Woorde: Danie Keet Fotografie: Michel Dei-Cont
Tussen die Tsitsikamma- en Kougaberge in die Suidoos-Kaap, lê Joubertina, die Langkloof se belangrikste dorp. Die grond in hierdie omgewing word al sedert 1760 vir landbou bewerk en vandag is dit veral bekend vir appels en pere, maar deesdae ook vir ‘n verskeidenheid ander soorte sagtevrugte.

Die produsente van Dutoit Agri het geen bekendstelling nodig nie, veral weens hulle omvangryke boerderybedrywighede in die Ceres-omgewing.
In sy gemaklike kantoor langs die aanleg in Koukamma verduidelik Johan Kotze, die groep se direkteur vir die Oos-Kaap, hoekom hulle na hierdie gebied toe uitgebrei het: ”Ons het op 1 Februarie 2005 amptelik twee besighede hier gekoop – die plase van Hendrik Kritzinger op Misgund en Louterwater, en ‘n ander besigheid, South Cape Produce, in George.” Die transaksie het ook ‘n pakhuis ingesluit. In 2010 het Dutoit Agri ook vir JG Stewart and Sons met twee plase, ‘n pakstoor en verkoelingfasiliteite gekoop.
PLASE NET WAAR JY KYK
“Die hoofrede was om groei in ons appelbesigheid se klantediens te verseker. Ook om ons risiko’s af te dek en nie alle produksie in een area te konsentreer nie deur dit oor ‘n wyer gebied te versprei. Selfs hier in die Langkloof is ons plase wyd verspreid, van Jagersbosch, waar ons bloubessies verbou, tot die plase by George – ‘n afstand van ongeveer 200 km.”
Die Dutoit Groep is 150 jaar gelede deur die patriarg, Gys (I) du Toit, op die plaas Kromfontein in die Koue Bokkeveld begin toe hy weidingsregte daar bekom het. Sedertdien het die besigheid verder uitgebrei en onder oom Gys (OOO) en Jan-Linde du Toit het die uitbreidings behoorlik vlamgevat. Die eerste vrugte is reeds in 1922 op Kromfontein geplant. In 1973 is ‘n sentrale pakhuis op Ceres gebou en Dutoit as handelsmerk geregistreer.
“Met die uitbreiding wil ons verseker dat ons volhoubaar vrugte van hoë gehalte aan ons klante, plaaslik en oorsee, kan verskaf. Ons het nog beskikbare grond en water wat ons as deel van ons groeistrategie wil ontgin. Hiervoor sal ons ons bestaande boorde deurlopend evalueer en dan sal ons saam met die produsente oor hervestiging besluit om optimale produksie in die toekoms te verseker,” beskryf hy.
AS DIE APPELS NIE VAT NIE
“Ons kernbesigheid bly appels, maar waar grond nie daarvoor geskik is nie, sal ons dit met pere en steenvrugte aanvul. Ons beproef kiwi’s saam met ander produsente en die eerste proefaanplantings is reeds gedoen met ‘n verwagte eerste oes binne twee jaar,” vertel Johan.

Oorspronklik was daar ses koelkamers by Koukamma, waarna daar twee bygevoeg is en verlede jaar nog vier. Die groep bestuur nou 12 boerdery-eenhede asook ‘n bemagtigingsplaas waarvan die 134 werkers volle aandeelhouding het. Die bemagtigingsbesigheid, onder die naam Milau Boerdery, bestaan uit twee plase, Lorita en die Misgund-landgoed.
“Ons mentor die boere van Milau Boerdery en help waar ons kan. Ons deel ook die verpakkingsaanleg en staan hulle met administrasie by,” sê Pieter.
Pieter is verantwoordelik vir die bestuur van die hele produksieproses: vandat die vrugte op die plase geoes word, dan daarvandaan by die pakstoor aankom, verpak word en dan versend word, tot waar die regte vrugte op die regte tyd by spesifieke markte uitkom.
En stap jy die pakhuis binne, verstom die omvang van hierdie aanleg ‘n mens. Met 39 pakbane en -stasies, outomatiese, elektroniese kwaliteit-sorteerstelsels, kartonne wat op lugspore van hul bergplek na die sorteertafels gevoer word en ‘n magdom mense wat soos miere werk, besef jy watter doeltreffende bestuurstelsels hier in plek is.

40 FOTO’S PER SEKONDE
“Elke paktafel hanteer sowat 18 000 appels wat eers deur die elektroniese sorteerder gaan. Die masjien neem 40 foto’s per sekonde van elke vrug om die gehalte te bepaal. Dan word die vrugte outomaties volgens kwaliteit, kleur en grootte verdeel om na die regte pakstasie te gaan waar die pakkers dit in kartonne plaas. Ons hanteer normaalweg tussen 500 000 en 600 000 appels per dag, maar in die hoë seisoen het dit al tot soveel as 800 000 per dag gestyg,” verduidelik hy met trots.

“Die pakkers pak dan ‘n spesifieke aantal appels in die kartonne of sakkies – dit wissel tussen 70 en 240, afhangend van die grootte van die vrugte en die mark waarvoor dit bestem is. Die Asiatiese markte verkies kleiner produkte, terwyl Russiese en Europese verbruikers meer van groter vrugte hou. Die outomatiese sorteerder draai ook die appels sodat hulle reg rondom met die infrarooikameras gefotografeer kan word. Pere word eers dwars gedraai voordat dit gesorteer word.”
Hulle produksie word die hele tyd individueel gemonitor. Met ons stelsel kan ek presies sien hoeveel appels elke pakker pak en as iemand dan baie minder as die gemiddelde paktempo pak, kan ons dit aanspreek en regstel. Daar is soms ‘n verskil van tot 30% tussen die vinnigste en stadigste pakkers.
Deur die stelsel reg te bestuur, kan ek deurentyd seker maak dat die appels eweredig op die pakstasies versprei word sodat al die pakkers besig bly. Hoe meer hulle op ‘n dag pak, hoe meer verdien hulle. Hierdie produktiwiteitsmeting is belangrik vir die optimale uitset van die aanleg en ook om te verseker dat almal ‘n goeie inkomste verdien. In die hoë seisoen het ons tot 500 mense in die drie aanlegte in die Oos-Kaap waarvan twee ook nagskofte het.
En ons personeel is so gemotiveerd dat dié wat nagskof werk, dikwels ook op die bessieplaas gaan help oes. Deur optimale werksverdeling en bestuur verseker ons dat die meeste mense hier vir ‘n langer periode van die jaar werk het en so ‘n inkomste verdien,” vertel Karl.
BLOUBESSIES IN DIE LANGKLOOF
Dutoit Agri het ook bloubessies na die Langkloof gebring en hulle het tans 10 ha wat in produksie is.
Erik Fourie bestuur die verbouing van hierdie produk met hoë opbrengs en hy is in beheer van sake op die plaas by Jagersbosch. “Ons is nou in ons vyfde seisoen en het al ’n opbrengs van 16 t/ha verwesenlik. Die siklus van hierdie vrugte is feitlik ook heeljaar, maar ons oes hoofsaaklik tussen Augustus en Desember. Die snoeiseisoen duur dan van Desember tot middel-Januarie om optimale nuwe groei op die bessieplante te kry sodat ‘n goeie drag in die volgende seisoen verkry kan word,” beduie hy.
“Van Mei tot September blom die plante en ondersteun ons die groeiproses deur gebalanseerde voeding en water te voorsien. In hierdie tyd is bestuiwing van kardinale belang vir vrugvorming en daarvoor gebruik ons ‘n kontrakteur wat byekorwe in die boorde kom neersit.


Ons gebruik tussen 5 en 8 korwe per hektaar. ’n Byekontrakteur kom ruil die korwe elke twee weke om sodat die bye nie oorwerk word nie. Die laaste ding wat ons gedurende hierdie tydperk wil hê, is swerms lui bye. Die bye is noodsaaklik vir bestuiwing en kruisbestuiwing van die bloubessies en verseker daardeur goeie vrugvorming en natuurlik goeie oeste,” sê Erik.
Die bye wat gebruik word, is gewone heuningbye, maar hulle is tog taamlik aggressief as die plukspanne in die boorde kom. Volgens Erik hou hulle dan maar altyd antihistamiene teen bysteke byderhand.
“Ons probeer ook om die sowat 40 korwe wat in elke blok geplaas word, weekliks tussen die blokke om te ruil. Die kontrakteur kom haal die bye elke maand of twee uit die blokke en neem hulle terug na die fynbos-omgewing waar hulle kan rus.”

Tans is daar 2 blokke bloubessies op Jagersbosch. Die ouer blok is in 2015 aangeplant en het ongeveer 24 700 bloubessiebome, terwyl die nuwer blok wat in 2019 gevestig is, sowat 18 700 bome het. Ongeveer 4 444 plante word per hektaar aangeplant. Hulle hoop om in die nabye toekoms die bloubessieboorde tot sowat 40 ha uit te brei.

Elke bloubessieboom kan tussen 4 en 5 kg bessies per seisoen lewer as hulle jonk en volwasse is, terwyl die ouer blok se bome tussen 2 en 3 kg dra. Daar word verwag dat die jonger boord in die nuwe seisoen sowat 40 ton bloubessies sal dra, terwyl die ouer blok waarskynlik sowat 85 ton sal lewer.
KOEL BLOUBESSIES
“Die bessies is arbeidsintensief en moet so min as moontlik hanteer word. Nadat die bessies met die hand gepluk is, word dit in die boord geklassifiseer en moet dit binne ‘n uur in ‘n koeltrok geplaas word waar die temperatuur tussen 1 °C en 4 °C gehou word. Dit word dan in die koelkamers by Koukamma geberg en een keer per week na Robertson aangery waar dit verder verpak en versprei word.”
Erik verduidelik dat elke plant direk in die grond geplant word en nie in potte soos sommige ander boere nie. Die plante het dan ‘n leeftyd van ongeveer 15 jaar, wat help om optimale produksie te verkry. Drie kultivars, Julieta, Magnifica en Magica is hier onder nette geplant. Die sykante van die boorde is ook met nette toegemaak om voëls uit te hou en natuurskade te beperk. Die nette wat oor die bloubessieboorde gespan word, sny sowat 40% van die son uit terwyl die synette sowat 20% afkeer.

Al die boorde word met ‘n drupstelsel benat en die pypstelsel word ook gebruik om voedingstowwe na die plante te versprei. Deeglike spuitprogramme teen swamme en insekte word deur die jaar gevolg.
“Die bloubessiemark is tans baie gunstig en ons boorde hier is ideaal geleë omdat dit nie ryp kry nie. Die suurgehalte van die grond is ook net reg en ons verwag dat hierdie deel van ons bedrywighede nog baie gaan groei,” sê hy.
“Bloubessies is vrugte wat die laaste paar jaar baie gewild geword het, hoofsaaklike vanweë die hoë vlakke van anti-oksidante wat hulle bevat. Dit is baie gewild vir gebruik in gesondheidsprodukte en alledaagse eetgoed soos jogurt, nagereg, terte, sappe en selfs in roomys. Dit word ook in ‘n verskeidenheid diëte aanbeveel danksy hierdie positiewe kwaliteit en mense wat inkopies doen, haal die pakkies maklik van die rakke af. Dit is ook ‘n gewilde item in die kospakkies wat ouers vir hul kinders skooltoe insit – weer oor die vrugte se hoë voeding- en gesondheidswaarde,” glimlag hy.

“Daarmee saam is die kapitale opbrengs van die bessies per hektaar baie hoog – heelwat hoër as die opbrengs uit die appels en pere wat ook goed in ons streek vaar. Die vestigingskoste van ‘n hektaar bloubessies is egter heelwat hoër as dié van appels en pere, hoofsaaklik weens die infrastruktuur soos die nette wat opgesit moet word. Die voorbereiding van die grond verg ook groot insetkoste aangesien dit een van die belangrikste fasette van die kweek van suksesvolle bloubessieboorde is. Die suurgehalte van die grond is baie belangrik en die bedekking, oftewel onkruidmatte, wat gebruik word om onkruidbeheer op die rye toe te pas, is taamlik duur,” wei hy verder uit.
“In die seisoen se piektyd het ons ongeveer 120 werkers wat met die oes help, en, soos almal weet, is arbeidskoste een van die grootste uitgawes van enige boerdery. Maar as die bloubessies ryp is, moet dit gepluk word en dan het ons groot spanne mense nodig,” sluit Erik af.
Eienaars: Die Dutoit Groep | Kontak: www.dutoit.com