Woorde: Clifford Roberts Fotografie: Michel Dei-Cont en Forest Friends Urban Farm
Dis weinig dat ‘n Grond tot Mond-storie ’n mens na ‘n doodgewone woonbuurt neem. Ek en Mike het die WhatsApp-plekspeld met agterdog gevolg en sou daarsonder seer sekerlik omgedraai het.
Maar wraggies, daar kom ons toe te staan voor ‘n hek op die kruin van Vredenburg se graniet-koppe by die ingang na ‘n 1 ha mikro-boerdery. Hiervandaan verskaf Louis Kuys ‘n verskeidenheid vars slaaiblare aan, onder andere, Pick n Pay, Food Lover’s Market en ‘n plaaslike restaurant.

WATER AS GROEIMEDIUM
Die kern van Louis en Nadine Kuys se Forest Friends Urban Farm onderneming – akwaponika – is veral ongewoon vir dié area. Dié stelsel is ‘n geïntegreerde kombinasie van die meer bekende akwakultuur of visboerdery, en hidroponika, waar plante sonder die gebruik van grond gekweek word.

Onderdak word varswater tussen visdamme en lang trôe vol slaaiplantjies op drywende platforms gesirkuleer. So ontvang die plante natuurlike bemesting, en die boer produksie van hoë kwaliteit en digtheid in sy gewasse.
Dié stelsel is ’n geïntegreerde kombinasie van die meer bekende akwakultuur of visboerdery, en hidroponika, waar plante sonder die gebruik van grond gekweek word.
Die metode word alreeds enkele dekades lank in Suid-Afrika gebruik. ‘n Stelsel soortgelyke aan dié van Louis, maar aansienlik groter, word ook vir Vredenburg beplan. Dit is ‘n gemeenskaplike projek en Louis gaan dit bestuur, vertel hy.
’N LEWE UIT WATER
Louis neem ons op ‘n toer deur die plaas, iets wat hy gereeld vir nuuskierige besoekers doen. Dit het alles vir hom uit nuuskierigheid begin, gesels hy al stappende. Hy was tot onlangs ‘n kommersiële duiker wat oorsee gewerk het en hy het oor die jare planne beraam vir wat hy gaan doen as hy die dag nie meer gaan duik nie. Hy wou naby aan sy vrou en jong dogtertjie wees; sy eie baas wees; op klein skaal, en op ‘n omgewingsvriendelike en volhoubare wyse boer.

Sy eerste groot stap was om ‘n stuk grond van 45 ha in Hopefield te koop, maar dit was net te groot en te ver van sy beoogde mark, sê hy. Hy wou ook spesifiek in ‘n woongebied wees. Toe begin hulle in Vredenburg kyk. Die grond bo-op die kop, ‘n klipgooi van Vredenburg se kommunikasietoring af wat ’n mens om een of ander manier net nie kan miskyk nie, was ideaal. Hulle het dit in 2016 gekoop. “Ons het gehou van die kop se groot graniet-koepels wat in die tuin uitsteek,” sê Louis.
SIMBIOSE OP ALLE VLAKKE
Die erf is in verskeie aktiwiteite opgedeel. (Louis verwerp later my voorstel van ‘n dagga-plantasie weens sy weersin aan monokultuur.) Die hoofgebou is in twee gedeel; een kant is die nuwe koffiewinkel met ‘n splinternuwe kinderspeelplek wat onlangs oopgemaak het, en die ander is hul woonhuis. Verder weg op die erf is daar ‘n pottebakker, wat slegs reënwater vir sy produkte gebruik; ‘n kraaltjie vir twee boerbokke en ‘n handjievol hoenders; ‘n uitgelegde tuin met voetpaadjies; ‘n gebou vir gasteverblyf; ‘n tonnel met groente vir huishoudelike gebruik; en die geboue wat die akwaponiese stelsel huisves.

WATERBESPAREND
Laasgenoemde woord moontlik gemaak deur 75 000 liter water wat slegs nou en dan aangevul moet word. “In die somer sit ons ongeveer 250 liter by om vir verdamping op te maak,” sê Louis. Hy noem dat een van die grootste nadele van hidroponiese stelsels is dat die water mettertyd vervang moet word. Met akwaponika is dit nie nodig nie en waar water skaars is, soos hier, is dit ’n groot pluspunt.
Hy wou naby aan sy vrou en jong dogtertjie wees; sy eie baas wees; op klein skaal, en op ’n omgewingsvriendelike en volhoubare wyse boer.
Ons betree die visdam-kamer waar ‘n enkele swembadpomp water sirkuleer deur vier tenke van 6 000 liter elk, gemaak van draad en seil soos bogrondse swembaddens. Hier word die visse gevoer. Die damme se spesiale ontwerp veroorsaak dat mis op die bodem vergader, uitgesuig word en deur ‘n reeks filters beweeg om te verseker dat net die nodigste na die plantafdeling langsaan deurvloei. Op hierdie stadium word kalsium, yster en kalium by die water gevoeg, indien nodig.

Die kamer is warm en vogtig; die mure is swart geverf en die dak het deurskynende dakplate om die temperatuur so tropies as moontlik te hou vir die tilapia-visse se gemak. “Dis ‘n fyn balans,” sê Louis. “Ons moes onlangs 300 kg se visse vervang omdat die krag oornag afgeskop het, die pomp gaan staan het en die visse almal versmoor het.”
Dié kon nie verkoop word nie, maar die vismark is wel iets wat hy nog wil ontgin ten spyte daarvan dat verkope in die seekosryke Weskus sekerlik taai sal wees. “As jy tilapia rook, proe dit nes engelvis,” sê hy.

’N SEE VAN PLANTE
Hy lei ons na die aangrensende saal van 10 x 30 m wat vier rye trôe vol drywende plant-platforms huisves. Die temperatuur hier is doelbewus koeler, vir die slaai, beduie hy. Die drywende platforms is van polistireen gemaak en bevat rye gate wat die planthouertjies knus vashou, sodat die blare droog bly, maar die wortels in die water kan ontwikkel. Elke houertjie bevat ‘n mengsel kokosneutbas en perlietkorrels.
Die plante word van saad gekweek en dan in week drie geoes. Die werkspan vir die hele onderneming sluit slegs Louis, sy pa en een werker in.“As onkruid opduik, is dit maklik om te verwyder,” sê Louis terwyl hy ‘n molslaai-plantjie versigtig tussen slaaiblare uitpluk. ‘n Ander pes – muskietlarwe – word deur guppie-visse en ‘n paar paddatjies in die water opgevreet.

“Ons gebruik soms ‘n geïntegreerde pesbeheer-sproei wat onskadelik vir mense is,” sê Louis. Hul grootste peste is motte – die rede vir die elektriese buislig wat jou by die ingang begroet.

VRAAG EN AANBOD
Ek vra hom wat sy grootste leerskool was. “bemarking,” antwoord hy. Alhoewel hy bieg dat baie van sy inligting van YouTube-video’s gekom het, kon hy onmoontlik alles daar leer. “Ons het eers geplant wat ons wou plant, maar daar was geen mark daarvoor nie. Toe besef ons daar’s geen blaarslaai-produsent in ons omgewing nie en dit het ons hierheen gelei.”
Nou gaan daar weekliks 45-55 kg pakke blaarslaai uit. “Soos wat die bestellings inkom, oes en verpak ons. Elke pak hou tot twee weke, so dit is vars.”

Ná elke oes word die slaaie se wortels en stukkies blare vir die bokke en hoenders gevoer, en as groei-medium in die grond by die boerbokke ingewerk. Die diere verskaf die Kuys-gesin van melk, kaas en eiers, asook bemesting vir hul tuin.

Mens kan nie uit die Weskus wegry sonder groot ontsag vir die boere se innoverende aanslag en hulle maak-werk uitkyk nie. Dit laat jou opnuut besef dat vooruitgang nie altyd op die maklikste maniere gebeur nie, maar dat die bevrediging ná beproewing, soms soeter smaak.

Eienaars: Louis en Nadine Kuys | Besigheid: Forest Friends Urban Farm | Area: Vredenburg, Wes-Kaap, Suid-Afrika | Kontak: info@urbanfarmaquaponics.co.za
1 Comment