Farm to Fork
Leave a comment

ZOOOP – Smeulende houtstoofkuier uit kunstenaar-sjef se tuin

Woorde: Bianca du Plessis Fotografie: Michel Dei-Cont

Lindy Aronowitz beskryf haarself as ‘n kunstenaar en organiese tuinier, maar haar talente strek veel wyer, juis omdat alles wat sy aanpak getuig van kreatiwiteit en liefde vir die natuurlike.

Die kreatiewe kringloop tussen tuin en kombuis inspireer Lindy se geurige, seisoenale disse.

“Kuns was nog altyd op die voorpunt van wat ek doen, al het dit deur die jare in verskillende vorme ontwikkel,” sê hierdie voormalige kunsregisseur uit die filmbedryf. “Ek beskou my tuin byvoorbeeld as ‘n lewendige doek waar ek met skakerings en teksture ‘verf’. Dit groei om ander lewensvorme soos skoenlappers te lok wat vir ‘n baie spesiale tipe skoonheid en sprankel sorg.”

Benewens skilder, is Lindy ‘n voltydse spysenier met haar eie gastehuis in Caledon waar sy tuinmaak, kook, onthaal en klasse aanbied.

“Ek het in my vroeë vyftigerjare ernstig begin skilder en lesse by Pieter Vermaak in Hermanus geneem, ‘n kunstenaar wat my regtig inspireer. Dit was die sleutel tot my vordering. Ek is nou ‘n toegewyde skilder en produseer drie of vier skilderye per maand,” sê Lindy.

Benewens skilder, is Lindy ‘n voltydse spysenier met haar eie gastehuis in Caledon waar sy tuinmaak, kook, onthaal en klasse aanbied. ZOOOP se Facebook-blad getuig van ‘n oorvloed seisoenale bestanddele wat kundig omskep word in disse wat die elegansie van eenvoud vier.

Een van Lindy se vroeëre werke wat getuig van ‘n meer romantiese styl.

Na ‘n lang dag op die pad voel ons span se aankoms by ZOOOP soos ‘n tuiskoms. Daar is niks meer genotvol op ‘n koue winternag as doeksag geroosterde lam wat van die been afval nie. Lindy se tuin beïnvloed die tema van ons aand. Vinkel, spinasie, tiemie en botterskorsie maak almal hul verskyning in ons Mediterreense maaltyd. Sy kook alles binne en bo-op ‘n houtstoof in haar studio-kombuis waar buise olieverf en sjef-messe binne vat-afstand saamleef.

“Ek verf elke oomblik wat ek kan,” sê Lindy, hier besig met nog ‘n skildery in haar Vuur-reeks.

Ons smul aan spanakopita, gebraaide vinkel-en-feta-poffertjies met ‘n romerige jogurt-doopsous gegeur met vinkel en koljander, gevolg deur ‘n hoofmaal van Griekse lamskouer, gebakte botterskorsie met lemoen, kaneel en fyngekapte pistasieneute, gestoomde blomkool, geroomde spinasie en ‘n aartappelgebak in ‘n tiemie-roomsous. Hemels!

Die skildery, Vuur, wat onlangs verkoop is.

Die maal word afgerond met ‘n pragtige ringvorm vanielje-panna cotta met maraschinokersies, aarbeie, bloubessies en ‘n bloubessie-coulis, waarvan almal twee keer skep.

Danksy beurtkrag is ons op kerslig aangewese. ‘n Feestelike atmosfeer met goeie geselskap, wyn uit die kontrei en Lindy se kunswerke wat die skadu’s ophelder, laat dit voel of ons in ‘n Rembrandt-skildery kuier.

Vanielje panna cotta met aarbeie, bessies en maraschino kersies.

“Die vier basiese elemente fassineer my en in my kuns fokus ek eerste op vuur. Dit voel vir my of dit juis nou ook relevant is,” sê sy met ‘n sagte glimlag. Met die wêreld in ’n sosiale, ekonomiese en ekologiese warboel, knik ons instemmend saam. Lindy het tydens grendeltyd een van haar grootste werke in die vuur-tema verkoop, wat wonderlik is.

Haar kop staan Citrusdal toe, waar sy beplan om meer te skilder. Met vingers wat sedert kleintyd groen spruit, kan Lindy nie anders as om skoonheid te skep nie – uit die grond, op ‘n bord of teen ‘n doek.

Die vars kombinasie van twee bekende kruie verras op die tong.

JOGURTDOOPSOUS – VINKEL EN KOLJANDER

Bedien 6
Voorbereidingstyd: 10 minute

Bestanddele:

  • 300 g dubbelroom Griekse jogurt
  • 2 g sout
  • 3 g lemoenskil
  • 100 g vinkelloofblare of knol, gekap
  • 10 g koljanderblare
  • 10 ml olyfolie

Voorbereiding:

Plaas al die bestanddele in ʼn menger, meng en bedien koud.

Val-van-die-been Griekse lam wat met tamatie, uie en kruie gerooster word.

LAMSBLAD OP DIE GRIEKSE MANIER

Bedien 6 mense | Kooktyd: 5 uur of meer

Bestanddele:

  • 1,5 kg lamsblad
  • 250 g vars tamaties
  • 2 groot wit uie
  • 4 lourierblare
  • 5 huisies vars knoffel
  • vars roosmaryn na smaak
  • 50 ml olyfolie
  • 2 vars suurlemoene
  • 5 ml paprika
  • 3 ml origanum
  • 200 ml semi-soet witwyn
  • 100 ml bief- of skaapaftreksel
  • sout en peper
  1. Vryf die vleis goed met sout en peper na smaak.
  2. Plaas die vleis in ʼn oondskottel en braai ongeveer 10 minute aan ʼn kant in ʼn warm oond van ongeveer 220 °C om vinnig bruin te word en te seël.
  3. Haal die vleis uit die oond en plaas eenkant. Drup van die olie in die bakskottel en voeg die helfte van die volgende by: uie wat in skywe gesny is, lourierblare, roosmaryn, oreganum, paprika, suurlemoenskywe, tamaties wat in skywe gesny is en die knoffel.
  4. Plaas nou die vleis bo-op.
  5. Drup van die olie oor die vleis en plaas die res van die bestanddele bo-op die vleis, behalwe die suurlemoen.
  6. Druk die oorblywende suurlemoen se sap uit oor die vleis. Verwyder die witvleis en pitte van die suurlemoen en plaas die skil bo-op die lamsvleis.
  7. Voeg die biefaftreksel en wyn by en plaas die deksel op.
  8. Bak die vleis in ʼn oondskottel met die deksel op teen 160 °C vir 5 uur of meer. Maak van tyd tot tyd seker dat die vleis nie droogbak nie. Haal die lamsvleis uit die oond en laat dit rus vir 20 minute met die deksel op. Plaas dit dan terug in die oond teen 200 °C om te verbruin, maar wees versigtig dat dit nie brand nie.
  9. Hierdie gereg kan ook oor die kole voorberei word. Begin met ʼn warm vuur om die vleis te verseël en sorg dat die kole gereeld aangevul word.

Eienaar: Lindy Aronowitz | Besigheid: Zooop gastehuis en deli | Area: Caledon, Wes-Kaap, Suid-Afrika | Kontak: admin@zooop.co.za

Filed under: Farm to Fork

by

Bianca thrives in the space where words and food intersect, preferably while she’s munching on a delicious snack somewhere on a dusty back road. As the founder of Feedback Food Redistribution in 1999 – an organisation that redistributes unused food to disadvantaged communities – and then as Food and Wine Editor of the glossy Condé Nast House & Garden a decade later, she is all too familiar with the extremes at the opposite ends of the food chain. Besides writing for newspapers, magazines, digital media, television and films, she is also a former restaurant critic on TV and co-presenter of a food program on VIA.

Leave a Reply

Your email address will not be published.