Farm to Fork, Farm Tourism, farmers
Leave a comment

Plaasparfuum

Woorde: Maryke Roberts Fotografie: Clifford Roberts en Babylonstoren

Die landgoed Babylonstoren, omring deur die Simonsberg, Du Toitskloof en Franschhoekberge, dateer terug na 1692, maar dis die afgelope dekade wat die landgoed as’t ware weer begin blom het. Maryke Roberts het ’n nuwe toer oor die maak van vlugtige olie en seep gaan meemaak.

Die reuke wat jou by die Geurkamer se deur begroet, laat jou sommer onmiddellik ontspan.

Danksy haar kundigheid en liefde vir die Kaaps-Hollandse boustyl, het mede-eienaar, Karen Roos, in 2007 ’n tuin deur die Franse argitek, Patrice Taravella, laat aanlê. Karen het Patrice se werk by die Prieuré Notre Dame d’Orsan in Frankryk te siene gekry en besluit hy is net die man vir die projek.

Vandag is die 3,5 hektaar tuin omring deur die plaas se groentetuine, vrugte- en olyfboorde en wingerde. Dis geïnspireer deur die historiese Kompanjiestuin in Kaapstad wat skepe van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) van vars vrugte en groente voorsien het toe die Kaap die halfwegstasie tussen Europa en Asië was.

BABILONIESE BEGINPUNT

Die plaas het ook ’n noue band met die mitologiese hangende tuine van Babilon wat klaarblyklik in die sesde eeu voor Christus deur Nebukadneser geplant is. Nie ver van die ou plaaswerf af staan die Babylonstoren-koppie wat, soos die Toring van Babel destyds, mense van verskillende tale nader lok.

Vroegoggend neem Liesl van der Walt, die hooftuinier, ons op ’n stappie sodat ons die laventel-, roosmaryn- en roosmalva-velde van nader kan beskou. By kweekhuise en die speserytuin verby; op pad na die Geurkamer, sien ons hoe steggies gemaak en geplant word; hoe iemand dit liefderik natlei.

Die stoom van die distilleerproses ontsnap voor die gebruikte blare verwyder kan word.

Sy vertel dat die Babylonstoren-tuin uit 15 afdelings bestaan wat groentetuine, vrugte, neute, sitrus, bessies, byekorwe, kruie, eende, hoenders, ’n turksvy-doolhof, medisinale tuin en ’n speserytuin insluit.

OERTYDSE OLYWE

Die natuurlike stroompie langs die tuin wat uit die Simonsberg na die Bergrivier vloei, het inheemse wilde olyfbome van honderde jare oud op sy walle, en in hul skaduwee staan meer as 7 000 clivias wat elke September en Oktober vir ’n kleur-ontploffing sorg.

Gravitasie voer water in klein klipvore deur die tuine. Elkeen van die meer as 300 plante is óf eetbaar óf het medisinale waarde en word so organies moontlik en op ’n volhoubare manier gekweek. Die vrugte, groente en kruie word in die plaas se twee restaurante gebruik en word in die hotelkamers as eetbare tafelversierings ingespan.

Die plaas is ’n werkende plaas waar produkte vir die uitvoermark verbou word en huisves ook ’n wynkelder, hotel en spa.

Van die gedroogde roosblare, roosmaryn, laventel en ander kruie wat in die badsout gebruik word.

BOTANIESE BROUSEL

Die Geurkamer is aan die einde van 2018 geopen. Geure van rooibos, fynbos, gemmer en laventel omvou jou as instap. Die span verantwoordelik vir die vlugtige olies doen gereeld eksperimente met ander botaniese bestanddele. Met ons besoek is die eerste distillering van die oggend pas voltooi. Toe Eugene Bezuidenhout die 200 liter vlekvrye staal potketel oopmaak, draai die stoom om sy kop. Dis suurlemoenblare waarmee hulle vanoggend eksperimenteer om te kyk watter tipe olie hulle gaan kry, vertel hy.

Eugene Bezuidenhout laat die suurlemoenblare wat klaar gedistilleer is, uit die potketel na bo kom.
Die distillasieproses duur net ’n uur, anders brand die blare en raak die olie bederf.

“Daar is ’n groot verskil tussen suurlemoenblare en suurlemoenskil,” verduidelik hy. Hy beduie na buite waar kratte vol suurlemoenblare en -takke staan, wat nie na veel ruik nie. Eugene sê die blare moet douvars wees, anders kry hy nie genoeg olie nie en dis eers wanneer jy dit kneus, dat dit die reuk vrystel. Die stoom doen as’t ware die kneuswerk in die potketel.

Eugene is nou ’n jaar daar by die distillering betrokke en het indiensopleiding ontvang. Saam met hom aan die produksiekant is Gavin Hendricks, Levern Louw en Leticia Tromp.

Die drie olies wat Eugene tans distilleer, is roos-maryn, roosmalva en laventel. Die hele tak, blom, blaar en al word opgekap en in die ketel gebruik. Dit word dan styf in die ketel gedruk en die deksel dig verseël. Die stoom onttrek die olie en laat dit in ’n klein glasbakkie drup. Elke distillering duur een uur. Sou hy die botaniese bestanddele langer in die ketel los, begin die blare brand wat nadelig vir die geur en samestelling is.

ELKE MILLILITER TEL

Gavin verduidelik: “Verskillende plante produseer verskillende hoeveelhede olie. Roosmaryn en laventel gee meer, terwyl roosmalva baie minder oplewer. Met eersgenoemde lewer 25 kratte botaniese materiaal ongeveer 15 tot 20 ml olie wat die duur prys verduidelik. Hy beskryf die verskillende maniere om olies te onttrek: koue onttrekking, CO² of stoom, maar noem dat stoom die beste manier is om gekonsentreerde, kwaliteit olies te verkry.

Die gedistilleerde olies word in die seep, rome of badsout gebruik. Volgens Gavin oksideer vlugtige olies mettertyd met hitte en daarom sal die intense geur vir ongeveer 24 maande behoue word.

Gavin is vir meer as drie dekades in die parfuum-bedryf, voorheen by Yardley en toe Charlotte Rhys. Hy het pas by die span aangesluit om die nuwe room-afdeling te behartig.

Ons stap oor na Levern en Leticia wat die seep en balsems maak. Leticia werk al tien jaar op die plaas en het in die wingerde begin. Sy verduidelik dat hulle die outydse seepmaak-metode gebruik, waar alles met die hand gemaak word en die seep oornag stol. “Ons doen alles hier per hand, selfs die etikette word per hand opgeplak. Daar is sorg in elke produk,” sê sy trots.

Levern Louw giet die warm seepmengsel in bakke.
Die seepblokkies word almal ewe groot gesny, maar enige oneweredigheid word met ’n skiller afgeskil en dan as krulle verkoop, wat ideaal is vir wasmasjiene.
Die handgesnyde seep word individueel verpak.

OPREGTE OLIES

Vier olies is nodig vir seepmaak: klapper, olyf, palm en sonneblom. “Die palmolie kom van gesertifiseerde bome; ons gebruik nie verskaffers wat diere se habitat bedreig nie; ook nie waar natuurlike woude uitgekap en onbeheerde hoeveelhede metaangas vrygestel word nie,” verduidelik sy.

Die olyfolie kom van die plaas se 16,8 hektaar olyfboord, wat duskant Simonsberg se hange floreer. Dis beplant met verskeie variëteite: Leccino – sagte, subtiele kruiegeure; Frantoio – ’n sterk groen ondertoon; Coratina – grasagtig met ’n ondertoon van groenamandel en kaneel; Coratina – met ’n lekker peperagtige smaak; FS-17 – spesifiek uitgesoek vir olie; Mission – meer geskik as eet-olyf, maar lewer ook ’n delikate olie; Don Carlo – meer geskik vir olyfolie met ’n baie vrugtige aroma; Kalamata – hulle gebruik dit slegs as eet-olyf, maar dit lewer ’n delikate olie; en Nocellara – slegs as eet-olyf op Babylonstoren. Die plaas het sy eie olyfpers en gebruik koue ekstraksie om ekstra suiwer olyfolie te maak.

Die ander drie olies kom van plaaslike verskaffers in die omgewing.

Die vier olies word gemeng en dan verhit na tussen 35 en 45 grade Celsius. “Met seepmaak is temperatuur en presiese hoeveelhede baie belangrik,” vertel sy. Wanneer dit die regte temperatuur bereik, voeg Levern seepsoda en water by. As die verskillende olies nie in die regte hoeveelhede gemeng word nie, kry jy nie die gewenste tekstuur in die seepmengsel nie en sal dit nie behoorlik stol nie.

Wanneer die mengsel goed deurgeroer is, toets Levern dit. “Ons kyk of die mengsel sulke spore maak – amper soos slakspore – en dan weet ek dis gereed.” Daarna kom die vlugtige olie by, wat aan die seep sy geur sal besorg. Elke 1 liter oliemengsel kry 19 ml vlugtige olie. Die mengsel verdik baie gou sodra die olies bygevoeg word en daarom moet dit vinnig in ’n groot wit plastiekvorm gegiet word waarna die lugblase uitgestryk moet word voor dit met ’n kombers toegemaak word. Sy lag en sê dis kompleet soos ’n baba wie se winde uitgevryf moet word. Dit staan vir ’n hele dag om behoorlik te stol.

Terwyl ons beurte kry om die vaalwit seep te sny, vertel Levern: “Ons het onsself van verskillende ander vertakkings op die plaas tot hier opgewerk. Met Gavin wat bygekom het, gaan ons nog meer projekte aanpak. Dis heerlik om met die seep en lekker geurige olies te werk.”

Sy moedig almal wat die toer neem aan om hul eie seep tuis te maak. “Dis ’n lekker geskenk om aan iemand te gee.” Die gewilde seepmaak-werkswinkels word twee keer per jaar vir die publiek aangebied. Volgende jaar s’n vind op 3 Februarie en 18 Augustus plaas.

SMEER SALF AAN

Eenkant staan klein blikhouertjies reg; hul deksels netjies op ’n trollie gerangskik. Leticia staan nader. Dis balsem wat jy met jou vingerpunte aansmeer. Dit sluit onder meer lipbalsem, insekweerders en kinderbalsem in. Die bestanddele word geweeg en in ’n pot geplaas totdat dit smelt waarna dit na ’n houer oorgeplaas word waarin dit oornag bly om te stol.

Die span wat agter die skerms in die Geurkamer werk en seep, olies, balsem en ander produkte maak, is van links, Levern Louw, Leticia Tromp, Gavin Hendricks en Eugene Bezuidenhout.

Ek vra uit oor die interessante masjien in die een hoek en hoor dis waarmee hulle in die toekoms byewas en heuning vir produkte gaan bewerk.

Toe ons uurlange toer verby is, stap Levern saam met ons na die Geurkamer, waar ons kan kies of ons ons eie badsout, lyfskrop of lyf- of gesigmasker wil meng. Dis iets wat dagbesoekers kan doen en kos tussen R85 en R120.

Christelene Agenbach help my om badsout te maak: magnesiumsout as basis, rooibostee – wat op die plaas teen die hange van Simonsberg groei – gemmer, gerasperde lemmetjieskil, roosblare en ’n skeutjie laventelolie word bygevoeg. My man kies roosmaryn-olie.

Besoekers kan hul eie badsout meng met magnesiumsout as basis, waarby rooibostee – wat op die plaas teen die hange van Simonsberg groei – gemmer, gerasperde lemmetjieskil, roosblare en ’n skeutjie laventelolie gevoeg word.
Besoekers kan hul eie gesig- en lyfmaskers meng.
Die finale badsout-mengsel met baie roosblare bo-op, wat ek in my houer skep.
Toe ons uurlange toer verby is, stap Levern saam met ons na die Geurkamer, waar ons kan kies of ons ons eie badsout, lyfskrop of lyf- of gesigmasker wil meng. Ons kies badsout met magnesiumsout as basis, rooibostee, gemmer, gerasperde lemmetjieskil, roosblare en ’n skeutjie laventelolie. My man kies roosmaryn-olie.

Teen die muur agter die tafel waar die kleimaskers gemeng word, is ’n reuse kaart van die plaas, net om weer ons geheue te verfris oor waar elkeen van die lieflike bestanddele vandaan kom.

GOED OM TE WEET

Die toegangsfooi tot die landgoed is R20 vir volwassenes en R10 per kind oor naweke; weeksdae R10 per persoon. Dra gemaklike stapskoene, ’n sonhoed en water vir die somer en in die winter is ’n sambreel en waterstewels ideaal.

Daar is daagliks om 10:00 ’n begeleide toer deur die tuine waar besoekers die vars groente en vrugte kan ruik, pluk en eet.

Maandag tot Vrydag om 11:30 regdeur die jaar word ’n spesiale toer aangebied wat wissel tussen die vetplante, broodbome of die helende tuin.

Die vlugtige olie-toer word tans net vir hotelgaste aangebied, maar die Geurkamer is oop vir die publiek en dis waar jy jou eie produkte kan meng, of van hulle uitgebreide reeks kan koop.


Eienaars: Koos Bekker & Karen Roos | Besigheid: Babylonstoren | Area: Franschhoek, Wes-Kaap, Suid-Afrika | Kontak: www.babylonstoren.com

Filed under: Farm to Fork, Farm Tourism, farmers

by

Maryke is a prizewinning journalist whose articles have been published countrywide. She has written about a wide range of subjects including books, actors, theatre, food, wine and travel. When she pulls over to open a farm gate and shakes the farmer’s hand, the anticipation rushes through her veins. “Agriculture is more than the production of food – it is the heart and soul of our country. And this is where you’ll discover tales of true grit,” according to her.

Leave a Reply

Your email address will not be published.