vuurbal amper so groot soos die trollie.

“Wow! You singed my eyebrows there,” lag Michel, die fotograaf.

As die vlam gaan lê, word ʼn goeie driekwartkoppie vars room ingegiet en saam met die gekaramelliseerde vleissap en die vleis in die pan reduseer tot die vleis die regte graad van gaarheid bereik – in ons geval halfrou.

In die slaghuis is Joseph Lesetedi besig om ons tjops te sny. Agter hang die gerookte wildsvleissalami.

Richard sny die vleis in skyfies en rangskik hulle in ʼn bord bo-op die roomsous-reduksie uit die pan. Die vleis is nog rooi in die middel en lyk besonder treffend langs die gesprinkelde paprika op die bord se rand.

Dis vars, sag en heerlik; die geur van impala word perfek gekomplementeer deur die vrugte-in-houtsmaak van die brandewyn en die aromatiese peperkorrels in die ryk sous.

Guten Appetit!

Carpaccio

Bestanddele

  • Wildsvleis (wat ook al gejag is): 2 stukke filet of lendestuk

Pekel-oplossing:

  • 5 liter water
  • 75g pienk pekelsout (Prague powder)
  • 150g bruinsuiker
  • 150g fyn sout
  • Roker en saagsels (maak seker dis natuurlike hout sonder viniel; kan aangekoop word, waarskynlik by Agrimark se kampeerafdeling)

Metode

  • Verwyder sening van die vleis met ‘n filetmes.
  • Los die filet heel, maar verdeel die lendestuk in twee saam met die grein.
  • Meng die pekel-oplossing tot alles opgelos is; pekel die vleis in die oplossing in ‘n yskas vir 48 uur.
  • Verwyder uit die pekel-oplossing en hang in die roker – soos wat mens biltong ophang.
  • Steek die vuur aan en drink ‘n bier of twee tot die kole gereed is. Plaas die kole in die saagsel-emmer, sprinkel saagsels bo-oor en maak die roker se deur toe. Laat rook oornag.
  • Hang uit in ‘n koelkamer tot die vleis droog lyk.
  • Vries tot nodig.
  • Sny die gevriesde vleis in dun snytjies en rangskik op ‘n bord.
  • Giet balsamiese asyn en olyfolie oor en besprinkel met vars, grofgemaalde peper en parmesaan-skaafsels.
  • Garneer.

Besigheid: Red Sands Country Lodge | Area: Kuruman, Noord-Kaap, Suid-Afrika | Kontak: enquiries@redsands.co.za | www.redsands.co.za

Filed under: Farm to Fork, Farm Tourism, farmers

by

A writer with a passion for the arts – including the art of cooking. Jacques concentrates on the stories that surround the people who are involved in making food, craft beer and wine. He received an award at the 2015 Franschhoek Literary Festival and the South African Wine Writers’ Awards. Another feather in his cap is that he is the author of Craft Beer: A Guide to South African Craft Breweries and Brewers. He is a writer of superior calibre and extensive creativity.

Leave a Reply

Your email address will not be published.