Woorde: Carien Grobler (Bemarkingsbestuurder: Omnia)
Die OmniSap®-span van Omnia Nutrilogie® het onlangs ’n draagbare toetsstelsel bekendgestel vir die onmiddellike meting van plantgesondheid in die veld. “Die toetsstelsel bestaan uit twee dele wat in ’n draagbare houer verpak word,” sê Willem Jonker, Spesialis: OmniSap®. Die twee dele is ’n klein mobiele plantsap-pers en ’n refraktometer om die sukrose in die plantsap te meet. Menso van Zyl, navorsingstegnikus by Omnia, het die sappers ontwikkel en vervaardig.
Volgens Willem is dit noemenswaardig dat die betrokke refraktometer ʼn outomatiese temperatuurkompensasie uitvoer. Dit is belangrik, want temperatuur speel ʼn belangrike rol om plantsukrose akkuraat te meet. Plantsukrose is die basis van ʼn plant se lewenskragtigheid en energiereserwes en ʼn indirekte maatstaf vir fotosintetiese aktiwiteit.


Elke toetsstelsel is toegerus met ‘n gelamineerde veldkaart met interpretasie-riglyne en agtergrond waarmee plantgesondheid gemeet word. Die inligting wat hieruit verkry word, lei die landboukundige om ʼn volledige OmniSap-ontleding aan te vra óf op ‘n ander wyse in te gryp, sou dit nodig wees.
ʼn Volledige OmniSap-ontleding is ʼn intydse ontleding van ʼn plant se voedingstatus en sluit ook parameters soos ammoniumtoksisiteitsindeks, Brix en sap-pH in. OmniSap stel die produsent in staat om voedingstekorte en wanbalanse betyds te identifiseer voordat opbrengste negatief beïnvloed word.
“Die projekte wat die OmniSap-span aanpak, is deel van Omnia se volgehoue strewe om waarde op die plaas toe te voeg.”
Willem Jonker
Hierdie ontleding, gegrond op Suid-Afrikaanse norme per area en verbouingspraktyk, word plaaslik slegs deur Omnia aangebied. Omnia is reeds meer as 25 jaar besig om OmniSap-norme plaaslik en internasionaal te ontwikkel en te verfyn.
“Die projekte wat die OmniSap-span aanpak, is deel van Omnia se volgehoue strewe om waarde op die plaas toe te voeg,” sê Willem.
“Ons is deurentyd daartoe verbind om die risiko in boerdery te verminder deur te verseker dat ons aan die voorpunt bly van die jongste tegnologie. Dit loop hand aan hand met ons landboukundiges se vermoë om die data te ontleed en weldeurdagte aanbevelings oor voedingstekorte en praktyke te maak. Omnia se spesialiteitskunsmis is gevorderde produkte wat spesifiek ontwikkel is om voedingstofdoeltreffendheid, gewasopbrengs en gehalte te verbeter.”
Die landbou-omgewing verander vinnig en daarom meen Willem dat landboumaatskappye selfs vinniger moet beweeg om relevant te bly. Hy voeg by dat hierdie nuwe instrument slegs een voorbeeld is van hoe dinamies hul in die landbou funksioneer.
*Die ontledings in hierdie berig word net aan Omnia-kliënte beskikbaar gestel.