In depth, Niche Farmers
Leave a comment

’n Blink plan met slym

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont

“Ek het ‘n regte dud gekoop,” sê Martin Etherington van die plaas wat hy in 2018 in Simondium aangeskaf het. Mon Rêve is Frans vir “my droom”, maar Martin se planne om op ‘n boetiekwynplaas af te tree, het aanvanklik in ‘n nagmerrie ontaard. Maar kort voor lank het hierdie bekwame vlieënier, boer en besigheidsman ‘n nuwe droom vir sy grond gehad. 

Martin en sy vrou, Charmaine, elk met ‘n knewel in die hand.

KOP IN DIE WOLKE

“Mon Rêve is ‘n 12 ha plaas waarvan 10 ha veronderstel was om onder wingerd te wees. Toe ek hier aankom, het ek gevind daar is net 2,5 ha wingerd wat bruikbaar was. Die res was morsdood. Die vorige eienaar het vergeet om die wingerd water te gee en synde ons in die winter na die plaas kom kyk het, het ek dit nie besef nie,” vertel hy. 

Martin het al die dooie wingerdblokke uitgehaal en die opbrengs van die 2,5 ha wat steeds op die plaas is, word aan ‘n kelder gelewer. “Maar, dis ook my eie skuld,” voeg die voormalige privaat vlieënier en vlugingenieur by. “Die ou het ‘n vliegtuigskuur met ‘n helikopter op die plaas gehad. En ek het ook ‘n helikopter. Toe praat ons meer oor helikopters as oor die plaas!” 

“Die ou het ’n vliegtuigskuur met ’n helikopter op die plaas gehad. En ek het ook ’n helikopter. Toe praat ons meer oor helikopters as oor die plaas!” 

Benewens sy loopbaan as loods, het Martin vir ongeveer 20 jaar ‘n groot makadamianeutplaas buite Nelspruit gehad wat hy in 2003 verkoop het. Daarna het hy Microbial Biological Fertilizers International (MBFi) gestig, ‘n maatskappy wat biologiese entstowwe vir die landbousektor ontwikkel. Twee van sy seuns bestuur MBFi wat die top vervaardiger van organiese entstowwe vir die sojaboonbedryf is. MBFi vervaardig ook entstowwe vir graan en canola, sowel as swamdoders vir die appelbedryf. 

Die paarkamer het twee tafels wat elk tot 20 000 slakke kan akkommodeer.

As ‘n gesoute entrepreneur en besigheidsman, was dit vir Martin onaanvaarbaar om op ‘n nuttelose stuk grond te sit. Hy was op soek na ‘n inkomstestroom en die wynbedryf het hom nie aangestaan nie. “Die plaas moes vir homself betaal. So toe begin ek soek vir iets wat uniek is en waarvoor daar ‘n aanvraag is,” vertel hy. Die idee van ‘n slakboerdery het heel toevallig sy pad gekruis terwyl hy in ‘n vliegtuig op pad na Johannesburg was.

“Ek het ‘n artikel oor ‘n vrou wat met slakke boer in die lug-redery se tydskrif gelees. Sy’t beweer sy kry R300 per kilo vir haar slakke. Ek’t my navorsing gaan doen en gevind dat ek per jaar 25 ton slakke op 2 000 m² kan produseer. ‘n Fabriek het my R75 per kilo aangebied.  Suid-Afrika het tans ‘n tekort van 300 ton slakke per jaar, wat deur invoere aangevul word.”

Slakke is gek oor rape, maar bladluise deel ongelukkig hul entoesiasme. Die tonnels bevat tans spinasie en witklawer, met canola wat binnekort toegevoeg word. 

SLAKKE UIT GRIEKELAND

Martin se eerste besending van 20 000 Maxima-slakke uit Griekeland het in November 2019 gearriveer. Daarna het hy nog 7 000 slakke bestel. Ons besoek eers die teelkamer waar slakke op twee lang teeltafels paar. Daar is tans 5 000 slakke, maar elke tafel kan tot 20 000 slakke akkommodeer. Die slakke floreer teen ongeveer 19 °C met baie hoë humiditeit. As die temperatuur bo 25 °C styg, hou hulle op om te beweeg en onder 5 °C begin hulle hiberneer. ‘n Waterstelsel besproei die teeltafels elke twee uur om humiditeit van ongeveer 97% te handhaaf. Sy slakvoer bestaan uit ‘n mengsel van mieliemeel, meel, hoenderkos, vitamiene en ‘n spesiale lym met baie kalsium om hul doppe te versterk.

 Suid-Afrika het tans ’n tekort van 300 ton slakke per jaar, wat deur invoere aangevul word.

 Elke stap van hierdie boerdery is ‘n geweldige leerproses vir Martin en sy span. “Dis ‘n kwessie van Google, Google, Google,” sê hy. Slakke is hermafrodities, of tweeslagtig, en dus kan elke slak ’n ander een bevrug en self ook bevrug word. Hulle het beslis persoonlikhede, gee hy ook toe. Aanvanklik het die slakke se gedrag hom duidelik onkant gevang. Die teelproses is ook meer aggressief as wat verwag is. “Hulle paar in die nag en wanneer ‘n slak gereed is, steek daar ‘n pyltjie by die nek uit waarmee een slak ‘n ander probeer bevrug. Synde elke slak ‘n pyltjie het, ont-aard dit soms in ‘n geweldige stryd.”

Voor hul doppe vorm, is pas uitgebroeide slakkies veel vinniger as wat ‘n mens sou verwag.

KOPULASIESTRES

Die proses is só stresvol dat dit ‘n hoë morbiditeit het. Uit ‘n groep van 7 500 slakke sal 70 slakke daagliks weens kopulasiestres sterf. Slakke lê tussen 80 en 200 eiers op ‘n keer. Eiers word gelê in bakkies wat met grond gevul is. Die eiers word gewoonlik onder die oppervlak gelê en die wit eiertjies word so gou moontlik deur Martin se regterhand, Peter Chunga, verwyder en in ‘n broeikamer geplaas. Sommige van Martin se slakke het al tot drie keer eiers gelê. Peter merk die slakdoppe met ‘n kolletjie om te identifiseer hoeveel keer ‘n slak reeds gelê het. “Peter het ‘n baie ligte hand met die slakke, en veral met hul eiers wat baie delikate werk is,” sê Martin. 

“Hulle is vinnige klein boggers,” beaam Martin, terwyl hy die miniatuur slakkies met ’n kwas terug in die boks borsel voor hulle kan ontsnap.

Ons beweeg na die broeikamer waar Peter elke dag se eiertjies op gesteriliseerde grond plaas, in aparte houers waarop die datum aangebring word. Hulle word twee keer per dag met water besproei om hoë humiditeit te verseker, maar die temperatuur mag nie bo 20 °C styg nie. Eiers broei ná 7 tot 14 dae uit en word dan in ‘n groter plastiekhouer op ‘n laag witklawer geplaas. Op die oog af lyk die pas uitgebroeide slakke soos gaar, pofferige gort. Jy moet bitter fyn kyk om die tentakels te sien. En natuurlik wriemel gort nie so rond nie. ‘n Slak sonder sy skulp is vinniger as wat ‘n mens sou dink. “Hulle is vinnige klein bogghers,” beaam Martin, terwyl hy die miniatuur slakkies met ‘n kwas terug in die boks borsel voor hulle kan ontsnap. Daar is ‘n verbysterende 10 000 slakkies in hierdie een plastiekhouer. 

Houtplankies skep klam, donker skuilplekke vir slakke.

KOS OF KOSMETIEK?

Sy eerste voorneme met die slakplaas was om ‘n voedselproduk te lewer. Hy’t eers later uitgevind van slakslym se enorme waarde in die kosmetiese bedryf. “In Amerika is slakslym groot besigheid, met ‘n jaarlikse omset van $385 biljoen. Hulle produseer nie hul eie slakke nie. Al die slym word ingevoer,” sê hy. Net soos Suid-Afrika, het Amerika nie inheemse slakke nie. Daar is ‘n magdom verskillende slaksoorte, en die reuse Afrika-slak was op ‘n stadium baie gewild as troeteldier in die VSA. Die enorme slakke het buite beheer aangeteel en het ‘n groot pes in Florida geword, wat gelei het tot die algehele verbod op slak-invoere. Die slym is egter uiters gesog vir die maak van velprodukte wat ‘n gladde, jeugdige voorkoms bevorder. 

Slakeiers broei binne sewe tot veertien dae uit, waarna hulle in ‘n groter houer op ‘n laag witklawer geplaas word.

SLAK-MELKERY

Martin beplan om ‘n Italiaanse masjien aan te skaf waarmee slakke “gemelk” word. “Hulle noem dit ‘n slak-spa,” skerts hy. In hierdie “spa” word slakke met ‘n osoonmis besproei, wat slymafskeiding stimuleer. Die masjien skei dan die water van die slym. Afhangend van die kwaliteit of graad, kan ‘n liter slym tussen R1 700 en R49 000 behaal. 

“Dit is omtrent soos ’n melkery. Hulle moet op ’n tien-dag siklus gemelk word.”

Benewens die slakke in die teelkamer behartig die plaasbestuurder, Casey Carstens, twee tonnels met raap, klawer en spinasie waar daar tussen 300 000 en 500 000 slakke hulself dik knibbel. Dit neem ses maande om ‘n slak in die tonnels markgereed te kry. “Dis onmoontlik om presies te weet hoeveel slakke in die tonnels is. Hulle beweeg rond en vermeerder soos hulle wil,” sê hy. Wanneer Mon Rêve hul slak-spa bekom, sal die teelslakke van die melkslakke geskei word. Hoe meer ons gesels, hoe meer voel dit of ek met ‘n melkboer praat. Casey stem saam. “Dit is omtrent soos ‘n melkery. Hulle moet op ‘n tien-dag siklus gemelk word.” Die slakke wat doodgaan, gee ‘n sterk reuk af, en die aantal vlieë in die lug herinner ook aan ‘n melkery. 

Slakeiers word so gou moontlik uit die paarkamer verwyder en op gesteriliseerde grond in houers geplaas.

SLAKKE IN SOUS

Martin en sy vrou, Charmaine, wat voorheen die Woolworths-tak in Nelspruit bestuur het, eksperimenteer tans met hul eie slakke in die kombuis. Charmaine haal ‘n sakkie uit die vrieskas met bevrore slakke in ‘n knoffel-witsous. Martin wil graag ‘n paar smaaklike en maklike “heat & eat” slakprodukte ontwikkel, wat opwindende nuus vir plaaslike slakliefhebbers is. Die Etheringtons gesels tans met top sjefs om met produkontwikkeling en produksie te assisteer. Met net ‘n handjievol slakplase in die land, is Martin en Charmaine se slakboerdery ‘n blink toevoeging tot die plaaslike kos-landskap. As sappige slakke jou idee van ‘n droom-maaltyd is, is Mon Rêve hard aan die werk om dit in ‘n realiteit te omskep.

Charmaine eksperimenteer graag in die kombuis met slakke, soos hierdie bevrore slakke in ‘n knoffel-witsous.

Eienaar: Martin Etherington | Besigheid: Mon Rêve Landgoed | Area: Simondium, Wes-Kaap, Suid-Afrika | Kontak: martin@mbfi.co.za 

Filed under: In depth, Niche Farmers

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *